Quantcast
Channel: Voelgoed
Viewing all 1496 articles
Browse latest View live

Aromatiese olies is Therese Benade se bederfie

$
0
0
Therese Benade

My vel het olies nodig om vogtig te bly. ’n Paar druppels in die badwater help baie, maar die beste is aromaterapeutiese olies, wat ook ’n voordelige uitwerking op ’n mens se gemoed het.

Stres is geneig om my op te vreet

My grootste gesondheidsprobleem is stres, wat ’n nadelige uitwerking op my vel het. Ek sukkel met rosacea, ’n toestand wat jou vel onder meer rooi laat word; daarom gebruik ek net natuurlike produkte sonder geurmiddels. Dit ruik egter nie altyd baie lekker nie. Ek bederf myself soms met klapperolie wat met aromaterapie-olie gegeur is. Klapperolie is ’n soliede vet, maar as dit aan jou vel raak, smelt dit. Dis ’n wonderlike middel om te gebruik as jy velprobleme het.

Geurige olies is goed vir my gemoed

Maar aromaterapie-olies ruik nie net lekker nie, dit werk ook in op jou gemoed. Ek gooi elke aand ’n paar druppels in my badwater. Ek lê dan ure lank in die bad terwyl ek ’n lekker glas rooiwyn drink. Dit laat my baie ontspan.

Laventelolie is die ideale olie om voor slaaptyd te gebruik, veral as jy gespanne voel of sukkel om te slaap. Jy kan sommer ’n paar druppels op jou kussing sit. Verneem egter eers by jou apteker wat ’n veilige hoeveelheid is, want die olies kan gevaarlik wees as dit nie verdun word nie of jy te veel daarvan gebruik. Dit kan ook jou vel brand.

Sitroengrasolie is ’n heerlik verfrissende olie. Ek gebruik dit gewoonlik vroeg in die oggend voor ’n lang dag. Jy kan dit ook direk op jou slape aanwend as jy hoofpyn het. Ek kry een keer ’n jaar ’n erge migraine wat my spraak affekteer. Dis soms so erg dat mense dink ek het ’n beroerte gekry. Ek het gewoonlik medikasie nodig, maar ’n bietjie olie op jou slape kan moontlik help om jou hoofpyn te verlig.

Geurige olies help ook vir sekere skete

Bloekomolie is veral voordelig as jy met verkouesimptome sukkel. Ek kry elke jaar die gewone verkoue. Bloekomolie in jou badwater help vir ’n toe neus. Natuurlik help die stoom van die badwater ook om kongestie te verminder. Ek gaan ook nêrens sonder teeboomolie nie. Dis baie voordelig vir ’n veluitslag, ’n puisie of as ’n muskiet jou gebyt het. Ek gebruik dit skoon op die probleemarea. Dit werk regtig.

Gesels met jou apteker oor die verskillende olies en hoe om dit te gebruik. Dis ’n heerlike manier om te ontspan en jou gemoed op te kikker.

Category: 
Deel/Stuur

Die top 6 naelmodes van 2014

$
0
0

Naellak is die bekostigbare en vinnige manier om jouself op te beur. Jy sal ’n glimlag op jou gesig kry elke keer as jy na jou hande kyk met een van hierdie pretkleure.

1 Pastelkleure op jou naels

Groen, geel en laventel in die sagste fluistering van sorbetskakerings lyk goed by ligte velkleure. Tesame met nuwe naelkleurformules wat ontwikkel is om ’n hoëglans- porseleinagtige afwerking te gee, het jy begeerlike vingerpunte.
China Glaze in Tart-y for the Party (R85) by www.maskscara.co.za of skakel 0861 846 873.

pastelle.png

2 Naels so wit soos sneeu

Wit naellak het sedert sy verskyning op die loopplanke eweveel byval gevind by blas as bleek beroemdes. Van Jennifer Lopez tot die aktrise Scarlett Johansson dra dié mode – en graag saam met wit uitrustings. Dit lyk vars en onskuldig, maar steeds gesofistikeerd. Michael Kors Nail Lacquer in Gossip (R215) slegs by uitgesoekte kettingwinkels.

wit_naels.jpg

3 Jel op jou naels

Laat doen jelnaels by ’n salon as langblywende kleur jou eerste oorweging is. Jelformules sal nie kraak nie of afskilfer nie.
Die model dra Maybelline Color Show Nail Lacquer in 651 Cool Blue (R39,95) by kettingwinkels. As jy van jelnaels hou, kies Gel-iT Electric Lemonade Turquoise 2 (R200 per aanwending) slegs by salonne.

jel_naels.jpg

4 Naels met ’n aksent

’n Aksentnael is ’n prettige manier om kostuumjuwele te dra en is soos ’n plaasvervanger vir ’n ring. Die idee is nie om jouself te bedruip met steentjies op elke vinger nie, maar om slegs een van die tien naels met ’n hart, skoenlapper of stermotief te verfraai.
Avon Speed Dry in Orange You Quick Y0443 (R87,95) by Avon-verteenwoordigers. Naelsieraad (R40) beskikbaar by www.maskscara.co.za of skakel 0861 846 873.

aksent.jpg

5 Hou jou naels kaal

Nie alle vroue is geseënd met slanke vingers, delikate kneukels en sterk naels nie. Die praktiese ding om te doen as jy jou hande ’n bietjie wil afrond, is om vleeskleur naellak te gebruik. Neutrale kleure vestig nie die aandag op hande wat voos gewerk is nie.
Essie Nails in 773 Brooch The Subject (R123) by apteke.

kaal_naels.jpg

6 Naels in kleur én geur

Seker nie almal sal daarvan hou as hulle vingers ruik soos laventelseep, Italiaanse leer of duur rooiwyn nie, maar ons is opgewonde oor die nuwigheid. Jou naels verkry ’n gesofistikeerde parfuumgeur sodra dit drooggeword het. Hierdie skakering is ook die ideale rooi vir die komende winter.
Revlon Parfumerie Scented Nail Enamel in Bordeaux 090 (R99,95) by kettingwinkels.

naels_in_kleur.jpg

Fotograaf: Tereza Cervinkova by Infidels. Manikuris: Lynette Joshua by Catwalk Hair, Nails & Skin. Tel: 011 453 4907. Modelle: Franine Hattingh en Chrisna Human. Produksie: Ryno Mulder

 

Deel/Stuur

Dis weer tyd vir die Cape Argus!

$
0
0
Cape Argus

Daar is deesdae altyd ’n fietsryer of drie êrens op die pad. Hulle is kliphard aan die oefen vir die Cape Argus Pick ’n Pay-fietstoer, wat een van die dae plaasvind.

Indien jy nie geweet nie, dié gewilde eendagfietsresies is die grootste in die land. So, al neem jy nie self deel nie, moet jy eintlik daar wees, al is dit net om die ryers en hulle fietse te aanskou ... Natuurlik ook om die pragtige Wes-Kaapse landskap in te drink, want die roete lei deur Valsbaai en oor die skilderagtige Chapman’s Peak.

Of die fietsryers self egter die meer as honderd kilometer lange roete geniet, is ’n ander saak. ’n Mens wil-wil dink dat hulle dalk eerder op hulle spoed, tyd en die wiele voor hulle fokus as om na die asemrowende mooi berge en groen gras langs die pad te kyk. Dit sal egter pragtige foto’s vir jou fotomuur maak!

Van verlede jaar se toeskouers sê dis uiters kalmerend en tegelykertyd opwindend om die fietsryers se voete die pedale te hoor trap, trap, trap ... “As hulle nie valhelms gedra het nie, sou jy die wind deur hulle hare ook kon hoor as hulle met hul vaartbelynde klere verby jou swoesj,” sê die 12-jarige Yolandi van Heerden, wat haar pa elke jaar getrou ondersteun.

Sélf wil sy egter nie ry nie. Sy sê sy sien nie kans daarvoor dat die seuns van haar skool haar in ’n spanbroek op nasionale televisie moet sien nie. Sy is in elk geval nog te jonk om deel te neem, en moet nog lank saam met haar pa oefen om fiks te word vir só ’n “uitmergelende wedren soos die Argus,” sê sy.

As jy egter een van die derduisende fietsryers is wat vanjaar gaan deelneem, kan jy weet ons hier by FINESSE hou styf duim vas vir jou. Gaan voluit! Ry jou beste tyd ooit! En mag jy ook ’n Yolandi in die skare toeskouers hê wat spesiaal vir jóú wag om oor die eindstreep te jaag. Om die Cape Argus te voltooi is voorwaar ’n groot prestasie en ’n ondervinding om vir altyd te onthou.

Besoek www.cycletour.co.za vir meer inligting oor die Cape Argus Pick n Pay-fietstoer op 9 Maart of skakel 021 681 4333.

 

Category: 
Slide Show Title: 

Die Cape Argus is naby

Slide Show Intro: 

Die grootste eendag fietsresies in die land

Deel/Stuur

10 gevaartekens vir jou gesondheid

$
0
0
tand pyn

Gebarste lippe, ’n kloppende hoofpyn of jeukerige ore is alles simptome wat die meeste van ons die een of ander tyd ervaar. Hoewel jy dit nie juis as ernstig beskou nie, kan enige simptoom op gevaar dui. Vind uit wat in jou lyf aangaan.

Kry jy tandpyn as jy roomys eet?

Daar is verskillende redes waarom jy tandpyn kry. Gewoonlik is ’n dowwe klop of ’n skerp pyn, veral wanneer jy iets kouds eet, ’n teken dat jou tand beskadig is of gaatjies in het. As jy nie die tand laat stop nie, word dit ’n heerlike broeiplek vir bakterieë. Die gevaar is dan dat die bakterieë in jou bloedstroom opgeneem kan word, en skade aan onder meer jou are en hartweefsel kan aanrig. As jy ’n seer tand het, maak liewer ’n afspraak by jou tandarts.

Jou ore en keel jeuk gedurig

Die kans is groot dat candida, ’n fungus, die oorsaak is. Candida kom veral voor in mense wat baie suiker eet. Die meeste mense het ’n klein hoeveelheid candida in hulle dermkanaal. As dit egter weens ’n wanbalans vermeerder, kan dit na verskillende dele in jou liggaam versprei, soos na jou keel en ore. As jou vel jeukerig voel en rooi is, jy heeltyd moeg voel en maklik siek word, is daar ’n kans dat jy positief sal toets vir candida. Die beste manier om daarvan ontslae te raak is om suiker, melk en graan uit jou dieet weg te laat.

Jou mondhoeke is rooi en gebars

Studies het getoon dat gebarste mondhoeke moontlik dui op ’n te kort aan die B-vitamiene. Jy sal veral ’n tekort hê as jy ongesond eet, dit wil sê, produkte wat met suiker en/of meel gemaak is. Ander tekens kan moegheid, donker kringe onder jou oë en velprobleme insluit. Eet gesond en neem aanvullings om die probleem te oorkom.

Jy bring winde op en het slegte spysvertering

Een rede kan wees dat jou liggaam nie genoeg maagsuur produseer nie. Sonder genoeg maagsuur kan jou liggaam nie kos voldoende verteer nie. As kos in jou maag bly sit, beteken dit dat die lug wat jy saam met jou kos afgesluk het, ook in jou maag vassit. Die enigste pad uit is dus as jy winde opbreek. Probeer om kosse te eet wat ryk is aan verteringsensieme, soos vars vrugte en groente. Jy kan ook verteringsensieme van die rak af koop. Maak ook seker dat jy jou kos fyn kou voordat jy dit insluk.

Jou hare lyk leweloos en val uit

As jy gewig verloor, stres beleef of ’n tekort het aan yster, wys jou hare dit. Hare wat uitval, kan deur ’n vitamien D-tekort of ’n onderaktiewe skildklier veroorsaak word. Laat toets jou skildklier. As jy baie stres, maak leefstylveranderinge wat jou stres sal verminder.

Jy kry ’n snor of ’n baard

As jou gesighaartjies swart en dik word en jy dit gereeld moet uitpluk, is die kans groot dat daar ’n hormoonwanbalans in jou lyf is. Jou liggaam mag dalk te veel manlike hormone produseer. Besoek jou dokter as jy skielik ’n snor op jou bolip bemerk.

Jou maag word ronder selfs al eet jy gewoonweg

Vet om jou maag kan dui op te veel kortisol, die streshormoon. Dit kan gevaarlik wees omdat dit druk op jou organe plaas en tot siektes soos diabetes en hartsiektes kan bydra. Doen oefening om van stres en vet ontslae te raak.

Wees bewus van wat in jou lyf aangaan. Dit kan jou gesondheid verbeter, en selfs jou lewe red.

Category: 
Deel/Stuur

Arno Jordaan en vroue jeans

$
0
0
arno jordaan

Na twee jaar se getroude lewe en ’n nuwe baba, is Arno Jordaan nog steeds dolverlief op sy vrou, Lizanie. Maar daar is tog een ding wat hy nooit sal verstaan nie.

Arno, daar is iets in jou vrou se klerekas wat jou baie pla. Wat is dit?

Denims! Ek kon nog nooit verstaan hoe my liewe vrou, Lizanie, omtrent 40 handelsmerk-jeans kan uitgooi en dan is daar nog 70 in haar kas oor nie! Nee, ek jok nie. Om nie eers te praat van al haar skoene en handsakke nie. Ek moes ons huis se aantrekkamer groter laat maak om alles in te pas. Dis nou groter as die slaapkamer. As ek nie oppas nie, verander die slaapkamer een van die dae in ’n verlenging van die klerekas.

Koop vroulief net so lekker vir die nuwe baba?

En hoe! Sy koop die mooiste klere vir Milan. Die seuntjie dra immers dieselfde naam as een van die gewildste inkopieplekke in die wêreld. Milan word heeltyd bederf met klere en skoene en speelgoed. Ek is seker hy sal nie die helfte van al daardie klere kan dra voordat hy te groot is daarvoor nie. Ek moet egter bieg, hy lyk te kostelik.

Wanneer het jy die eerste keer van die groot liefde vir koop bewus geword?

Gelukkig het ek en my vrou ’n verhouding waarin ons oor alles praat. Van die eerste dag wat ek haar ken, weet ek van haar liefde vir mooi klere, skoene en handsakke. Dit beteken natuurlik nie dat ek dit verstaan nie, maar ek is darem van die eerste dag af in kennis gestel van haar groot geheim. Dit was ons redding. As ek ná die troue moes uitgevind het, sou ons seker baie daaroor baklei het.

Het haar inkopies al ooit in ʼn verleentheid vir julle ontaard?

Gelukkig nog nie. Ons het darem nog nooit in ’n winkelsentrum voor ander mense stry gekry daaroor nie. Die goeie Arno byt maar op sy tande en betaal. Die kwaai Arno het wel al gedreig om sakke vol van haar klere op die sypaadjie te verkoop! Ja, ons kry nou en dan stry daaroor, maar daar is so baie ander dinge wat my lief maak vir haar dat ek haar elke keer vergewe.

Hoe hanteer jy en jou vrou ‘moeilike’ gesprekke?

Aanvanklik het ek maar eerder net stilgebly. Lizanie het dit egter baie gou duidelik gemaak dat sy glad nie daarvan hou as ek stilstuipe het nie. Ek het gedink ek doen dit om die vrede te bewaar. Dis egter glad nie ’n slegte ding dat ons gaan sit en praat oor dinge waarvan ons nie hou nie. Ons praat dinge maklik uit en vandat ons ’n seuntjie ryker geword het, baklei ons ook sommer heelwat minder.

Het jy enige gewoontes wat jou vrou gek maak?

Daar is sommer baie. Ek dink die ding wat haar die gouste teen die mure uitdryf, is as ek kliphard snuif as die lugreëling in die slaapkamer aangeskakel is. En dan word sy baie vies as ek sê dat almal van ons ’n stukkie kommin in ons het. Sy sê altyd: Almal behalwe sy!

Deel/Stuur

Om iemand lief te hê

$
0
0
liefde

Die maand van Februarie word tradisioneel beskou as die maand van liefde. In die Bybel word daar ’n totale boek opgedra aan die liefde, en tog glo ek dat ons die woordjie nie regtig ten volle verstaan nie.

Toe ek ’n jong en jeukerige tiener word, het my ouers my geleer dat ’n mens nie die woorde “ek is lief vir jou” sommer losweg moet gebruik nie. Dit is nie ’n ding wat ligtelik opgeneem behoort te word nie, en dit is verseker nie ’n frase wat jy aan elke meisie wat jy ontmoet mag kwytraak nie.

Vandag, stem ek daarmee saam. Die woorde mag geensins deur hartebrekers gebruik word in die eerste week van ’n kortstondige verhouding wat verseker afstuur op ’n tranedal nie. Dan word hierdie woorde manipulerend aangewend.

Maar… ek vra myself die vraag af: Vir wie ís jy lief? Vir hoeveel mense is jy regtig lief? En vir hoeveel mense kan jy die woorde hardop sê? Een? Jou lewensmaat of skoolkys? Vier? Jou lewensmaat en kinders? Of dalk tien? Jou gesin, ma en pa en dié broers of susters waarmee jy nog wel kontak het?

Dis maklik om vir ouma en oupa te sê dat jy lief is vir hulle. Vir Kolletjies, die hond, is dit amper die maklikste van almal, maar wat van Susara, die bediende? Is ek lief vir haar? Sy’s ’n liewe ou mens en sy werk al jare by ons, maar kan ek myself sover kry om vir haar te sê ek is lief vir haar? Tameletjie!

Ek het nog ’n vragie. Kan ek byvoorbeeld op my status update op Facebook (waar almal dit kan lees) sê: “Goeie môre almal! Julle moet ’n heerlike dag vandag hê, ek is baie lief vir julle almal!”? Soms dink ek ek kan, maar dan dink ek aan oom Stefanus, aan my ma se kant wat op die laaste familiebyeenkoms amok gemaak het toe hy in sy dronkenskap aan my vrou se boud gevat het. Hy’s ook op my Facebook en ek weet nie of ek so lief is vir hom nie. Of Aletta van Brummelen saam met wie ek van tyd tot tyd saam besigheid doen. Met haar lae halsie het sy al meer mans deurgewerk as Elizabeth Taylor en sy het geen plan om binnekort te stop nie. (Ek wonder altyd wat gaan deur man nommer ses se kop. Dink hy regtig hý is die een vir haar? Die een wat vir altyd gaan bly? Die een wat haar finaal gaan tem? Regtig?)

Ek weet nie of ek lief is vir hierdie mense nie.

Die Bybel sê egter jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Wie is my naaste? Die antwoord was nog altyd eenvoudig: die een wat op die oomblik die naaste aan jou is, waar jy jouself ook al mag bevind. God is ’n God van liefde. Hy het al sy kinders lief en Sy genade is groot. Dan vra Hy dat ons sal maak soos Hy maak: wees lief vir mense. Moet hulle nie oordeel nie, want jy weet nie hoekom hulle is soos wat hulle is nie. Jy weet nie waardeur hulle moes gaan wat veroorsaak het dat hulle vandag so is nie. Los die oordeel aan God oor.

Om mee af te sluit: ek wil graag in ’n wêreld lewe waar mense mekaar baie liewer het as wat dit nou die geval is. Ek wil selfs hê dat daar ’n nimmereindigende vloed van liefde oor die aarde sal spoel, maar ek kom tot die gevolgtrekking dat ek soms liefde vir ander voel, maar dit nie sal sê of daarop sal reageer nie. Die verandering begin by my.

Wysheid op ’n pakkie suiker: “Never underestimate the power of the words 'I love you' or the comfort of a simple hug. Grow your love daily.” ― Elizabeth Bourgeret

Pierre Vee

Category: 
Deel/Stuur

5 newe-effekte van gesonde gewoontes

$
0
0
gesonde gewoontes

Jy het ʼn nuwe blaadjie omgeslaan in 2014 en jou leefstyl is baie gesond. Jy behandel jou liggaam goed, maar ondanks jou poging is daar tog vreemde simptome wat opduik ...

1 Jou vel vertoon oranje nadat jy wortels geëet het

Wanneer jy te veel oranje vrugte en groente eet, kan die gevolg karotenemia wees. Karotenemia is afkomstig van die woord karoteen, wat verantwoordelik is vir oranje groente se kleur. Alhoewel dit nie skadelik is nie, kan dit ʼn oranje-geel skynsel aan jou vel gee. Hoe maak jy dit reg? Verruil oranje groente vir groen of geel groentes en ander kleure. Wanneer die kleur begin weggaan, hou by een of twee porsies oranje groente en vrugte per dag.

2 Jou urine is bruin- of rooierig na ʼn oefensessie

Moet nooit hierdie newe-effek ignoreer nie. Strawwe oefeninge kan lei na rabdomiolise, ʼn kondisie wat plaasvind wanneer stowwe binne seergemaakte spiere in jou bloed lek. As genoeg besering van jou spiere plaasvind kan dit lei na nierbeskadiging. Simptome mag dalk met stywe spiere saamgaan, maar donker urine, algemene spierpyn en ʼn versnelde hartklop moet dadelik deur jou dokter ondersoek word. Verminder hierdie risiko deur seker te maak jy neem genoeg vloeistof in, en hou jou oefenskedule binne jou liggaamlike perke.

3 Te veel water laat jou sleg voel

Jy weet jou liggaam het baie water nodig om goed te funksioneer. Tog, wanneer jy dit oordoen veroorsaak dit hiponatremie, ʼn potensieel skadelike toestand. ʼn Te hoë water inname verdun die natrium in jou bloed. Dit veroorsaak naarheid, spierkrampe en disoriëntasie. Dit kan selfs fataal wees! Vroue behoort ʼn gemiddelde hoeveelheid van 2 liter water per dag inneem, afhangende van hoe aktief jy is, jou gesondheid en die klimaat.

4 Proteïene stafies maak jou hardlywig

Wanneer jy gereeld hierdie peuselhappies geniet in die plek van etes, kan dit ʼn spysverteringsprobleem veroorsaak. Baie van hierdie stafies is nie net laag in vesel nie, maar ook in die voedingstowwe van ʼn volledige ete. Selfs al is dit propvol vitamine en minerale ... Probeer juis om meer growwe kosse te eet. Kies eerder vrugte en natuurlike grondboontjiebotter, of laevet Griekse jogurt en bessies. Die ander opsie is om te kyk vir proteïene stafies wat 3 gram of meer vesel bevat.

5 Te veel ontsmettingsmiddel vir jou hande

Dit mag dalk net ʼn gewoonte wees om gereeld ontsmettingsmiddel vir jou hande te gebruik, maar te veel van ʼn goeie ding is ook nie goed nie. Wanneer jy te veel van hierdie antibakteriese middel gebruik maak, verminder dit ook die goeie bakterieë, wat jou meer vatbaar maak vir siektes. ʼn Studie aan die Universiteit van Michigan het bewys dat studente wat aan hoër vlakke van hierdie ontsmettingsmiddel blootgestel is, ook meer geneig was tot allergieë en hooikoors. Op die ou einde bly seep en water tog die beste!

Bron: www.redbookmag.com

Category: 
Deel/Stuur

Dinge wat jy nóóit moet sê nie

$
0
0
kommunikasie

Ma’s word kwaad en sê dan goed wat kon gebly het; niemand is immers volmaak nie. Maar staan ’n slag stil en luister na jouself ... Hier is meer effektiewe maniere om met jou kinders te kommunikeer.

Wanneer jou kind jou ignoreer of oor alles met jou baklei, wonder jy miskien of jy dinge reg doen. Is jy nie besig om as ouer te misluk nie? Ouerskapkenner James Lehman sê egter daar is nie iets soos “goeie” of “swak” ouerskap nie. Dis eerder ’n kwessie van effektiewe en oneffektiewe ouerskap.

As jou kinders nie na jou luister nie, beteken dit heel moontlik jy praat nie effektief met hulle nie. As jy jouself in die volgende voorbeelde herken, moenie bekommerd wees nie. Dit is nooit te laat om te verander nie.

Jy neem jou toevlug tot (dikwels ydele) dreigemente

MOENIE SÊ ...“As jy nie jou huiswerk doen nie, gaan jy nooit weer by Johan speel nie!” Hierdie een is moeilik: Jy weet Johan is sy beste maat en hy sal wat wil gee om by hom te gaan kuier. Jy wil ook hê jou kind moet by die reëls hou en sy verantwoordelikhede nakom. Maar omdat hy glad nie in die huiswerk geïnteresseerd is nie, kom jy met ’n onsinnige dreigement na vore. Dit is egter uiters oneffektief. Dreigemente wys dat jy jou humeur verloor en sal net die konflik tussen julle vererger. Dit leer jou kind ook nie hoe om probleme op te los nie.

SÊ EERDER ...“Ek hou nie daarvan dat jy nie jou huiswerk wil doen nie, maar ek het tyd nodig om hieroor te dink. Kom ons praat weer as ons afgekoel het.” As jy kwaad is en julle oor en weer stry, gaan ’n vinnige dreigement niks verander nie. Om werklik sy gedrag te verander, moet daar spesifieke gevolge aan spesifieke optrede gekoppel word. Breek eerder die probleem in kleiner dele op en gee hom die geleentheid om elke dag ’n mate van sukses te behaal.

Jy verbied alle risiko’s voor die voet

MOENIE SÊ ...“Ek verbied jou om ooit weer op die internet te gaan!” Jy sê dit omdat jy vir jou kind omgee: Jy weet sy kan dalk seerkry op ’n manier waaraan jy niks sal kan verander nie. Om jou kind egter iets te weier of haar te verbied om dit te doen ‒ as gevolg van dinge wat jy vrees ‒ is nie effektief nie. In die eerste plek ontneem dit jou die geleentheid om jou kind te help leer en groei. In die tweede plek skep dit nie samewerking nie, maar eerder geheimsinnige optrede. Jou kind sal probeer wegkom met wat sý wil hê, ongeag wat jý wil hê.

SÊ EERDER ...“Ek is nie seker of jy weer sonder toesig op die internet moet gaan nie. Dit kan baie onveilig wees. Kom ons dink aan hoe ons hierdie ding kan laat werk.” Deel jou bekommernis. Op hierdie manier gee jy nie jou toestemming nie en kan sy nie bloot voortgaan om iets te doen waarvan jy nie hou nie. Jy het eerder ’n geleentheid geskep om haar te help om haar samewerking te gee. Sodoende sal sy ook nie maklik onveilige risiko’s in die geheim neem nie.

Jy probeer jou kind skaam maak vir homself

MOENIE SÊ ...“Niemand gaan van jou hou as jy dit doen nie!” Dit is so maklik om te sê. Jy val jou kind aan in ’n poging om sy gedrag te verander. Jy weet hy wil graag inpas en hê mense moet van hom hou. Jy is dalk selfs werklik bang niemand gaan van hom hou as hy baasspelerig is of as sy haar hare swart kleur nie. Nogtans kan jy nie jou kind met skaamte dwing om beter op te tree nie. Hy sal hom eerder onttrek, want dit laat hom verneder en waardeloos voel.

SÊ EERDER ...“Dit wat jy wil doen, is dalk nie so ’n goeie idee nie. Dink só daaraan ...” Op hierdie manier laat jy jou kind nadink oor wat hy beplan, en waai die idee dalk gou oor. Skaamte laat hom verwerp voel. Maak eerder seker jou kind weet jy is lief vir hom en hou van die kenmerke wat hom uniek maak.

Goeie ouers word nie gebore nie; ons almal leer algaande en namate ons saam met ons kinders groei. Moenie jou kind se persoonlikheid aanval wanneer jy met hom praat nie. Kritiseer sy gedrag, nie sy menswees nie, anders lok jy net ’n verdedigende reaksie uit. Dis eintlik maklik: Dink voor jy praat! Elke ma kan liefdevol én streng wees wanneer dit kom by reëls en verwagtings.

Vertaal en verwerk uit ʼn artikel van Megan Devine.

Slide Show Title: 

Kommuni-
keer rég met jou kinders

Slide Show Intro: 

Moet nooit hierdie
dinge sê nie

Deel/Stuur

Angelique oor boelies en affairs ...

$
0
0
angelique gerber

“Vra raad by Angelique!” Op Facebook het julle vrae ingestroom ... En hier is die antwoorde. Met ’n graad in sielkunde en meer lewenservaring as wat jy op 31-jarige ouderdom sou verwag, antwoord Angelique uit haar hart uit.

Is dit moontlik om ’n affair te oorleef en indien wel, hoe doen jy dit?

Elma Opperman
Sodra owerspel binne ’n verhouding gepleeg word, is dit moeilik om weer aan te gaan asof niks gebeur het nie. Daar is wel baie huwelike wat so iets oorleef het, maar dan moet albei maats hulle opreg daartoe verbind om nuut te begin. Die een wat ontrou was, moet baie hard daaraan werk om die ander persoon se vertroue terug te wen. En die ander party moet baie hard daaraan werk om regtig te vergewe.

Jy sal in jou hart weet of dit tyd is om te gaan en of jy moet bly en vir die huwelik baklei. Niemand anders kan daardie besluit vir jou neem nie. Net jy weet wat werklik agter die toe deure tussen jou en jou maat gebeur. Jy is ook die enigste een wat weet wat in jou hart omgaan.

As julle saam besluit om weer te probeer, moet julle vir berading gaan en julle omring met vriende en familie wat julle kan vertrou en ondersteun. Dinge gaan nie oornag regkom nie.

My kind word op skool geboelie. Hoe kan ek haar help om dit te hanteer?

Christelle Smit
Baie kinders word geboelie. As klein dogtertjie het ek skielik selfvertroue verloor omdat ek oor my rooi hare gespot is. Ek was nooit skaam nie. Maar omdat ek so gespot is, het ek my later heeltemal onttrek en nie met ander kinders gesosialiseer nie.

Hierdie is ’n baie moeilike situasie, want jy kan nie self met die skuldiges praat nie. Behalwe dat die ouers vies gaan wees as jy hulle kinders direk aanval, kan die tergery nog erger word.

Gaan praat met ’n onderwyser wat jou kind vertrou sodat hulle daarvan bewus kan wees en daarna kan oplet. As dit erger word, sal jy boelies se ouers moet kontak sodat hulle daarvan kan weet.

Dikwels is dit net pure jaloesie. Jou kind moet net haar kop hoog hou en nie vir die boelies die bevrediging gee deur te reageer nie. As hulle geen reaksie kry nie, sal hulle gou verveeld raak en aanbeweeg. Bou jou kind se selfvertroue baie op. Vertel haar hoe spesiaal en uniek sy is. Ook dat die Here haar gemaak het soos sy is.

My pa is onlangs oorlede. Hoe help ek my dogter om haar oupa se dood te verwerk?

Landi van Niekerk
Toe ek agt jaar oud was, is my ouma aan kanker dood. Ek en sy het ’n besonder sterk band gehad en sy was baie betrokke by my lewe. Ek was ongelooflik lief vir haar.

Ek was ’n klein dogtertjie en het nie heeltemal geweet wat kanker is nie, maar ek het geweet my ouma was besig om dood te gaan. Die dag van haar dood het die hospitaal laat weet ons moet nou kom, dit gaan nie goed nie. Ons moes ver ry hospitaal toe, maar sy het aan die lewe geklou en geklou tot ons daar gekom het.

Mense sê tyd maak alles beter, maar dit voel vir my of ek meer na haar verlang soos ek ouer word. Daar is tye in my lewe dat ek wens sy was nog hier sodat ek haar kon bel. Ek weet daar is baie mense wat sê dat wanneer jy in die hemel is, jy nie meer gepla is oor wat hier aangaan nie, maar ek glo absoluut sy weet presies wat aangaan. Sy is soos my beskermengel.

As jy klein is, is dit moeilik om jou emosies te begryp of te verwerk. Om te sien hoe swaar my ma kry, was die ergste. Sy het opgehou kerk toe gaan en was baie bitter. Dit was vir haar erg dat my ouma so swaar moes sterf. My ouma is deur my oupa mishandel, en die soort kanker wat sy gehad het, is dié wat boksers kry. Sy is letterlik in kanker in geslaan. My ma was kwaad vir my oupa, kwaad vir die Here. Alhoewel ek my ouma gemis het, het die lewe aangegaan. Kinders kan emosionele goed beter hanteer as volwassenes. Daarom glo ek dit is belangrik dat jy as volwassene ook jou pyn en verlies moet hanteer. Stel jou kind gerus dat daar niks mee verkeerd is om te treur nie. Gesels met jou kind oor hoe julle hom mis. Mettertyd sal julle die goeie tye begin onthou.

Is daar enige raad en wenke wat jy vir enkelma’s kan gee?

Suzanne Leyden
Ek het sonder ’n pa grootgeword, maar my ma het alles gedoen om my te laat voel asof ek in ’n normale huis grootword. Daar was nie altyd geld nie, maar ek het nooit gevoel ek kort iets nie. Sy het my in alles ondersteun en liefde was altyd volop. Sy het ook nooit voor my sleg gepraat van my pa nie. My ma dink natuurlik daar is baie dinge wat sy anders sou gedoen het, maar myns insiens het sy my perfek grootgemaak. Maar ek het tog sekere goed gemis. Dit maak nie saak hoe ’n goeie ma jy is nie, party rolle kan net ’n man vervul. Dit help nie jy probeer ’n ma én pa wees nie. ’n Seun het ’n rolmodel nodig en ’n pa speel ’n groot rol in ’n dogter se lewe.

Dit is by hom dat sy haar waardes kry en haar selfbeeld vorm wanneer dit by verhoudings kom. As jy ’n enkelma is, stel ek voor jy vra ’n manlike vriend, familielid of selfs ’n lid van jou kerk – ’n man wat werklik ’n man van God is – om inspraak in jou kinders se lewe te gee. Iemand wat daar is om nou en dan na jou seun se rugbywedstryd te gaan kyk en wat jou kinders totale aanvaarding gee.

Category: 
Deel/Stuur

Beskerm jou oë teen verswakking

$
0
0
beskerm jou oe

Met die meeste van ons wat dag in, en dag uit voor ʼn rekenaar spandeer, is dit nie verbasend dat ons oë vinniger verswak nie. Hoe kan jy dit verhoed?

Vraag: My sig is besig om vinnig agteruit te gaan. Ek dra ’n bril om ver te kan sien. Hoe kan ek my oë teen verdere agteruitgang en veroudering beskerm? Ek is nou 35 jaar oud.

DIE PRODUKSPESIALIS SÊ:

Jou sig is ’n baie kosbare sintuig. As jy mooi na jou oë kyk, kan jy probleme met jou sig in die toekoms voorkom. Die regte behandeling vir jou oë, insluitend oogdruppels, is noodsaaklik om jou sig so lank as moontlik te behou. Dit beskerm ook jou oë teen veroudering.

Similisan-oogdruppels gebruik homeopatiese bestanddele wat jou oë in staat stel om hulleself te genees. Een groot probleem by mense is konstante droë en rooi oë, wat deur lang tye voor die rekenaar of besoedeling veroorsaak word. Dit kan op die lange duur jou oë benadeel.

Jy kan Similisan Dry, Red Eye Relief-oogdruppels probeer. Dit het geen newe-effekte nie en is veilig vir langdurige gebruik. Dis veral effektief vir jeukerige, tranerige of krapperige oë. Jy kan dit daagliks gebruik.
- Apteker, Giulia Criscuolo, van OTC Pharma SA

DIE VOEDINGSTERAPEUT SÊ:

Baie studies het bewys dat ’n verskeidenheid antioksidante nodig is om jou oë teen veroudering te beskerm. Daarom is dit noodsaaklik om verskillende kosse te eet wat ryk is aan antioksidante, soos vitamien C, vitamien E, betakaroteen, luteïen en sink.

As jy alkohol drink of meestal kosse eet wat van witmeel of suiker gemaak word, ontneem jy jou liggaam die belangrike voedingstowwe wat meestal in vars groente, vrugte, neute en sade voorkom. Dus moet jy heelwat minder brood, koekies, pizza, pasta en gaskoeldrank inneem, en meer groente- en vrugteslaai, groentesop en roerbraaie eet om jou oë te beskerm. Eet veral groen groentes, soos broccoli en spinasie, wat ryk is aan luteïen. Helderkleurige vrugte en groente, soos aarbeie en tamaties, is ook hoog in vitamiene. Vir meer sink eet oesters, neute en sade.

Studies het ook getoon dat gesonde olies soos omega 3-vetsure jou oë kan beskerm. Neem die aanvullings of eet natuurlike olierige vis, soos salm.
– Voedingsterapeut, Beatrice Rabkin, www.beatricerabkin.co.za

DIE OOGKUNDIGE SÊ:

Die meeste oogsiektes kom voor nadat jy veertig geword het. In elke dekade daarna vergroot jou risiko vir oogprobleme. As jy gereeld jou oë laat toets, kan jy help om jou sig te bewaar. Oogsiektes wat veral voorkom, is versiendheid (presbiopie), gloukoom en katarakte.

Jy kan ook jou sig beskerm deur ’n sonbril te dra wat 99% beskerming bied teen ultravioletstrale A en B. Hoe langer tyd jy in die son deurbring sonder ’n sonbril, hoe meer sukkel jou oë om aan te pas as die lig verander.

Kyk ook uit vir simptome soos wasige sig, kolle voor jou oë en dubbelvisie. As jy enige van hierdie simptome waarneem, moet jy jou oë dadelik laat toets. As daar enige skielike verandering in jou sig voorkom, soos blindheid vir ’n paar sekondes wat weer opklaar, moet jy dringend mediese aandag kry, want dit kan op probleme in die bloedsomloopstelsel dui. Neem ook rusperiodes as jy lang tye lees of op die rekenaar werk. Maak seker dat jy gereeld jou oë knip, en as jou oë gou moeg raak, sorg dat jou voorgeskrewe bril reg is vir jou oë.
– Standard Optical Vista oogkundiges, www.eyesite.co.za

Category: 
Deel/Stuur

Jesus, ons voorbeeld in modernetyd

$
0
0

Die wêreld verander daagliks en boonop teen ’n tempo wat al vinniger en vinniger word. Watter eienskappe moet die mens van die 21ste eeu hê om nie net te oorleef nie, maar ook met waardigheid en sukses uitdagings te oorkom?

Die antwoorde kan moontlik gevind word in die manier van dink van die uitsonderlike presteerders deur die eeue. Deur te probeer peil hoe hulle gedink het voordat hulle gedoen het, kan riglyne vir die lewe vandag gee.

As ’n mens dus nuwe moontlikhede soek in jou verhoudings, jou besigheid, jou ouerskap, jou onderwys, jou sport en jou bediening kan jy die vraag stel: Hoe sou Einstein of Da Vinci of Edison (of watter uitnemende denker ook al) die uitdagings van ouerskap, onderwys, tradisies, geld, besigheid, status en so meer benader het?

Binne elk van hierdie kontekste is Jesus uitgedaag om kreatief, nuut en betekenisvol op te tree. Sy denke is meermale tot die uiterste toe uitgedaag. Dit is dus noodsaaklik om Jesus se voorkeure van dink te bepaal ten einde sy optredes met helderder insig te kan peil.

Dit is moontlik om uit die Bybel sekere afleidings te maak rakende die denke van Jesus as volkome mens. Die ontsluiting daarvan (hoe beperk ons as mense dit ook al doen) kan vir die mens van die 21ste eeu onbeperkte moontlikhede inhou.

Die Bybel se primêre doel nie is om as ’n handboek vir hierdie kreatiwiteit te dien nie. Die rol van die Woord is in die eerste plek om die mens in te lig hoe sy gebroke verhouding met God weer volkome herstel kan word.

’n Mens moet baie versigtig wees in jou afleidings omdat Jesus self niks geskryf het nie. Die bronne waarmee ’n mens werk, is afkomstig van verskillende Evangelieskrywers wat elk sy eie doel met die skryf van sy Evangelie gehad het. Nogtans is dit moontlik om wel op grond van hulle geskrifte ’n idee te vorm oor Jesus se denke.

Die Bybel fokus op besondere maniere op die denke as sentrale bron van vernuwing. In Romeine 12:2 sê Paulus: Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.

Hierdie vers stel dit eers negatief, daarna positief. Paulus vra dat gelowiges nie moet voortgaan om te doen wat mense wat sonder Jesus leef in die wêreld doen nie.

Hoe breek ’n mens weg van die algemene lewenswyse van hierdie wêreld? Hoe kry ’n mens dit reg om ’n totaal nuwe koers in te slaan? Paulus stel dit positief: deur anders oor dinge te dink. ’n Mens moet God toelaat om jou te help om anders te begin dink. As jy op ’n nuwe manier dink, begin jy dinge ook op ’n nuwe manier doen.

In 1 Korintiërs 14:20 sê Paulus: Broers, moenie in julle denke kinders wees nie. Wees onvolwasse in die slegte dinge, maar in julle denke volwasse. Wanneer ’n mens in jou denke groei, sal jy ook anders begin optree. ’n Mens se denke bepaal die rigting van jou toekoms. Onvolwasse, negatiewe denke vandag is die begin van ’n vreugdelose en passielose toekoms.

In die oudheid het mense lang rokke gedra. Wanneer hulle opgestaan het om te loop of werk, het hulle die rok met ’n gordel om hulle middel vasgemaak. Daarom het die uitdrukking omgord die lendene’n idiomatiese uitdrukking geword vir “om gereed te maak”.

Petrus skryf hier dat mense hulle verstand moet “omgord”, dit wil sê “in rat moet kry”. Daarmee doen hy ’n beroep op sy lesers om hulle denke op iets anders te vestig: op ’n droom wat in die toekoms lê!

Wanneer Christus weer kom, gaan mense die voorreg verkry om vir altyd saam met Hom in die hemel te wees. Indien ’n mens jou denke vernuwe en op hierdie pragtige toekomsdroom fokus, sal jou lewe hier op aarde ook ’n ander wending neem.

Mense moet weet hoe Jesus se brein gewerk het. Om insigte te bekom in Jesus se wysheid, sy leierskap en sy invloed, is dit belangrik om ’n verkenningstog te onderneem van die essensie van sy denke. Voor gedrag en optrede is daar denke en/of emosie. Gedrag is die resultaat van ’n dink- en gevoelsproses.

Soos mense vandag, het Jesus keuses gehad hoe om te dink oor elke situasie, mens of probleem waarmee Hy gekonfronteer is. Hierdie dink keuses het gelei tot sy optredes wat in die vier Evangelies opgeteken is. Navorsing het aangetoon dat Jesus bepaalde dink voorkeure gehad het en bepaalde dinktegnieke verkies het.

Die uitgangspunt is dat die Evangelies as bronne gebruik word om ’n idee te vorm van wat Jesus geleer en gedoen het.

’n Mens kan dit ook anders stel: die fokus val op die “vertelde Jesus”, oftewel die Jesus soos die evangeliste Hom teken. Om te gis hoe akkuraat hulle ooreenstem met die “regte” of die “historiese” Jesus, is nutteloos. Daar bestaan nie beeld-opnames van sy optredes of klankopnames van sy leringe nie. Die bronne wat wel beskikbaar is, die Evangelies, word gebruik.

Om soos Jesus te doen, is elke gelowige se taak. In elke situasie behoort ’n mens te vra: Wat sou Jesus nou doen? Dis nie ’n misterie of groot geheimenis nie. Die Nuwe Testament se vier Evangelies vertel van baie geleenthede waar Jesus op sy unieke, besondere manier opgetree het en ’n mens kan inligting hieruit bekom om na te volg.

soos_jesus_boek.jpgOm soos Jesus te doen, moet ’n mens ...

  • Dink soos Hy
  • Voel soos Hy
  • Wees soos Hy.

Die boek “Soos Jesus” deur Hennie Stander, Kobus Neethling en Raché Rutherford verskyn April en is beskikbaar in boekwinkels of aanlyn by voelgoedwinkel.co.za.

HENNIE STANDER is adjunkdekaan van die fakulteit Geesteswetenskappe (UP) en Professor in Grieks. Hy is outeur en mede-outeur van meer as vyftig boeke wat plaaslik en in die buiteland gepubliseer is.

KOBUS NEETHLING is internasionaal bekend as kreatiwiteitskenner en het onlangs die Distinguished Leader Award vir sy hoogstaande werk ontvang. Hy is die skrywer van meer as sewentig trefferboeke, asook vyf televisie-reekse.

RACHÉ RUTHERFORD is ’n kreatiwiteitskenner wie se kennis van heelbreindenke haar toelaat om mense beter te verstaan. Sy het al meer as veertig boeke saam met Kobus Neethling geskryf.

Category: 
Slide Show Title: 

Leef meer soos Jesus

Slide Show Intro: 

Leer by Hom in
modernetyd

Deel/Stuur

Weigh-Less is op die 2 beginsels gebou

$
0
0
Mary Holroyd

Goeie menseverhoudings en persoonlike kontak is die fondasie waarop Mary Holroyd Weigh-Less gebou het. Na drie dekades pas sy nog steeds dié beginsels toe.

My grootste prestasie tot op datum …

is die MBA-graad wat ek op die ouderdom van 55 behaal het. Ek het die eerste jaar gedruip, en dit het my vyf jaar geneem om die kursus te voltooi. Maar ek het dit gedoen! Ek is op 15 jaar uit die skool (in Engeland); dus is ek baie trots op my kwalifikasie.

Dít maak of breek ’n besigheid ...

Menseverhoudings is die boustene van enige suksesvolle onderneming. As jy nie ’n goeie verhouding met die mense om jou het nie, gaan hulle jou nie vertrou nie. Hulle gaan nie lojaal wees en die pad saam met jou stap nie. Jy gaan ook sukkel om hulle te motiveer.

Dít is vir my ononderhandelbaar ...

om my werksetiek en waardes aan my personeel oor te dra. Hulle is ’n verlenging van my maatskappy se beeld en speel ’n belangrike rol in ons sukses. Almal het nie altyd dieselfde waardes nie en het riglyne nodig oor wat vir jóú aanvaarbare gedrag by die werk is.

Ek het my doel bereik as ...

die groepslede hulle teikengewig bereik. Dis immers waaroor die besigheid gaan. As jy jou teikengewig op ons program bereik, het ons in óns doel geslaag. Hoe meer lede dit regkry, hoe meer leiers het ons wat hulle eie groepe kan begin. En dit is hoe ons die besigheid uitbrei.

Ek bestee baie tyd aan ...

opleiding. Tot 1997 het ek self ons groepleiers opgelei. Dis een van die maniere waarop ek hulle toerus om hulle groepe effektief te bestuur. ’n Groot deel van my dag bestaan ook daaruit om my groepleiers te motiveer en te ondersteun. In dié opsig is ek baie hands-on.

Ek glo onwrikbaar daarin dat ...

daar sekere dinge is wat jy nie deur middel van tegnologie kan regkry nie. Om ’n persoonlike verhouding met iemand op te bou, is een daarvan. Jy moet weet wanneer dit gepas is om ’n teksboodskap of ’n epos te stuur, en wanneer jy self na iemand toe moet gaan.

Een van my grootste uitdagings is ...

om die groepe te laat groei sonder om ’n kapasiteitsprobleem te ontwikkel. Groepleiers kan net ’n beperkte aantal lede per groep hê anders raak dit onpersoonlik. As jou groep te groot is, verloor jy daardie human touch– die spil waarom ons besigheid draai. Een groepleier kan ook net ’n beperkte aantal groepe hanteer.

Om sukses te behaal, moet jy ...

die konsep van jou besigheid so effektief moontlik oordra. In ons geval verkoop ons meer as net ’n gesonde eetprogram. Ons gee mense hóóp. Baie keer is gewigsverlies ’n oplossing vir ’n ander probleem, soos dat jou huweliksmaat jou onaantreklik vind. Jy moet dit by jou kliënte en personeel tuisbring.

Slide Show Title: 

Mary Holroyd
van
Weigh-Less:

Slide Show Intro: 

Dít maak of breek ʼn besigheid

Deel/Stuur

Jou dekor-persoonlikheidsgids

$
0
0
dekor

Oos, Wes, tuis bes! Jou huis verklap meer van jou en jou persoonlikheid as wat jy dink. Net so het jou omgewing ’n invloed op jou gemoed. So, hoe lyk jou huis?

Wat verklap jou huis oor wie jy is?

Dekorkenner Tanja Beyers vertel hoe jy met selfvertroue jou unieke stempel op jou huis kan afdruk en hoe om meubelstukke wat met jou ‘praat’ raak te sien.

Tanja verduidelik dat jou omgewing in geheel, asook die individuele stukke, jou geaardheid weerspieël. “Alles, van die kleure, teksture, kunswerke, meubels tot die vensterbedekking, beligting en die uitleg is ’n weerspieëling van wie jy is en het ’n invloed op hoe jy voel.”

’n Moderne omgewing sal ’n klassieke persoon ongemaklik laat voel, terwyl ’n eklektiese omgewing ’n moderne siel geheel en al sal oorweldig en benoud sal maak. Iemand wat van orde hou, sal onmoontlik in ’n kamer vol lappies, kussings en ’n mengelmoes ornamente tot rus kan kom. En as jy van fluweelbekleedsel en tossels droom, sal jy moeilik jou sit op ’n asimmetriese rusbank kry.

“Dit is belangrik om ontspanne in jou leefomgewing te wees,” verduidelik Tanja. “Daarom moet jy gereeld van onnodige goed ontslae raak. Ek glo beslis ‘minder is meer’ en dat jy net stukke om jou moet hê waarvan jy regtig hou.

“My raad aan mense is altyd om iets egs in hulle leefruimte in te bring. Iets soos jou oupa se skryftafel of jou ouma se bal-en-kloupootstoel. ’n Ou stuk wat op die regte plek staan, kan selfs in ’n ultramoderne omgewing wonderlik werk. Selfs al is dit ’n bietjie verniel – dit maak nie regtig saak nie, dit bring jóú lewe in die ruimte in. Stukke wat ’n storie van jou herkoms vertel, maak enige vertrek spesiaal. Alles hoef nie perfek te wees nie, want daar is ’n yl skeidslyn tussen gesofistikeerde minimalisme en ’n siellose vertrek.”

Tanja verduidelik daar is ’n vinnige en goedkoop manier om jou stempel op enige leefruimte af te druk. “Verf is die mees effektiewe manier om dadelik ’n verskil te maak. Jy moet die kleur kies wat by jou pas.

Om byvoorbeeld een muur met muurpapier te versier, maak ook ’n groot verskil.” Gestel jy het eenvoudige meubels en verkies vaal kleure, dan kan jy die vertrek in ’n grys of vaal skakering verf. Deur een muur met ’n bedrukte muurpapier te plak, maak jy die vertrek interessant en gee lewe aan die ruimte sonder om eenvoud in te boet.

As jy nie weet waarvan jy hou nie, gaan loop in dekorwinkels rond en blaai deur tydskrifte totdat jy agterkom wat met jou ‘praat’. So sal jy gou leer wat vir jou en jou gesin werk.

Waarvan hou verskillende persoonlikhede in ’n huis?

Ontmoet die sprankelende diva, die kunssinnige dame, die romantiese dromer en die agtermekaar vrou. Kyk met wie se styl jy jou kan vereenselwig – uitspattig, klassiek, sag of eenvoudig.

DIE SPRANKELENDE DIVA– Wanneer dit by styl kom, laat jy dit altyd werk. Of jy nou R10 of R1 000 uitgee, dis ’n wenner. Jy is lief vir helder kleure, stylvolle teksture, patrone en sterk fokuspunte. Daar is nie ’n beskeie haar op jou kop nie en nie ’n vaal hoekie in jou huis nie.

DIE KUNSSINNIGE DAME– Jy geniet ’n besoek aan ’n museum net soveel soos ’n rustige wandeling in die natuur. Jy hoef egter nie noodwendig duisende te spandeer op ’n oorspronklike kunswerk vir jou sitkamer nie. Dis dalk ’n goeie idee om jou eklektiese smaak af te wissel met iets klassieks of swart en wit.

DIE ROMANTIESE DROMER– Jy voel gemaklik in elegante, vroulike klere en jou huis verklap ook jou sagte kant. As jy kon, sou alles rooskleurig gewees het, maar nou moet jy ’n man akkommodeer ... Gebruik donkerder skakerings van jou gunstelingkleure om die vroulikheid te onderbreek en fokuspunte te skep. Kombineer jou antieke meubels met moderne neigings, soos vinielwoorde teen die muur.

DIE KOEL, KALM, AGTERMEKAAR VROU– Hoewel jy van eenvoud hou, moet jy waak teen ’n voorkoms wat afgeskeep lyk. Koop duursaam wanneer jy die slag geld in jou dekor belê en kies natuurlike kleure wat maklik bymekaar pas. Jy kan dit altyd met helder bykomstighede karakter gee.

Hoe werk dekormodes en wat is nou in?

Jy hoef nie baie geld te spandeer om byderwets te wees nie. Bring die wêreldtendense huis toe op ’n bekostigbare manier.

Jy kan op hoogte bly deur tydskrifte dop te hou. Maar dit beteken nie dat jy daardie tendense slaafs moet navolg nie! Min mense kan dit in elk geval bekostig om elke nuwe gier in hulle huise lewe te gee. As jy die nuutste dekormodes vir die winter ’n kans wil gee, probeer die volgende:

ELEGANSIE– Een van die grootste neigings is klas en styl so reg uit Frankryk. Hier gaan jy nie noodwendig goedkoop daarvan afkom nie, maar een duursame stuk kan wonderlik werk. Kies ’n stylvolle kandelaar, geblomde muurpapier vir ’n fokusmuur of ’n elegante ornament.

SWART EN WIT – Kies iets wat swart en wit kombineer of meng swart en wit ornamente. As jy kan, doen een hele vertrek oor in swart en wit met iets in die styl wat jy verkies, soos antieke hout of swaar fluweel.

HUISLIK – Omdat jy in die herfs en winter meer tyd binnenshuis deurbring, moet dit knus en gesellig wees. Kussings skep gou ’n warm atmosfeer; so ook erfstukke wat ’n storie vertel van jou kinderdae of herinner aan die era toe jou ouma jonk was.

GROOT EN OPSIGTELIK– Nooi die natuur se herfskleure in jou huis in met lappe, kussings of ’n interessante mat. Dit sal ook kleur aan die koue wintermaande verleen.

ANTIEK As jy die regte stuk kies, sal dit nooit uit die mode gaan nie. Donker, statige houtmeubels kan styl skep sonder om die hele vertrek se atmosfeer te verander. Kies ’n koffietafel of boekrak, wat ook funksioneel is.

Gaan kyk met nuwe oë na jou huis! Dink buite die kassie en maak jou huis ’n weerspieëling van die nuutste neigings met ’n kinkel.

Slide Show Title: 

Jou ultimate dekor-persoonlik-
heidsgids

Slide Show Intro: 

Wat verklap jou huis
oor wie jy is?

Deel/Stuur

Wen R50 000 se boeke!

$
0
0

Navorsing wys dat ʼn kompliment jou dag ophelder. Ongelukkig gee ons heeltemal te min komplimente! Ons wil jou nou beloon vir die glimlagte wat jy uitdeel.

Vanaf 3 tot 9 Maart vier ons Voelgoedweek! In hierdie paar dae maak FINESSE dit haar missie om mense regoor Suid-Afrika se lewens met lig te vul deur iets so maklik soos ʼn kompliment. Daarom gee ons vir jou in die Maart-uitgawe 12 GRATIS kompliment-plakkers. Die bal is nou in jvgweek_plakkers.jpgou hande! Plak dit teen jou vriendin se yskas, op jou man se kosblik, jou kinders se deur of gee dit vir ʼn karwag. Gee vir 12 mense in Voelgoedweek ʼn glimlag met ʼn opregte kompliment.

Maar dis nie al nie ... Ons wil jou verder aanmoedig, en beloon, vir jou deelname! Vir 5 dae gaan ons elke dag ʼn massiewe boekpakket ter waarde van R10 000 weggee! Al jou gunsteling skrywers soos Andries Enslin, Susan Coetzer, Isak Burger, Hannon en meer. Wat moet jy doen om dit te wen? Deel jou plakkers uit! Neem ʼn foto saam met die persoon vir wie jy die kompliment gegee het. Stuur jou foto’s daagliks in na christelle@carpediem.co.za en staan ʼn kans om hierdie prys te wen. Wel ... staan 5 kanse om te wen!

Maak daarom seker dat jy jou FINESSE gekoop het! Kry sommer nog een ... of twee ekstra. Buitendien, jy kan nie genoeg mense opreg komplimenteer nie! Wie weet, daardie kwaai tannie by jou dokter se spreekkamer is dalk net alleen, en jou plakker gee haar weer nuwe lewe. So, onthou ... kry jou FINESSE voor dit te laat is.

KOMPETISIEREËLS

  1. Om in aanmerking te kom moet jy jou “kompliment-foto” stuur na christelle@carpediem.co.za. Op geen ander platform sal foto’s aanvaar word nie.
  2. Een inskrywing per persoon, per dag word aanvaar.
  3. Die foto moet wys vir wie jy die plakker gee, en moet die plakker self ook op hê.
  4. Geen naakte, onsedelike of skendende foto’s sal aanvaar word nie. Voelgoed het die reg om enige foto wat van so ʼn aard is, te diskwalifiseer sonder om die deelnemer in kennis te stel.
  5. Geen foto sonder ʼn naam en kontakbesonderhede sal as inskrywing aanvaar word nie.
  6. Foto’s word slegs ontvang vanaf Maandag 3 Maart tot Vrydag 7 Maart 2014.
  7. Wenners word bepaal deur die trekking van hulle name elke oggend, gebaseer op die vorige dag se foto’s wat ontvang is.
  8. Die eerste trekking vind plaas op Dinsdag 4 Maart om 9:00, waarna die foto’s van Maandag 3 Maart op Facebook en/of Voelgoed.co.za gelaai sal word. Daarna word elke dag se inskrywings die volgende oggend gelaai, na die trekking.
  9. Wenners sal daagliks telefonies of per epos in kennis gestel word.
  10. Die kompetisie sluit amptelik op Vrydag 7 Maart om middernag. Geen foto’s wat na hierdie tyd ontvang word, sal in ag geneem word vir die finale trekking nie.
  11. Die wenners is finaal en daar sal geen verdere korrespondensie daaroor gevoer word nie.
  12. Die prys bevat ʼn baie groot verskeidenheid boeke van Carpe Diem Media ter waarde van R10 000 per pakket. Daar mag duplikate voorkom om die waarde op te maak.
  13. FINESSE en Voelgoed behou die reg om enige foto op digitale en/of gedrukte platforms te gebruik.
Category: 
Deel/Stuur

Dís wat jou negatiewe emosies verklap

$
0
0
negatiewe emosies

Is jy geneig om negatiewe emosies te onderdruk? God het ons gemaak om ’n verskeidenheid gevoelens te ervaar. Hoe kan jy die negatiewe emosies hanteer?

Dis die moeite werd om aandag aan jou negatiewe emosies te gee, al is dit vir jou baie swaar. Moenie dink dis sommer niks as jy jou vir die geringste vir iemand vererg of altyd onvergenoegd is nie. Agter hierdie gevoelens skuil daar ’n versteekte boodskap. Daar is moontlik êrens ’n kwessie in jou lewe wat verhinder dat jy jou beste self is en wat keer dat jy geestelik groei.

Jy kry maklik skaam en voel selfbewus

As jy skaam voel, is jy waarskynlik onseker van jouself. Dink só daaraan: Die waarde van ’n item word gewoonlik bepaal deur hoeveel iemand bereid is om daarvoor te betaal. Dan moet jy mos baie werd wees, want daar is ’n hoë prys vir jou betaal!

Onthou dat jy uniek gemaak is en dat Christus jou onvoorwaardelik liefhet. Probeer om elke dag ook só oor jouself te dink. Jy is kosbaar en spesiaal!

Jy voel gereeld eensaam en alleen

Jy is gemaak met ’n behoefte aan opregte vriendskap. As jy eensaam voel, is dit ’n teken dat jy meer moeite moet doen met jou verhoudings. Onthou dat jy ’n lojale Vriend het wat net die beste vir jou wil hê en altyd reg is om te luister. Sorg dat jy gereeld bid en eerlik oor jou diepste behoeftes praat.

Benut verder elke moontlike kans om ander mense lief te hê, vir hulle om te gee en hulle te bemoedig. Só sal die liefde deur jou kan vloei en sal jy ook geseën word, want hoe meer liefde jy uitdeel, hoe meer sal jy kry.

Jy raak maklik gefrustreerd as dinge verkeerd loop

As jy gefrustreerd is omdat jou lewe nie verloop soos jy dit wil hê nie, is dit dalk tyd om eerder te begin vra wat die hemelse planne vir jou is. Die beste manier om dit te doen is om met jou hemelse Vader te praat en moeite te doen om regtig ’n verhouding met Hom te hê.

Geniet julle tye saam; jy sal later Sy fluisterstem al hoe makliker kan hoor. Wees bereid om jou eie planne vir die toekoms te laat vaar, dan sal jy die lewe kan hê wat daar lankal vir jou beplan is. En jy sal alles kry wat jy nodig het om jou daarvoor toe te rus.

Jy is gedurig bekommerd en gespanne

God wil graag hê jy moet vrede ervaar – daardie vrede wat ’n mens nie kan verklaar nie. Maar as jy gedurig onrustig is, kan jy nie die sekuriteit beleef wat Hy jou wil gee nie. Jy moet besef dat Hy presies weet wat jou so opvreet van binne af. Hy gee om en kan maklik iets aan die situasie doen, as jy net vertrou. Gee elke deeltjie van jou lewe aan Hom oor – jou gesondheid en jou verhoudings, jou werk en jou finansies – en wees verseker dat daar mooi na jou en jou geliefdes gekyk word.

Jy word vir die geringste dingetjie kwaad

Woede verklap dat daar iets in jou lewe is waarmee jy nie tevrede is nie. Dit voel asof jy geen beheer het nie. Jy sal dinge vir jouself baie makliker maak as jy aanvaar dat net een Persoon regtig in beheer van jou lewe is. Die enigste ding waaroor jy wel beheer het, is hoe jy op slegte dinge gaan reageer.

Jy weet miskien nie altyd waarom sekere omstandighede in jou lewe toegelaat word nie, maar een belofte wat jy wel het, is dat niks ooit vir jou te moeilik sal wees om te hanteer nie.

Elkeen van jou negatiewe emosies het dus ’n baie kragtige, positiewe boodskap. Moenie daardie boodskap misloop deur jou gevoelens te ignoreer nie. Probeer om van nou af mooi te dink oor wat jy ervaar en wat dit vir jou wil sê.

Vertaal en verwerk uit Runaway Emotions: Why You Feel the Way You Do and What God Wants You to Do About it van Jeff Schreve.

Deel/Stuur

Voelgoed videos

$
0
0

Om iets waardevols in die kuberruim te kry, is soos om ’n naald in ’n hooimied te soek! Ons het vir jou die 5 mees inspirerende video’s opgespoor.

MAANDAG: Liefde is nie net bedoel vir ’n uitverkose groepie mense in jou lewe nie. Deel jou liefde met almal, en jy sal sien hoeveel liefde kry jy terug! Kliek hier vir jou Voelgoed video vir die dag.

 

 

Deel/Stuur

Die “wees-lief-vir-jouself” vraelys

$
0
0
lief vir jouself

Die hart van emosionele gesondheid is om van jouself te hou. Jy moet vergeet van alles wat jy dink jy veronderstel is om te wees en die mens omhels wat jy uiteindelik geword het.

Leer om jouself lief te hê! Gelukkig is daar maniere om van voor af op jouself verlief te raak. Ons wys jou hoe.

Bepaal hoe jy oor jouself voel

Jy ontvang ’n uitnodiging na ’n partytjie. Wat is jou eerste gedagte?

A Wat op aarde gaan ek aantrek?
B Partytjies is só vervelig.
C Ek ken niemand nie. Met wie gaan ek praat?

By die werk word jy gevra om nuwe idees voor te stel. Hoe voel jy?

A Senuweeagtig, maar opgewonde. Dis vir jou lekker om te wys waartoe jy in staat is.
B Gefrustreerd. Dit voel asof jy jouself nooit kan uitdruk soos jy graag wil nie.
C Doodbang. Jy gaan heel waarskynlik oor jou woorde struikel of vergeet wat jy wou sê.

Jy word aan ’n baie suksesvolle vrou voorgestel. Wat is jou reaksie?

A Gou! Onthou haar naam. Sy is die soort persoon wat ek graag wil ken.
B Sy is regtig irriterend. Seker mal oor haarself.
C Ek is seker baie vervelig vir haar.

Wat sal jy die heel graagste aan jou voorkoms wil verander?

A Ek sal daarvan hou om ’n kilo of twee te verloor.
B Ek moet baie dringend fiks word. As ek net die tyd en die motivering kan kry om dit te doen.
C Waar sal ek begin? Ek herken myself nie meer nie.

’n Vriendin vra ’n guns, maar jy kan haar help nie. Wat is jou reaksie?

A Sê vir haar duidelik maar op ’n mooi manier dat jy graag sou wou help, maar nie hierdie keer kan nie.
B Jy stem teësinnig in en hoop sy snap die skimp.
C Jy stem in. Jy haat dit om mense in die steek te laat.

Dís wat jou antwoorde verklap

MEESTAL A’S

Jou eiewaarde is baie gebalanseerd. Jy hou van uitdagings en laat ook nie toe dat mense jou misbruik nie.

MEESTAL B’S

Die idee wat jy van jouself het, neig na die negatiewe kant. Jy is baie ingestel op ander se opinie oor jou. Ongelukkig het jy nog nie die vermoë ontwikkel om nee te sê nie.

MEESTAL C’S

Ai, vrou! As jy maar kan sien hoe God en ander jou sien. Jy is pragtig, die kroon van God se skepping. Besluit sommer nou om jouself lief te hê.

Eiewaarde word nie bepaal deur die goedkeuring van ander nie

“My lewe lank begeer ek om mooi klavier te kan speel, maar ek het vroeg-vroeg besef ek is geen Richard Clayderman nie,” vertel Christa Smuts.

“Dit demp egter nie my begeerte om voor die klawers te gaan sit sodra ek alleen by die huis is nie. As niemand my kan hoor nie, speel ek met passie en oorgawe.

“Ons het onlangs ’n hondjie ryker geword, ’n Yorkie met die naam Brutus. Dis ’n baie musikale hond! Elke keer as ek Beethoven se Maanligsonate (probeer) speel, kom sit hy kiertsregop voor die klavier, sy koppie so skeef gedraai. Duidelik geniet hy my spel.

“Ek het besef daar is fout toe ek nou die dag onmiddellik oorslaan na die Maanligsonate toe Brutus ’n keel opsit omdat ek Chopsticks speel. Dis toe dat ek weet: Ek sal enigiets doen om ander se goedkeuring te kry, selfs ’n hond s’n.”

Bea Potgieter, ’n kliniese sielkundige, vertel dat Christa ’n toestand beskryf waaraan omtrent alle mense op aarde ly. “Mense meet hulle eiewaarde aan wat ander van hulle dink. Dit begin kleintyd wanneer jy self nog besig is om ’n opinie te vorm oor wie en wat jy is. Sodra mense dinge oor jou begin sê, kry hulle die ‘mag’ om te bepaal hoe jy oor jouself voel. Die probleem ontstaan sodra die wêreld se definisie van jou en die verwagting van wie jy moet wees, swaarder begin weeg as jou eie opinie.”

Martha Beck, skrywer van The Joy Diet, glo dit is nodig om seker van jou morele waardes te wees. “Dink wat is vir jou reg en verkeerd; aanvaarbaar of onaanvaarbaar; wat jy nie bereid is om te sê of te doen nie.”

Sy gebruik die voorbeeld van Kersfees: Stuur jy SMS’e aan almal op jou foon selfs al ken jy hulle nie? Nooi jy familie oor vir Kersfees selfs al irriteer hulle die wit waks uit jou uit?

Enigiets wat jy doen om ander mense se goedkeuring te kry sonder dat jyself enige begeerte daarvoor het, beteken dat jy jouself te veel meet aan wat ander van jou dink. Is dit regtig die moeite werd om jouself so te verloën en net slegter oor jouself te voel?

Goedkeuringverslaafdes sukkel ook om van ander te verskil. In plaas van om jou sê te sê, mompel jy onhoorbaar of knik net instemmend.

Bea gee die volgende raad: “As iemand weer iets sê waarmee jy nie saamstem nie, skraap die moed bymekaar en gee jou mening. Die ergste wat kan gebeur, is dat jy ’n vriend kan verloor wat nooit regtig vir jou omgegee het nie. Aan die ander kant ontdek jy heel moontlik dat jy van mense kan verskil en steeds aanvaar word. Dit is die regte manier om vriendskappe te bou, want so het jy respek vir jouself en jou vriende.”

Slide Show Title: 

Hoe lief is
jy vir
jouself?

Slide Show Intro: 

Vul hierdie vraelys
in om uit te vind!

Deel/Stuur

Ena Murray se diepste geheime

$
0
0
ena murray

Die geliefde Ena Murray, oftewel Mostert, dra ’n yslike geheim saam. Kanker. Ena weier om behandeling te kry, en hoewel baie mense dit nie verstaan nie, was sy nog altyd bekend daarvoor om dapper te leef.

Ena, jy het verpleegkunde gestudeer, maar besluit om voltyds te skryf. Dit was nogal ’n dapper besluit destyds?

Van kleins af was daar altyd stories in my kop wat ek vir my poppe vertel het! Later, toe ek kon skryf, het ek die stories begin neerskryf. En mettertyd het my feë- en kabouterverhaaltjies plek gemaak vir meer ontwikkelde werk en stories wat nader aan die werklikheid was. Dit is egter in die stilligheid gedoen.

Voor ek my kom kry, was my eerste grootmensstorie klaar. Ek was tevrede dat ek aan myself bewys het dat ek dit kan doen. Ek het dit in die laai weggepak, min wetende dat daardie selfde storie sowat ses jaar later as my eerste vervolgverhaal in Rooi Rose sou verskyn en ’n onmiddellike sukses sou wees. Die boek is later met die titel Die glimmende simitar uitgegee.

Na matriek het ek twee jaar lank in Bloemfontein verpleeg. Die skryfgogga het my egter klaar gebyt. Daar was nie veel tyd vir skryf nie, maar ek het deurgedruk. Baie van my ervarings as verpleegster het later in my boeke verskyn.

Jy het altyd baie goeie navorsing gedoen vir jou verhale, maar was dit nie ’n bietjie vreemd om tussen melaatses te gaan bly nie?

Ek het altyd probeer om getrou aan die waarheid te skryf sodat lesers hulle met die karakters en stories kon vereenselwig. So was dit ook met Plekkie in die son. Om die verhaal te skryf, het ek ’n ruk lank tussen die melaatses in die Wesfort-inrigting gaan woon sodat ek regstreeks inligting oor hierdie oeroue siekte kon opdoen.

Wat my die meeste getref het tydens my besoek aan die inrigting, was nie die siekte self nie. Melaatsheid is nie afstootliker as ander siektes nie. Wat ’n diep indruk maak, is die absolute vereensaming waarin die siekes skielik geruk word, en die pyn wat hulle aangedoen word deur die verwerping deur ‘die mense daarbuite’.

Jy het nooit self gereis nie, maar tog het lesers die wêreld deur jou oë ontdek. Hoe het jy die plekke bestudeer sonder die internet?

Deur boeke en reisbrosjures! Ek het by reisagentskappe uitgevis oor bestemmings en radio geluister vir inspirasie. Ekself was nooit oorsee nie – nie eens op Robbeneiland nie – maar my naslaanwerk oor daardie vreemde wêrelddele was baie interessant.

Ek het so ’n aardbolletjie gehad, en as ek die keer lus gehad het vir ’n ‘buitelandse’ storie, sit ek die aardbolletjie voor my neer, maak my oë toe en draai dit in die rondte. Dan druk ek met my vinger op ’n plek en maak my oë oop en kyk waar ek gedruk het. Oor daardie plek het ek dan gaan lees en skryf. As dit nie interessant genoeg was nie, draai ek maar net weer die aardbol.

Ena, jy het in jou loopbaan 131 boeke geskryf en in 1980 ook jou eie boeke uitgegee. Waaraan skryf jy jou sukses toe?

Ek het darem al op 14 my eerste storie geskryf! Ek was gelukkig om vroeg in my lewe my passie te besef en kon dit van vroeg af uitleef. In die 1980’s het ek besluit om my eie boeke uit te gee. Die eerste boek wat Ena Murray Boeke gepubliseer het, was juis my heel eerste pennevrug, Die glimmende simitar, wat ek op skool geskryf het.

My sukses sal ek toeskryf aan goeie ou selfdissipline en ’n streng skryfprogram. Die helfte van die geheim van ’n suksesvolle skrywer is harde werk. Ek het altyd in my kabouterhuisie naby Wildernis geskryf. Ek het die huisie self gebou, met die bos aan weerskante. Soos die idees by my opgekom het, het ek dit begin neerpen.

My boeke is meestal in die nag geskryf, so van eenuur af, as die stilte oor die wêreld daal. Maar met die laaste drie boeke moes ek ’n mediese borsrok dra. Sommer bo-oor die nagrok. Ek het net soos ’n Middeleeuse spook gelyk!

Byna al my verhale is in omnibusse opgeneem, en meer as 350 000 omnibusse is tot op hede verkoop. Dis ’n verbysterende syfer vir die plaaslike mark. Dit is ’n gawe van Bo. Ek is maar net ’n instrument. En uit dankbaarheid het ek nooit op ’n Sondag geskryf nie.

Jy het nou kanker, maar weier om behandeling te ondergaan. Dis vir baie van ons lesers ’n raaisel. Hoekom het jy so besluit?

Soos met alles in my lewe was dit nie ’n ongegronde besluit nie. Ek het gelukkige lewe gelei, ’n vol lewe. Daar is niks waarop ek vandag terugkyk en nie met sekerheid kan sê dat dit nie presies was wat ek op daardie tydstip van my lewe moes deurleef nie. My sake is agtermekaar, ek is gereed om my Skepper te gaan ontmoet.

Tans woon ek in die eenheid vir verswaktes by die Santos Haven aftreeoord in Mosselbaai. My kamer het ’n enkelbed en min ander goed. Dis al wat ek nodig het. Ek word goed versorg, kry gesonde etes en goeie geselskap van die personeel sowel as die ander inwoners. Ek is gelukkig.

My lewe was wonderlik. Ek was gelukkig in my tweede huwelik, en my eerste huwelik was ook nie sonder sy eie vreugde nie! My lewe lank het ek stories in my kop rondgedra en ek het oor die gawe beskik om dit op papier te kon neerskryf. Dit was ’n seën. Ek het geen verwyte nie, my lewe het ek ten volle uitgeleef. Daar is rustigheid in my oor wat die toekoms inhou. Nog ’n lewensjaar is hierdie afgelope Desember gevier. Ek kyk vorentoe en soms, net soms, terug oor die mooi herinneringe wat ek my lewe kan noem.

Die enigste mediese hulp waarvan ek gebruik maak, is ’n suurstofmasjien om my te help asemhaal. My stories is geskryf, my lewe is geleef. Ek is rustig en kalm. Ek weet wat op my wag.

Category: 
Deel/Stuur

“My seun sterf … en ek begin lewe”

$
0
0
storie van hoop

Hy was haar hart se punt, haar kosbaarste geskenk. Toe gebeur die ondenkbare, en Judene Visser leer dat die dood ’n baie waardevolle leerskool oor die lewe is.

Ek is só moeg. My oë is dik gehuil en my kop wil bars. Dankbaar sak ek in een van die hospitaal se lang, stil gange neer. Daar is nie mense nie, nie masjiene nie. Geen teken van die werklikheid wat ’n entjie verder besig is om in my grootste nagmerrie te ontaard nie.

Met my knieë opgetrek tot teen my bors voel ek skielik verskriklik klein. Die enormiteit van die situasie is besig om my te verswelg. Drie dae gelede is breinvliesontsteking by ons seun, Juan-Pierre (19), gediagnoseer. Oornag is ons sterk, gesonde kind deur ’n bakteriële infeksie platgetrek wat besig is om sy ingewande tot ’n sagte pulp te vernietig. Is daar nog enige hoop? Beteken ons gebede iets? Is dit my skuld?

Van ver af hoor ek die voetstappe aankom. Dit klink na manskoene, maar ek is te moeg om op te kyk. Die skoene loop verby, maar gaan staan en draai om. Stap terug tot reg voor my. Bruin en blink, nes my oupa s’n. Dan kom sit hy langs my op die vloer. Knieë opgetrek, nes ek. Met groot moeite kyk ek op, vas in die dokter se oë. Omgee-oë. Hulle raak waterig terwyl hy praat.

“Ons kan geen breinaktiwiteit opmerk nie,” sê hy sag. My seun is … breindood? Ek het net twee vrae. “Is daar enige moontlikheid dat breinaktiwiteit kan terugkeer?” en “Het JP enige pyn?” Net een van my vrae kry die antwoord waarvoor ek gehoop het.

Die tyd is besig om uit te loop. Ek vra nóg ’n keer dat my seun se lot verander word. Ek wéét dis moontlik. As JP vandag, in hierdie laat stadium van die siekte, op ’n onverklaarbare manier genees word, sal dit tog ’n wonderwerk wees! Ek sal die res van my lewe daaraan wy om mense van Sy grootsheid te vertel. “Gee my net die kans!” Niks verander nie.

Later vra ek anders: “As sy lewe dan nie gespaar kan word nie, laat dan net toe dat sy liggaam gespaar word,” smeek ek. “Asseblief! Ek sal hom voer en skoonmaak. Liefhê, vertroetel en vertel hoe spesiaal hy is, selfs al kan hy niks verstaan nie.” Ek weet dit was selfsugtig – om vir ’n gestremde seun te vra eerder as ’n dooie een.

Net mense wat al self verby die punt van desperaatheid gedryf is, sal dit moontlik verstaan.

God het anders besluit. Dis amptelik. JP word breindood verklaar. Sy jong lewe is kortgeknip. Maar vir ons, vir my en my man, Siegmund, is dit net die begin van ’n lang, pynlike reis na aanvaarding en begrip. ’n Wanhopige soeke na antwoorde.

JP was ’n wonderlike, geliefde kind. Die 700 mense by sy begrafnis het dit almal geweet. Ons het hom van kleins af probeer leer om verantwoordelik en selfversekerd te wees. Om altyd die pad van hoë morele standaarde te kies. Hierdie lesse het hom gevorm tot ’n selfversekerde jong man met mooi maniere en ’n goeie hart. Ons was só trots op hom.

Hy was suksesvol en gewild. En dankbaar. JP het altyd sy liefde en waardering vir ons gewys. Soms het hy ons gedruk dat ons ribbes wou kraak. Ander kere sou hy ’n briefie in sy lelike kraphandskrif los wat sê: “Ek mis julle. Dankie vir alles. Ek is lief vir julle.”

Ek mis hom en al die duisende herinneringe wat ons lewe saam so kosbaar gemaak het. Ek mis sy opwekte stem oor die foon wat my altyd gegroet het met: “Hallo, Judes.” Niemand sal ooit my geliefde seun se skoene kan volstaan nie.

“Hoekom?” is die een vraag wat al hoe harder in my binneste kom hamer het. Hoekom moes hy sterf? Waar is hy nou? Kan daar enigiets goeds uit sy dood kom?

Ek het nie gedink God sal my antwoord nie, maar Hy het. Stukkie vir stukkie het my persepsie oor die lewe, en die dood, begin verander.

My grootste gewaarwording was dat die Here soms lyding gebruik (let wel, ek sê nie veroorsaak nie) om mense te verander en nader aan Hom te bring. Ek het in ’n Christelike huis grootgeword. Ek het gereeld kerk toe gegaan, maar ek het nie naby die Here geleef nie. Die trauma van ons seun se dood het hierdie behoefte in my wakker gemaak.

Bybelverse wat ek as kind gehoor het, maar wat geen sin gemaak het nie, het skielik lewe begin gekry. Ek kon dit verstaan en prakties toepas. Ek het begin agterkom dat God direk betrokke is in my lewe, en dat ek eintlik min of geen beheer het oor die pad wat Hy alreeds vir my gekies het nie.

Dit was ’n verligting om te weet ek hoef nie net op my eie oordeel staat te maak nie; ek kan op God vertrou om vir my die pad te wys. My keuse om my lewe geheel en al aan Hom oor te gee het die intense pyn van my seun se dood draagliker gemaak.

Ons trap maklik in die slaggat om status en toekennings na te jaag, maar dit kan in een verblindende oomblik alle sin verloor. Al wat dan saak maak, is ons geestelike status.

God was ons genadig en het deur ’n vriendin se droom gewys dat ons seun dolgelukkig in die hemel is. Ek het Hom gesoebat vir hierdie teken en is oneindig dankbaar daaroor.

Ek het ook geleer dat jy jou trauma tot God se eer kan gebruik. Nadat ek my lewe vir Hom gegee het, het ek met hierdie knaende gevoel gesit dat JP se dood nie verniet was nie. Ek móés iets goeds daarmee doen, maar wat? Moet ek op die straathoeke gaan staan en preek? Wie sal luister? En wat sal ek sê? Ek was verskriklik opgewonde toe ek hoor dat die skrywer van my gunstelingboek by ’n vriendin se kerk sou optree. Ek kon nie wag om te hoor waaroor dr. Isak Burger sou preek nie.

Sy boodskap het nie teleurgestel nie. “Wat wil God hê moet Christene doen?” het hy my einste vraag van die preekstoel af herhaal. “Hy verwag nie van jou om jou werk te los en vir die nasies te gaan preek nie. Hy verwag nie van jou om op te trek in Afrika om Sy Woord te gaan verkondig nie. Al wat Hy van jou verwag, is om met ander te deel wat Hy vir jóú gedoen het – en jy begin by jou geliefdes en die mense na aan jou. Dis al.” Ek was só bly dat God my op hierdie duidelike, eenvoudige manier geantwoord het.

Al my ander vrae is een vir een beantwoord, en ek is vandag – meer as ’n jaar na JP se dood – steeds besig om nuwe dinge te leer. Jy kom nooit óór jou kind se dood nie, maar jy kom wel déúr dit – en jy besef daar is soveel meer as net hierdie wêreld.

Ek was blind, maar nou kan ek sien. Daar is ’n ewigheid wat op elkeen van ons wag … en dís waarvoor ons eintlik moet leef.

Slide Show Title: 

“My seun sterf … en ek begin lewe”

Slide Show Intro: 

Leser vertel hoe ’n tragedie haar lewe gered het

Deel/Stuur

Vanoggend se halwe koppie koffie

$
0
0

Ek vergelyk die lewe met ’n cappuccino. Somtyds is die lewe ’n lied en jou koffie het room bo-op. Maar soms is dit moeiliker, en jy sukkel om by die koffie uit te kom tussen al die skuim deur.

Die huis is doodstil. Op die ontbyttafel staan ’n halwe koppie koffie. Sterk, twee suikers met niks meer as ’n druppel melk in nie. Dis hoe ek van my koffie hou.

Die plan was natuurlik om die hele koppie koffie te sink, maar die lewe werk nie altyd uit soos wat ’n mens dit beplan nie.

Vat byvoorbeeld my antie Janina. Haar kinders bly nou almal in Nieu-Seeland. Nadat sy ’n hele paar jaar lank gespaar het en al haar opgehoopte vakansiedae bymekaar gemaak het, is sy weg met die vliegtuig. Daar aangekom het sy dadelik met die kleinkinders buite in die sneeu tussen die berge gaan speel – wat ’n verruklike ondervinding! Slegs ’n paar daggies later het ouma met die Nieu-Seelandse slinkse sneeu kennis gemaak en antie het op drie-en-sestigjarige ouderdom neer geplons en haar enkel gebreek. Die res van die vakansie het sy op die bed deurgebring, voet omhoog.

Dis nou ’n koppie koffie wat nie klaar gedrink is nie.

Ek dink byvoorbeeld ook aan een van my vriendinne, Leslie. ’n Soortgelyke storie het jy verseker al gehoor. Leslie wou niks meer as haar fair share in die lewe gehad het nie. Net ’n gewone, gemiddelde lewetjie: ’n goeie man, ’n betroubare motor, ’n mooi huisie in die platteland – met ’n tuintjie, en twee-punt-vier kinders. Die motor en die huis was maklik, selfs haar man was maklik, maar ’n pienkvoet wou daar net nie kom nie. Nadat hulle twee kindertjies aangeneem het, het hulle vrede gemaak met die oorblywende punt vier. Tolpaaie ingesluit, is dit in elk geval meer as wat die begroting toelaat. Op ’n gewone Woensdagoggend het hulle oudergewoonte aan tafel gaan sit, die kindertjies in hul eetstoeltjies gevoer en die ketel aangesit vir koffie, toe Leslie skielik naar word en badkamer toe hol.

As jy nie ’n drieling verwag nie, drink jy jou koffie in rus en vrede klaar, maar soos wat sake nou staan, kan sy nie onthou wanneer laas sy ’n koppie leeg gedrink het nie.

My hart gaan vandag uit na almal wat nie hulle koffie vanoggend kon klaar drink nie. Hetsy dit is as gevolg van kinders, gebreekte bene, wekkers wat nie wou afgaan nie, bediendes wat nie opgedaag het nie, karre wat nie wou start nie, koue geisers, siekerige diere, brandende vure, lastige bure, drielinge, of om die doodeenvoudige rede dat jy die koffieblik leeggevind het vanmôre.

Al wat ek kan sê is dat ek weet hoe dit voel – jy het ’n vriend in my. Ek kon ook nie my koffie klaar drink vanoggend nie, want ek moes hierdie blog skryf – ’n swaar lewe. As ek kon, sou ek jou vanaand uitgeneem het. Nie vir ’n drankie nie, maar vir ’n koffie. Ons sou daar gesit en koffie drink het – al het almal vir ons keuse van sterk drank gelag. Ek sou vir jou gesê het: “Hou vas, my ou maat, dinge sal weer beter gaan, ons gaan dit maak.” ’n Vol koppie koffie. Net ek en jy. Voor ’n kaggel. In rus en vrede.

Tot die laaste druppel op is.

Wysheid op ’n pakkie suiker: “Life is what happens while you are busy making other plans.” - John Lennon

Pierre Vee

Category: 
Deel/Stuur
Viewing all 1496 articles
Browse latest View live