Quantcast
Channel: Voelgoed
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1496

Verskuif só jou gemaksone se grense ...

$
0
0

Vroue besef deesdae dat werksbevrediging veel belangriker is as ’n vet salaristjek elke maand. Ontmoet drie vroue wat dit gewaag het om uit hulle gemaksone te beweeg en ’n nuwe wêreld te betree.

Nie almal van ons hanteer verandering ewe goed nie. Ons maak liewer ’n klomp reëls om die gewone, die bekende, te beskerm. Soms word verandering op jou afgedwing, soos wanneer jy jou werk verloor. Ander kere is jy dapper genoeg om self iets nuuts te probeer.
Gewoonlik skud verandering jou bestaan so ’n bietjie. Dis ’n ongemaklike proses wat jou rek en strek, jou grense toets en jou meer as een keer laat wonder of jy werklik die regte besluit geneem het. Baie mense is bang hiervoor en wonder of hulle sterk genoeg is om die veranderings te oorleef. Maar wat ’n mens dikwels vergeet, is hoe selfverrykend verandering kan wees. Dit bring selfgeloof, selfvertroue en die wete dat daar niks is wat jy nie kan regkry nie.

Jy kán die wêreld ’n beter plek maak

Zuanne-Marie van der Merwe, 46, het haar huis vir straatkinders oopgemaak.

zuanne.pngEk was 19 jaar oud toe ek as verpleegster in Sunnyside begin werk het. Ek het nagskof gewerk, en saans en soggens werk toe en terug gestap. Ek het elke aand by die straatkinders verbygeloop wat gesit en gom snuif het of dwelms gebruik het. Party van die meisies het hulle lywe verruil vir ’n dak oor die kop, al was dit net vir een aand.
Iemand moes hulle help. Hulle het aan my gewete bly karring en ek het besluit om ’n verskil te maak. ’n Paar jaar later het ek my hart en my woonhuis vir hulle oopgemaak. Ek het ’n niewinsgewende organisasie gestig en my beywer om ’n verskil te maak. Mense het gesê ek is mal, maar gou het ander my Moeder Teresa begin noem.
My huis was hulle enigste heenkome. Die doel van my huis was dat dit as ’n eerste stop sou wees vir straatkinders voor hulle na kinderhuise oorgeplaas word. Straatkinders, wat verwaarlosing en mishandeling ken, vertrou nie grootmense nie. Ek moes hulle vertroue wen en hulle leer om weer van volwassenes afhanklik te raak.
Soms wou ek weghardloop van al die verantwoordelikheid en druk. My geluk is dikwels verdonker deur die eindelose geneul van die kinders en dan ook die bure wat hulle as moeilikheid beskou het, omdat hulle geraas het en soms gesteel het.

Omdat ek na omtrent 34 straatkinders en ons gesin omgesien het, het ons uiteraard min geld gehad vir luukshede. Al wat ons gehad het om te eet, was blikkieskos, sop en brood. Margarien en melk was te duur. Selfs tandepasta was ’n luuksheid en ons het meestal ons tande met sout geborsel. Ek het my hele inkomste, my huis, my motor en selfs my klere vir hierdie kinders gegee. Ek het geen privaatheid of tyd vir myself oorgehad nie. Dit was moeilik.

Daar was baie dae dat ek wou tou opgooi en die kinders terugstuur strate toe. Maar hoe kon ek my eie geluk bo hulle s’n stel? Ek het geweet wat vir hulle in die strate wag: dwelms, mishandeling, vrees, armoede. As ek aan hulle lot dink, het my hart so groot soos Gauteng geword. Te midde van die swaarkry was daar ook gelukkige oomblikke, soos wanneer een my vasdruk en sê: “Lief vir jou.”

Hierdie straatkinders is nou grootmense, en die meeste van hulle is terug straat toe. Dit is amper onmoontlik om hulle te rehabiliteer. Baie is nou sekswerkers en dwelmverslaafdes en party is reeds dood. Baie mense vra my wat die doel van my opoffering was. Hoekom het ek soveel prysgegee vir hulle?
Ek glo ek het God deur die straatkinders ontdek. Hy het my gebruik om mense se oë oop te maak vir hulle probleme. Een kind het ook die kans aangegryp wat ons haar gebied het. Sy het klaargemaak op skool en daarna Engeland toe getrek. Vandag is sy getroud, sy het ’n huis, ’n motor en troeteldiere in Engeland.
Het ek ’n verskil gemaak? Ek weet nie, maar wat ek wel weet, is dat kinders vir twee dekades lank kon kinders wees in my huis. Baie van hulle kom maak nog ’n draai as dit swaar gaan en een van hulle se kinders bly nou permanent by my. Ek neem nie meer straatkinders in nie, maar ons help nog waar ons kan, soos om kos uit te deel. Ek is op die oomblik besig om ’n boek te skryf oor my tyd saam met die straatkinders. Stuur vir my ’n epos na zuanne.marie@gmail.com as jy meer daaroor wil weet.

Jy kán soveel meerbereik as wat jy dink

Tanya van Graan (29) is nie bang om nuwe dinge te probeer nie, want as God vír haar is, wie kan dan teen haar wees?

Ek was al baie dinge in my lewe: model, aktrise, sanger, danser en skrywer. Soms is ek bang om iets nuuts aan te pak, maar ek het uit ondervinding geleer dat ek enige uitdaging kan oorwin deur op God te vertrou.
As ek vir oudisies gaan, ding ek met sowat 300 ander vroue mee wat die rol in ’n advertensie of film net so graag wil hê soos ek. Tog kry ek die een werk na die ander. Ek glo dis omdat ek aan God vashou vir my brood en botter. Ek verdien nie ’n vaste salaris nie, maar maand na maand kom die werk in.
Op die oomblik is ek besig met advertensies en filmrolle vir internasionale sowel as plaaslike kliënte, soos die film Zulu. Die eerste keer toe ek vir ’n oudisie gegaan het, was ek doodbang. Ek was in die onbekende, ver weg uit my gemaksone. Ek het gewonder of ek ’n goeie aktrise is en of die regisseur my enigsins sal oorweeg. En toe kry ek die rol! Dit was vir die program Snitch 2 op M-Net.

Deesdae woon ek oudisies by met die wete dat die regisseur iets in my gaan raaksien waarna hy soek. Selfs al soek hy eintlik na ’n blondine met blou oë, kan my oudisie hom anders oortuig. Nie alle oudisies gaan goed nie. Dan sê ek vir myself: “Iemand in daardie vertrek glo in my. Iemand gaan vir my baklei.” En hoeveel maal hoor ek dan na die tyd (na ek die rol gekry het), dat iemand wel vir my baklei het!
’n Ander sukses is dat ek onlangs ’n rol teenoor Orlando Bloom gekry het. Dit was nie my eerste internasionale film nie. Ek was al in ’n paar internasionale films teenoor groot name. Ek kon so maklik gedink het: Hoekom sal ék nou ’n rol in ’n internasionale film kry? Wat sou gebeur het as ek nie vir die oudisie gegaan het nie? Níks! As jy nie die kans waag nie, gaan niks in jou lewe verander nie.

Mense is geneig om met min tevrede te wees. Ons glo baiemaal nederigheid beteken dat jy net genoeg mag kry, dat jou drome nie te groot mag wees nie. Maar dis eintlik verkeerd. God het soveel rykdom wat Hy vir ons elkeen wil gee, maar jy moet die sprong in geloof waag. Jy moet jouself in ’n posisie plaas sodat God se seën op jou kan neerreën.
As jy in ’n beroep is waarvan jy nie hou nie, wat doen jy om jou droom na te jaag? Skerp jy jou vaardighede op, doen jy aansoek vir die werk wat jy eintlik wil doen?
Ek wil nooit in ’n gemaksone vasgevang word nie. ’n Vaste salaris aan die einde van die maand maak my bang. Ek wil nie weet waar ek oor vyf jaar gaan wees nie, maar ek glo dat daar nog baie opwinding en sukses vir my wag.

Wat is dit wat jou terug hou?

Sarita Burger, kliniese sielkundige sê

Vir jou as huweliksmaat, ma, suster, dogter en vriendin is sekerheid en standvastigheid baie belangrik omdat jou besluite en dade meer mense raak as net jouself. Jou verantwoordelikhede teenoor ander is dalk vir jou belangriker as jou verantwoordelikheid teenoor jouself. Dus skeep jy jouself af. Kort voor lank voel jy onbelangrik en nutteloos en later raak jy sommer depressief. Dis belangrik dat jy nie jouself verloor in wat jy vir ander doen en dan ten koste van jouself begin optree nie.
As jy ’n droom in jou hart koester, is jy dit aan jouself verskuldig om dit te ondersoek. Jy kan natuurlik met jou gesin en familie daaroor gesels. Baiemaal is hulle reg om jou te ondersteun. As jy egter kritiek van die mense naaste aan jou ontvang, raak dit moeiliker om in jou droom te bly glo.

Voordat jy dit laat vaar, gaan sien ’n sielkundige of ’n leefstylafrigter wat jou kan help om oor die slaggate te kom en jou ook kan help om vas te stel of jy droom nie dalk net ’n droom is nie. Nuwe sukses kan jou meer selfversekerd, tevrede en gelukkig laat voel. Dit is goeie nuus vir jou en jou gesin. Moenie te gou tou opgooi en jou drome laat vaar nie. Eendag kyk jy dalk terug en kan jy nie glo wat jy alles bereik het nie!

Category: 
Deel/Stuur

Viewing all articles
Browse latest Browse all 1496

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!