Ek sit vandag weereens by ’n koffieshop, maar my fokus het verskuif van koffie na sjokolade…
Ek is een van daardie ouens wat daarvan hou om op ʼn nuwe, skoon blaadjie te begin. As ek met nuwe voornemens ʼn splinternuwe projek aanpak, moet dit liefs op die eerste dag van ʼn nuwe jaar begin. Maak dit op die derde of die vierde dag, sodat die nuwejaarsjolyt net eers gaan lê. Of dalk op die eerste dag van Februarie, want Januarie is ʼn dol maand en almal kom op verskillende tye terug van vakansie af – nie ʼn goeie maand vir besigheid nie. As Februarie se eerste weeksdag op enige ander dag as ʼn Maandag begin, is dit beter nog om te wag vir die eerste dag van die week – dan is dit ʼn vars nuwe begin.
Na ʼn heerlike en romantiese uiteetaandjie, het ek en my vrou vir mekaar gekyk en gebieg dat ons té lekker en té veel geëet het. Die magies is vol, die ogies wil toe val, ons is lui, pappa! En iewers vanaf daardie heerlike, salige gevoel van vergenoegdheid, het ons die dom idee in ons koppe gekry om in die middel van die jaar te begin om gesonder te leef en te begin oefen.
Ek het geweet dat dit ʼn fout was. Die kunstenaar van die Charlie Brown strokiesprente, Charles M. Schulz, het altyd gesê: “Exercise is a dirty word. Every time I hear it I wash my mouth out with chocolate.” Ek deel sy sentiment.
Die voornemens was om met woord en daad vas te hou aan die beleid dat dit nooit te laat is om te begin nie, maar na gistermiddag se matige draffie om die blok – om op te warm, voel ek dat alles te laat is. Ek voel dat dit ʼn baie beter plan sou wees om net eers te wag dat die Desembervakansie en Kersetes en Oujaarsaand agter die rug kom, voordat ʼn mens met so ’n verspottigheid begin.
Om op die korrekte manier te begin het ons besluit op ʼn detox vir ʼn week lank. Daarna sal ons dan begin met ʼn gewone, gesonde leefstyl. Die detox bestaan uit ʼn vrugte- en groentedieet, met gestoomde aartappel en vis, saam met water. Dis al.
Dis dag drie en ek breek reeds die tiende gebod. Ek sit in die koffieshop en begeer ʼn sjokolademuffin.
Waarom vertel die fiksheidsinstrukteurs nooit vir ’n mens die volle waarheid nie? Waarom staan hulle altyd net daar met ’n koel botteltjie water in die hand, ’n stywe skibroek en ’n glimlag wat sê: Ja, jy gaan bars! Hoekom begin hulle nie deur hulle leeghoofdige slagoffers sagkens in te wy nie? My bene is só seer. Elke trappie wat ek uitklim skel my uit: “Jy wou mos! Jy wou mos!” Ek hardloop niks minder as tien keer op ʼn dag badkamer toe van al die water drink nie, nie te praat van die een of twee keer in die nag nie. En ek is lief vir my slaap – ’n lekker diep, onverstoorde slaap.
Tog moet ek erken dat ek effens ligter voel. Ja, ek voel selfs effens gesonder van verstand ook. Maar daar lê nog vier dae voor...
Ek hou julle op hoogte!
Wysheid op ’n pakkie suiker: “If I don’t feel confident about my body, I’m not going to sit at home and feel sorry for myself and not do something about it. It’s all about taking action and not being lazy. So you do the work, whether it’s fitness or whatever. It’s about getting up, motivating yourself and just doing it.” – Kim Kardashian
Pierre Vee