
Loopplankvoorkomste is gewoonlik stylvol en byderwets, maar ook onrealisties vir elke dag se dra. Hierdie seisoen lyk dinge gelukkig anders – haarstyle wat jy daagliks met sukses kan dra, is nou mode.
Jou haarstyl verklap net soveel omtrent jou as die klere wat jy dra. Net soos met jou klerekas kan jy gelukkig ook self besluit watter tendense jy wil navolg. Slim stileringsmetodes en bykomstighede laat jou praktiese haarstyl meer modieus lyk.
Die neiging is ook dat jy twee of meer style met gemak kan kombineer. Ons lig die nuutste giere uit.
1. Hou dit so natuurlik en gesond moontlik
Die ster van die seisoen is ’n natuurlike, gesonde bos hare. Terence, bekende haarkapper en eienaar van Terenzo International-haarsalonne, verduidelik dat die fokus daarop is om jou hare se natuurlike tekstuur tot jou voordeel te gebruik. Volgens hom is een van die grootste tendense ’n neiging na “absolute eenvoud in stileringsmetodes”.
Dis hier waar ’n meerdoelige haarproduk – soos haarolies –’n baie prominente rol speel. Dit is die gewildste metode om hare te stileer én te behandel en tans moontlik die heel opwindendste tendens, Kies ’n salonkwaliteit-olie soos L’Oréal Professional se Mythic Oil, Redken Argan Oil, Moroccan Oil of Kerastase se Elixir Ultime.
In teenstelling met soortgelyke produkte wat voorheen op die mark was, sal hierdie nuwe generasie olies nie jou hare en kopvel olierig maak nie. “Die tegnologie het so verbeter dat die olies nou in die haarskag kan penetreer,” verduidelik Terence.
Hierdie tipe olies is meerdoelig. Dit knap op, verminder kroeserigheid en maak jou hare meer beheerbaar. Jy kan dit op verskillende maniere gebruik: as ’n stileringsproduk op droë of nat hare of as ’n voedingsmiddel voor jy was en opknap.
2. Op style vir langer hare – met ’n kinkel
Loopplankmodelle lyk deesdae of hulle halfpad deur ’n stileringsessie opgestaan het. Dit is allesbehalwe per ongeluk. Die losser, half-vas voorkoms is waarna jy streef wanneer jy jou hare opbind.
Dink aan poniesterte, “geknoopte” hare en vlegsels. Die staatmakerponiestert word hierdie seisoen laag in die nek gedra. Om jou ponie of vervelige bolla met ’n “knoop” vas te bind, laat dit dadelik anders lyk.
Vlegsels is oral te sien – van onderstebo Franse vlegsels tot verskeie kleintjies skuins oor jou kop.
3. Kreatiewe kuiwe is binne almal se bereik
’n Nuwe haarstyl elke seisoen is net nie realisties nie. Wat jy wil hê, is ’n kitsoplossing wat jou voorkoms binne etlike minute gaan verander. “Fringes is groot,” sê Terence. “Veral as jy lengte wil behou, maar op soek is na ’n nuwe voorkoms.
Dis baie vroulik en kan jou baie modieus laat lyk.” Laat knip ’n kuif, verander jou kleur en jy lyk gou-gou anders. Gesels met jou haarkapper oor die tipe kuif wat die beste by jou sal pas.
4. Sagte, los hare met natuurlike, vroulike krulle
Haarstiliste kry inspirasie uit die negentigs se grunge voorkoms en noem dit “ruk-en-rol-krulle”. Onthou, jy wil nie hê jou hare moet “gedoen” lyk nie.
Volgens Terence is die krulyster (hair wand) die belangrikste stileringsitem om hierdie seisoen aan te skaf. Draai jou hare eenvoudig om die krulyster vir ’n baie natuurlike voorkoms. “Omdat hierdie tipe krultang soos ’n roomyshorinkie gevorm is, kry jy ’n meer oneweredige krul in plaas van perfekte krulle,” verduidelik Terence.
5. Pragtige haarbykomstighede te kus en te keur
Vir die derde agtereenvolgende seisoen is bykomstighede vir hare groot nuus. Kry ’n mooi haarband, kopband, rekkie of knippie. As dit by jou persoonlikheid pas, kan jy selfs gedurende die koeler maande ’n mooi hoed of kopdoek dra.
Loer by jou naaste Accessorize, Sass Diva of Woolworths in vir ’n groot verskeidenheid haarbykomstighede.
Begin deur jou hare in ’n puik toestand te kry. Kies dan een of twee nuwe giere wat by jou pas en laat die koppe draai!
Bronne: www.harpersbazaar.com;www.redonline.co.uk;www.browns-hair.co.uk Terenzo International Hairstyling Professionals: www.terenzohairdressing.com. Kaapstad: 021 434 9475; Johannesburg: 011 325 2052.
