
In ’n gesin met vyf kinders is Desiré die jongste. Haar drie sussies en boetie speel egter ’n belangrike rol in haar lewe en het deur die jare al ontsettend baie vir haar beteken.
Maricia Froneman (troetelnaam: Ousus), 38, prokureur en dosent
Toe Desiré “haar verstand” begin kry het, was haar oudste sussie (tien jaar ouer as sy) ’n tiener. “Ek het Maricia op ’n troontjie geplaas en alles wat sy gedoen en gesê het, was cool. Vandag dink ek steeds sy is pragtig, baie snaaks, ’n goeie skrywer en mense hou daarvan om by haar te wees.” Desiré onthou hoe Maricia ’n skreeusnaakse toespraak vir haar redenaarskompetisie geskryf het toe sy in graad drie was. Die tema was “As ek eendag groot is” en die invalshoek wat hulle gebruik het, was: As ek eendag groot is, wil ek (fisies) gróót wees. “Dit was so oulik en dit het daaroor gegaan dat ek eendag vet wil wees. Dat ek en my man ‘Blokkie en Stokkie’ genoem sal word en ek al my klere by Rent-a-Tent sal huur. Maricia het my afgerig en ek het die Bloemfontein-skolekompetisie met daardie toespraak gewen! Dit was een van daardie oomblikke wat ek altyd sal onthou – toe ek iemand wat ek so opgehemel het, kon afbring tot op my vlak en haar trots kon maak.”
Toe Maricia se kinders, Katinka en Alexander, gebore is, was Desiré op haar beurt soos ’n ousus. “Ek het my matriekhuiswerk gedoen met die tweejarige Kattie wat met my penne teken en my skoene aantrek. Dalk het sy aan my gedink soos ek altyd aan Maricia gedink het.”
Helouise Froneman (troetelnaam: Mina), 34, sielkundige in die polisie
Na Helouise, wat ses jaar ouer as Desiré is, gaan sy altyd met haar probleme. “Sy kan rustig wees wanneer die situasie dit vereis, maar by ’n partytjie is sy the life of the party en as sy jou moet opbeur, kan sy jou fisies optel en in die kar boender. Soos die keer toe ek op universiteit met ’n kêrel uitgemaak het en sy my kom haal het. Ons twee het by ’n plekkie hier naby gaan bly vir die naweek, die hele tyd Tree 63 se Alright kliphard gespeel en oor alles gepraat wat ons pla. Ek sal dit vir altyd onthou.”
Op haar beurt vertel Helouise: “Ek onthou toe Passie uit haar koma ontwaak het, hoe verheug en verstom almal was. Daar was soveel mense om haar hospitaalbed, hoewel net twee mense toegelaat is. Sy wou praat, maar kon nie, want daar was ’n pyp in haar keel. Eindelik het sy my nader geroep en gevra dat ek asseblief moet kyk of sy onderklere aanhet. Ek het probeer verduidelik dat dit die laaste ding was waaroor sy bekommerd hoef te wees, maar tevergeefs! Vandag, as trauma-sielkundige, fokus ek hoofsaaklik op die klein, praktiese aspekte tydens ’n krisis, want dit is juis dít wat die groot verskil maak.”
Michelle Harmse (bynaam: Michie), 30, arbeidsterapeut
Desiré meen: “Ek dink Michelle is die perfekte white picket mens. Sy weet hoe om haarself te present en is sosiaal baie intelligent. Sy kan haar omgewing en atmosfeer aanvoel en dan reageer soos sy moet. Sy is baie liefdevol en versorgend en dink aan goed waaraan ek nooit sal dink nie. Soos wanneer een van ons ‘af’ voel en dit aan my ma noem, sal Michelle dit te hore kom en net by die huis opdaag met ’n bord kos. Sý is altyd die een wat uit haar pad sal gaan om seker te maak die res van ons is oukei. Sy is die ‘normale een’ van ons klomp, die staatmaker.”
Michelle onthou: “As tieners het ek en Desiré altyd die vermoë gehad om te lag wanneer dit nie noodwendig vanpas was nie. Ons het geweet wanneer om nie vir mekaar te kyk nie, want as ons eers begin lag het, was dit verbý!” Hulle het byvoorbeeld eendag by die kerk ’n buitediens gehad en ’n duif het effens té na aan ’n ouer tannie voor ons gevlieg. Sy het haar boeglam geskrik en dié twee moes sukkel om nie mekaar se oog te vang nie! Op skool was hulle verhouding soms vuur-en-vlam, lag Desiré, maar vandag is sy en Charl, haar man, klein James se peetouers. “Michelle is ’n gebore ma. Ek onthou een aand toe Michelle vir James opgepas het en ek besig was met Proesstraat. Toe ek haar later die aand vra: ‘Is dit ’n erge gesukkel?’ het sy vir my ’n foto gestuur van hom – uitge-pass op die bed soos ’n hoender-flattie!”
Michael Manthey (bynaam: Broerie), 29, meganiese ingenieur
“Michael het ’n droë humorsin en is baie slim. Op universiteit het vier van ons in ’n stadium saamgebly, en later was net ek en Michael oor. Een aand voor ’n groot eksamen het ’n vriendin oorgekom sodat ons saam kon leer. My boetie besluit toe terstond dat ons die wyn moes oopmaak wat hy vir sy 21st gekry het. Ons het daardie aand só lekker gekuier, poker gespeel en toe ons weer sien, was dit sesuur en moes ons reg wees vir die eksamen! Maar ons het albei ’n A gekry vir die vak, Drama- en Filmkunde (derde jaar). Ek dink om net in my boetie se superslim geselskap te kon wees, het ons so wise gemaak dat ons allerhande nonsens kon uitdink!” As kind was Michael ’n ongeluksvoël. “’n Televisiestel het al op sy kop geval, ’n tuinvurk het in sy knie gesteek en eenkeer het ’n plant in sy hand gesteek, wat so ernstig geword het dat hy ’n noodoperasie moes kry – en gesukkel het om uit die narkose wakker te word!” Hulle is baie geheg aan mekaar. Desiré vertel hoe sy oë ná die première van Roepman bloedrooi gehuil was. Dit was die eerste keer dat sy hom sien huil het vandat hulle grootmense is, en toe sy vra wat fout is, het hy gesê dit het hom geraak en hy was geskok toe hy sien hoe Desiré se karakter haarself gehang het. “Hy was nog altyd beskermend teenoor my. Toe ons saam gebly het en ek mislik was of nie lekker gevoel het nie, sou ek by die huis kom en sjokolade op my bed kry ...”
Dat bloed dikker is as water is beslis duidelik in hierdie hegte gesin. Desiré mag dalk die “baba” in die gesin wees, maar elkeen het steeds sy of haar plek. Almal het ’n spesiale rol wat hulle in die ander se lewens vertolk, soos dit natuurlik ook hoort.
