Quantcast
Channel: Voelgoed
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1496

Fredi Nest: Ek was amper dood

$
0
0

Dit gaan goed met Fredi Nest, hy toer steeds die land vol en sing: Het jy ʼn besem en ʼn hoed en ʼn kat gekry ... Maar sy lewe sal nooit weer heeltemal dieselfde wees nie.

Die oomblik toe ek wakker word, is die pyn daar. Ek snak na asem. Doodsbenoud. Beangs. Daar is ’n suurstofmasker oor my neus en mond. Asem diep in ... asem uit, asem in, asem uit. En raak rustig. Ek leef! Alles is oukei. Ek is in die harteenheid van ’n staatshospitaal. Om my is daar meer mense met dieselfde probleem. ’n Indiër, ’n ou omie, oorkant my ’n swart man. Ons almal is bang. Ons lag, ons huil. Daar is trane van vrees, maar daar is ook trane van dankbaarheid vir die genade om nog hier te wees. Skielik tel ek my lewe in minute en ure. Skielik is elke oomblik kosbaar.

Ek herleef daardie oggend, ’n paar dae gelede. Die mooi, helder dag om my terwyl ek en my manne staalhekke vir die nuwe kweekhuis bou. My lewe is ’n lied, dink ek dankbaar. Vier vertonings in drie dae die vorige week. Ek hét die naweek nie lekker gevoel nie. Daar was die vreemde moegheid, die sooibrand, die slegtespysvertering-gevoel. Iets waaraan ek nie gewoond is nie. Ek is eintlik ’n gesonde mens. Of altans, dis wat ek gedink het.

Maar daardie oggend voel ek skielik naar, naar genoeg om te besluit om eerder te gaan lê. Wat gaan met my aan? wonder ek en strompel by die deur in. Ek roep benoud na Sylvia, my vriendin van baie jare, en gaan lê op die bed. Dis toe dat die pyn in al sy felheid toeslaan, dat ek erg begin sweet en aan die bewe gaan. My linkerarm word lam en ’n kragteloosheid oorval my. Dis ’n hartaanval! besef ek met ’n skok. Ek kry ’n hartaanval soos my oupa, wat op presies dieselfde ouderdom dood is daaraan. Ek moet by die dokter kom en gou ook. Daar is ’n ongekende drukking op my bors, ek is benoud, my asem is min.

“Ag, Here,” bid ek, “wees hierdie sondaar genadig en kyk asseblief mooi na my mense.” Ek gaan dood, besef ek. Dis ’n vreesaanjaende gevoel. Ek word motor toe gehelp. Ek roep my werksmense bymekaar, groet hulle, bedank hulle, vra hulle om na Sylvia om te sien. “Ek kom dalk nie terug nie,” waarsku ek. ’n Gevoel van weerloosheid oorweldig my. So vinnig as moontlik ry ons die 26 km na ons naaste dorp toe. Dokter toe. Ek bel my seuns, hulle los alles en jaag om by my te wees. My dogter in Stilfontein is hartseer, bekommerd. Sy huil. Ek groet my geliefdes. Die pyn heers oor my. Die angs! Die verslaentheid! ’n Paar uur tevore was ek ’n doodgewone, gesonde middeljarige man, nou is ek heeltemal kragteloos. By die hospitaal word daar toetse gedoen en bloed getrek. Die uitslag is nie dadelik beskikbaar nie. Ek kry pilletjies om onder my tong te sit. Dit help om my rustiger te maak, maar die angs gaan nie regtig weg nie. Daar is nog steeds ’n drukking op my bors, ’n verwarring in my gedagtes, terwyl ons huis toe ry.

Ek probeer normaal aangaan, maar ek kan nie. My seuns daag op, baie bekommerd. Hulle staan om my bed by die huis toe die oproep van die dokter af kom, Sylvia ook. “Jy moet sorg dat jy dadelik by die hospitaal kom,” raai die dokter aan. “Jy het beslis ’n hartaanval gehad.” Ek skrik. Dit voel asof die asem uit my bors gepers word. Die verkeer is druk op pad hospitaal toe. Dit voel soos ’n klein ewigheid voordat ons daar is. Ek het nie ’n mediese fonds nie, het dit nog nooit nodig gehad nie. Sou nog eendag een kry. Gelukkig vir my het die Steve Biko-hospitaal een van die beste kardiologie-afdelings in die land. By ongevalle vul Sylvia my vorms in; ek kry ’n nommer en wag saam met vele ander. Dis die dokter se etenstyd. Gelukkig voel ek ’n bietjie beter, maar ek kan glad nie ophou om aan doodgaan te dink nie.

“Pas vir Mamma mooi op,” pleit ek by my seuns. Hulle wil my nie so hoor praat nie. “Moenie stres nie, Oubal,” word ek getroos. “Hierdie gegroet en gehuil moet nou ophou,” skerts my seuns later, maar eintlik is ons almal bewoë, huil ons almal saam. Die intense hartseer vererger die pyn in my bors. Emosioneel vou ek. Ek bid en smeek God se genade op my af!

Dan is die dokters en verpleegsters daar om oor te neem. Hulle begin vir my lewe baklei. Drup in die arm, EKG-ondersoeke, pilletjies om die bloed te verdun, in Noodgevalle se hoësorgeenheid opgeneem. Suurstof. Gekoppel aan ’n masjien wat flits en piep. Bloed word getrek, nog toetse word gedoen. Die matrassie is dun, die beddegoed gehawend, en my lewe is in ander se hande!

Dis ʼn vreemde wêreld waarin ek my bevind – iets wat ek nog nooit voorheen beleef het nie. Vyfuur in die oggende en vroegaande weergalm Steve Biko van geestelikheid. Daar word geestelike liedere gesing, die klank word gedra deur die gange en sale van die hospitaal. Ook ek wil daarby inval, en die Vader loof vir sy genade oor my. Ek neurie saam. Al verstaan ek min van wat hulle sing, weet ek hulle prys God en sy genade. Hulle, wat elke dag iemand moet groet.

Ek voel gerus, ek is in goeie hande. Daar word besluit op behandeling. Medikasie om my hoë cholesteroltelling af te bring, om my te stabiliseer, elke dag inspuitings in die maag om die bloed te verdun, hartpilletjies en suurstof. En dan natuurlik die dieet. Geen sout, geen vet. Ai, en ek is juis so lief vir ’n lekker tjoppie met ’n vetlagie. En jy kan my in ’n wip vang met ’n stukkie biltong, met ’n bietjie vet aan, dankie. Van water alleen kan ’n man darem ook nie leef nie, ’n lekker koue Coke is nét die ding op die regte tyd. My terugslae is toe nog nie verby nie. Die vyfde dag in die hospitaal word die angiogram gedoen. Wie sou tog kon voorspel dat ek allergies sou wees vir die jodium wat in jou are gespuit word? My hart gaan in ’n spasma. Dokters skarrel, bevele word uitgeroep. Hierdie keer is dit verby! Hierdie keer het my uurglas leeggeloop. Ek roep na God. “Here God, wees my genadig as ek voor U aangesig kom!” bid ek. Daar is nie tyd om te huil nie. “Hoes!” hoor ek die dokter sê. Ek hoes. “Hoes weer!” skree hy. Ek hoes. Maar die donkerte vou oor my toe, verswelg alles, die hele vertrek, alles om my. Die lig krimp al kleiner! Ek voel hoe ek doodgaan. “Spuit hom in die hart met adrenalien!” roep iemand. “Gee my net vyf sekondes, ek kan hom terugbring!” skree die een in beheer. Hy is reeds besig om adrenalien in die drup te spuit. “Dit gaan van binne af voel of jy uitbrand!” waarsku hy. “Byt net vas!”

Dan brand dit letterlik asof my hele ingewande in kookwater beland het! “O Here, nee!” gil ek ten hemele. En toe ... skielik raak die kamer groter. Groot en oop. My lewe word gered deur ’n kundige swart dokter en sy ewe kundige span. “Dankie vir die trip,” sê ek droog. Die verligting laat almal lag en grappies maak. “Dankie, Here,” prewel ek. “Dankie dat hulle my lewe kon verleng.”

In die dae daarna ry my emosies wipplank. Met tye voel ek so ongelooflik goed dat ek skuldig voel om helder oordag in ’n bed te lê wat gebruik kon word vir iemand wat werklik siek is. Dan oorval die angs en benoudheid my weer. Ek verlang huis toe, ek wil by my plekkie wees.

Daar, in die hospitaal, besef ek hoeveel mense met dieselfde kwaal sit. Ons Suid-Afrikaners eet onsself siek! besef ek. Ons leefstyl het skrikwekkend ongesond geraak. Die res van die ondersoeke en toetse bewys dit. Daar is ’n vernouing in die hoofslagaar. ’n Stent sal die probleem opklaar. Dit tel in my guns dat ek nog relatief jonk en sterk is.

Toe die stent twee weke later ingesit word, gaan daar vir my ’n nuwe lewe oop. Ek het berge energie en dryfkrag! Ag, die wonder daarvan om weer by die huis te wees, in my eie klein paradysie! Ek verkyk my aan die natuur wat na ’n droë winter in ’n nuwe, vars, groen lushof ontplof het. My werksmense is oorstelp om my weer tuis te hê. My hart is vol dankbaarheid. Ek is dadelik vuur en vlam om weer te begin werk. Die dae het net nie genoeg ure om my uit te put nie!

Dit is nou sowat ses maande later. Ek eet en leef gesonder as ooit. My dieet bevat nou baie vars groente, vrugte, vis en witvleis. Daagliks gebruik ek ook rooipeper, borrie, kaneel en knoffel. Ek is meer bewus van my lyf en hardloop nie meer teen so ’n stywe pas dat ek myself uitbrand nie. Klein dingetjies maak nou meer saak. Elke uur van elke dag is ’n nuwe genade. Ek sing steeds die land vol en is dankbaar dat ek dit kan doen. Na my drie hartaanvalle leef ek nader aan my Skepper. Hy wil my nog hier hê, my werk vir Hom is nog nie klaar nie. Daarom is ek ’n tweede kans gegun!

Die boodskap wat ek graag wil uitdra aan dié wat dit nodig het, is: Glo in Christus as jou Saligmaker en laat die vuur van jou geloof jou dra. Sy genade is groot.
Category: 
Deel/Stuur

Viewing all articles
Browse latest Browse all 1496

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!