Quantcast
Channel: Voelgoed
Viewing all 1496 articles
Browse latest View live

Help! Ek voel soos ’n slegte ma!

$
0
0

Dink jy jou kind verdien ’n beter ouer? Jou “foute” staan dalk in jou pad om jou kind onvoorwaardelik lief te hê.

Ek voel soos ’n mislukking. Ek probeer hard om die beste ouer vir my kind te wees, maar kry dit nie reg nie. Ons sukkel op die oomblik finansieel en dit voel of ek my kind afskeep deur nie vir haar te gee wat haar maats het nie. Ek moet lang ure werk en voel elke aand skuldig omdat ek nie genoeg tyd saam met haar deurbring nie. Daarmee saam veroorsaak al die spanning dat ek maklik skree en baklei. Ek is bang dit het ’n blywende skadelike uitwerking op haar. Hoe nou gemaak?
~ Antoinette, Nelspruit

Ouerskap en skuldgevoelens is beste maatjies. Elke ma het haarself al die een of ander tyd op die vingers getik of gevoel sy het misluk. Gelukkig hoef dit nie daarby te bly nie; jy kan (en moet!) jouself vergewe en aanbeweeg. Vergeet van jou foute en tekortkominge. Gebruik dit eerder om jou kinders iets te leer.

Om kalm te bly is vir seker nie maklik nie. En kom ons wees nou maar eerlik: Kinders is baie goed daarmee om die verkeerde knoppies te druk. Dis dan dat jou bloed begin kook en jy uit woede of frustrasie op jou kinders skree. Ongelukkig kan jy nie jou woorde terugtrek nie en dan voel jy skuldig daaroor.

Tog is daar ’n silwer randjie:Wanneer jy op jou kind geskree het, het jy die geleentheid om vir haar ’n voorbeeld te stel wat verantwoordelikheid en probleemoplossing betref. Aanvaar verantwoordelikheid en vra haar opreg om verskoning. Verduidelik ook hoe jy die probleem volgende keer meer effektief gaan oplos. Sê byvoorbeeld: “Volgende keer as ek kwaad word, gaan ek omdraai en wegloop, en eers afkoel voor ek met jou praat.”

Wanneer jy swaarkry, is dit maklik om jouself te blameer en jammer te voel vir jou kind. Jy verlaag jou standaarde en vergeet van reëls, omdat jy voel jou kind kry swaar. Om te probeer vergoed vir slegte dinge is egter ’n fout. Al kry jou kind swaar, beteken dit nie sy kan optree soos sy wil nie. Ongeag hoe moeilik dit is, slegte dinge gebeur met ’n mens. Dis deel van die lewe en nie jou skuld nie. Leer jou kind dat ’n mens nie die wêreld of die mense om jou kan beheer nie, maar wel hoe jy daarop reageer. Wees daar vir jou kind en luister na haar.

Ouers voel dikwels skuldig omdat hulle nooit genoeg het om vir hulle kind te gee nie. Onthou jy is ’n mens, nie ’n robot nie. Daar is net soveel uur in ’n dag. Wanneer jy wel tyd saam met jou kind deurbring, maak seker dit is kwaliteittyd. En het enigiemand regtig genoeg geld? As jy nie vir jou kind die nuutste en beste kan koop nie, hoekom help jy haar nie om aan ’n manier te dink om self die geld bymekaar te maak nie? Neem ’n doelbewuste besluit om jou fokus te verskuif. Jy het dalk nie genoeg geld of tyd nie, maar jy kan vir haar sterk waardes leer: om hard te werk, spaarsaam te wees, dankbaar te wees vir wat sy het en tyd te maak vir ander.

Nog iets waaroor ouers gou skuldig voel, is inkonsekwentheid. Dalk is jy te moeg of te oorweldig wanneer Sussie oortree; daarom verskil die straf vir dieselfde oortreding altyd. Miskien verset jou kind haar so erg wanneer jy haar dissiplineer dat dit konsekwentheid selfs nóg moeiliker maak. Ontspan.
Identifiseer jou persoonlike struikelblokke en maak ’n plan om dit een vir een aan te pak. Dis nooit te laat om meer grense te stel of meer konsekwent te wees nie.

Vergeet van al jou foute in die verlede en fokus op die toekoms en alles wat jy reg gaan doen. Wees die soort ouer wat jy graag wil wees, nie die soort wat jy dink ander van jou verwag om te wees nie. Begin sommer nóú met hierdie nuwe hoofstuk in jou lewe.

Jy hoef nie perfek te wees nie. Jy is goed genoeg nes jy is, foute en al, spesiaal uitgekies as ma vir jóú kind. Leer uit jou foute, vergewe jouself en gaan verder.

Vertaal en verwerk uit ’n artikel van Sara Bean.

FORUM:
Het jou kind al ooit vir jou geskree: “Ek haat jou!” Wat het jy gedoen? Hoe het jy gereageer?

Slide Show Title: 

Ek is 'n slegte ma!

Slide Show Intro: 

Geen ma is perfek nie. Vergewe jou “foute”
en gaan aan

Deel/Stuur

So kan jy jou cravings beëindig

$
0
0

Jy het al alles probeer: dieet, oefening, noem maar op. Elke keer gee jy net weer toe aan daardie drang na lekkernye.

Cravings laat al jou goeie voornemens soos mis voor die son verdwyn. En nadat jy die hele pakkie koeksisters of skyfies verorber het, voel jy so-o-o skuldig, want jy weet jy doen jou lyf skade aan.

Wilskrag alleen is egter nie genoeg nie. As jy regtig wil ophou om jou te ooreet, sal jy die koslus wat jou daartoe dryf, moet oorwin. Dit sal jy net regkry as jy verstaan wat God se bedoeling met kos is.

Verstaan eerstens hoekom jy moet eet

God het kos gemaak om jou lyf te voed en energie te gee; dis waarom ’n mens moet eet. Net genoeg van die regte kosse tot jy versadig voel. Kos is bedoel as brandstof wat die liggaam in stand moet hou. Die bedoeling was nooit dat kos vir ons ’n struikelblok moes wees nie.

’n Goeie beginpunt is om weer te leer hoe dit voel om regtig honger te wees. Baie vroue eet elke dag sonder om ooit daardie honger kol op die maag te hê.

Jy moet ook leer om te onderskei tussen fisieke en emosionele honger. Emosionele honger veroorsaak dat jy nooit versadig voel nie, terwyl jou fisieke honger wel versadig kan word. As jy eet om getroos te word, voel jy na die tyd skuldig en skaam, maar as jy genoeg geëet het wanneer jy regtig honger was, sal jy nooit skuldig voel nie.

Nog ’n onderskeid is dat jou emosionele honger net gestil kan word deur die spesifieke kos waarvoor jy op daardie stadium lus is (’n craving). Dit ontstaan skielik, nie geleidelik nie. As jy agterkom jy eet om jou emosionele behoeftes te bevredig, onthou dan dat dít beslis nie die doel van kos is nie.

Vind uit hoekom jy ’n koslus kry en jou ooreet

’n Goeie manier om vas te stel hoekom jy lus raak vir sekere kosse, is om ’n kosdagboek te hou. Skryf daarin vir watter kos jy lus was (soet, sout of vetterig). Skryf ook neer wat op daardie stadium in jou lewe gebeur het en hoe jy daaroor gevoel het. Noem die emosies wat jy ervaar het terwyl en nadat jy geëet het. Dit sal jou meer insig in jou emosionele eetpatroon gee.

Jy swig dalk makliker as jy alleen is of wanneer jy verveeld is. Party vroue vergryp hulle aan kos as hulle kwaad of bang is. As jy na ’n tydjie deur jou kosdagboek blaai, sal jy presies kan sien watter situasies jy moet vermy.

Alles wat jy doen (ja, selfs ooreet!), begin in jou gedagtes. Soos met enige versoeking kry jy eers die gedagte in jou kop: Sjoe, daardie stuk koek lyk darem lekker. Kom ek bederf myself, ek voel ’n bietjie “af” vandag.

Die oplossing is nie om die koek te eet en daarna nóg slegter te voel nie, maar eerder om daardie gedagte deur ’n positiewe een te vervang. Sê dus: Ja, die koek lyk lekker, maar ek hoef dit nie te eet nie. Ek weet ek sal nie kan ophou by ’n stukkie nie, so, ek los dit liewer heeltemal, anders voel ek later skuldig. As jy jou manier van dink kan verander, kan jy ook jou optrede verander.

Werk ’n permanente, gesonde eetplan uit

Begin om ’n gebalanseerde eetplan op te stel wat jy vir die res van jou lewe kan volg. Laat die klem val op gesonde kos eerder as dieetkos, anders voel dit asof jy iets ontneem word en is die kans groter dat jy weer sal swig.

Meet jou porsies af tot jy dit goed genoeg kan skat. Dan weet jy dat jy net genoeg eet. Probeer ook om jou maaltye en versnaperinge regdeur die dag eweredig te versprei, dan sal jou bloedsuiker stabiel bly en sal jy minder cravings kry.

Moenie skaam wees om met jou begeertes na jou Vader toe te gaan nie. Vra Hom om jou te help, want op jou eie sal jy dit moeilik regkry. Soek jou vrede by Hom en nie by kos nie.

Vertaal en verwerk uit Food Triggers: End Your Cravings, Eat Well, and Live Better van Rhona Epstein.

Slide Show Title: 

Beëindig jou “cravings”

Slide Show Intro: 

Verstaan waarom jy eet en kry jou vrede by God

Deel/Stuur

Gee jou klerekas ʼn makeover

$
0
0
klerekas

Dis weer een van dáárdie dae. Niks wat jy aantrek, lyk reg nie. Wat jy nodig het, is ’n klerekas-regruk!

Jou dae van ’n kas vol klere maar met niks om aan te trek nie, is verby! Ons het by Suna Roberts, voorkomskonsultant, gaan aanklop om seker te maak jy lyk elke dag eksieperfeksie.

Hoekom koop jy klere wat jy nooit dra nie?

Daar is baie redes waarom jy heeltemal te veel geld uitgee en heeltemal te min klere het waarin jy goed lyk en voel. Wat doen jy verkeerd?

Die kleur pas jou nie. Jy is dalk ook een van daardie vroue wat “veilige kleure” verkies omdat jy nie uitspattig wil lyk nie, maar daardie einste kleure laat jou uitgewas lyk. Dis belangrik dat jy kleure moet dra wat by jou veltoon pas. Let op na wanneer jy komplimente kry soos: “Sjoe, jy lyk goed!”
Dit sal eendag weer pas. Hoeveel te klein klere bêre jy vir “eendag”? Intussen maak dit jou moedeloos elke keer as jy daarin vaskyk. Of jy dra miskien klere wat te groot is om dit waarvoor jy skaam is, weg te steek. Klere wat nie vir jou pas nie, hoort nie in jou kas nie!
Dit was op ’n uitverkoping. Dis moeilik om ’n winskoop te weerstaan, nè? Maar iets wat jy nie regtig nodig het nie en nie eintlik by iets anders in jou kas pas nie, is nié ’n winskoop nie!
Dis nog altyd jou styl. Iets wat tien jaar gelede by jou gepas het, werk dalk nie meer nie. Moenie by dieselfde styl en kleur vashaak nie. Probeer iets nuuts, want jou figuur verander deur die jare.
Jy doen te veel koopterapie. Koop jy meer klere as wat jy nodig het? Dalk is daar ’n emosionele leegheid wat jy met inkopies probeer vul. Probeer vasstel wat die onderliggende probleem is en los dit op.
Dit het sentimentele waarde. Een of twee items, dalk. Jy kan egter nie alles hou net omdat dit jou aan iets herinner nie.
Jy kyk nooit in die spieël nie. Dalk vermy jy spieëls omdat jy nie hou van hoe jy lyk nie. Die probleem is dat jy dan ook nie sien of jou klere pas en goed lyk nie. Jy gaan net nóg slegter voel en al minder van jouself begin hou.
Daar is te min lap. Klere wat te veel vel wys, trek om verkeerde redes aandag. Dis belangrik dat jy vir jou ouderdom aantrek. Ouderdom is nie jou vyand nie! Jy kan altyd stylvol lyk – in die régte klere!
Jy is ’n etiketslaaf. Jy koop iets as dit die regte etiket het, ongeag of dit by jou leefstyl en figuur pas. Die ander uiterste is ook ’n probleem: Jy ooridentifiseer met jou leefstyl (soos moederskap) en trek onvleiende denims en los hemde aan.

Noudat jy weet watter foute jy maak, moet jy eers deur jou klerekas werk. Jy moet seker maak dat elke item daar hoort. As jou antwoord op enige van die volgende vrae “nee” is, moet die kledingstuk uit tensy jy dit kan verander in iets wat nuwe lewe daarin gaan blaas.

Kliek hier vir Suna se klerekas "makeover" video.

Bekyk jou klerekas aan die hand van die volgende vrae:

Het jy dit die afgelope jaar gedra?

JA

NEE

Pas dit by jou leefstyl?

JA

NEE

Vlei dit jou figuur?

JA

NEE

Is dit in ’n goeie toestand?

JA

NEE

Is dit nou in die mode? As jy nie weet nie, dan is dit tien teen een nie.

JA

NEE

Is dit een van jou 3 beste sentimentele uitrustings?

JA

NEE

Is dit in ’n kleur wat jou die meeste vlei?

JA

NEE

Kan jy dit saam met ongeveer 3 ander items dra?

JA

NEE

Voel jy gemaklik daarin?

JA

NEE

Kry jy komplimente wanneer jy hierdie uitrusting dra?

JA

NEE

Top-10-items wat jy dié winter in jou kas moet hê

Die volgende items vorm die basis van ’n goeie, sinvolle wintersklerekas. Dis nie ál wat jy kan hê nie, maar dit sal jou “ek weet nie wat om aan te trek nie”-dae verminder.

Swart langbroek. Dit werk goed vir die kantoor, saans en selfs bedags vir ’n formele voorkoms. Jy kan swart by enigiets dra en dis verslankend!
swart_broek.png
Swart hakskoen. Dis ’n skoen wat jy in die dag of aand kan dra: by langbroeke, denims, rompe, vir formele of informele funksies. Dit rond enige uitrusting af, winter of somer.
hakskoene.png
Swart of bruin stewels. As jy swart én bruin stewels kan hê, is dit goed. Anders, kies swart; bruin gee ’n effens sagter voorkoms. Maar almal moet ten minste een paar mooi stewels hê. Kry ’n styl wat by jou pas.
stewesl.png
Plathakskoene. Swart is die vanselfsprekende keuse, maar as jy ’n dramatiese stylpersoonlikheid het, koop ’n paar rooies ook.
rooi_skoene.png
Netjiese wit, swart en grys T-hempies. Jy kan dit saam met enigiets dra en kleur gee met ’n klomp verskillende bykomstighede.
hempies.png
Klein swart rokkie. Jy kan dit werk toe of kerk toe dra en vir ’n formele funksie sprankel gee met die regte bykomstighede.
swart_rok.png
Snyersbaadjie.
Dit maak enige gewone uitrusting interessanter. Dis tydloos en pas by enige ouderdom.
snyers_baadjie.png
Jas. Jy sal dit vir jare dra, en al sit jy ’n bietjie gewig aan, sal dit steeds pas. ’n Jas lyk goed oor enigiets – van ’n denim tot ’n pak klere.
rooi_baadjie.png
Jeans. Kies’n denim in ’n donker kleur omdat dit by almal pas en verslankend is. Jy kan dit saam met enigiets dra, van ’n vaal T-hemp tot ’n blink toppie.
jean.png
Knooptrui. As jy kan, kry een in swart (steenkoolgrys of vlootblou vir blondines), en ook in ’n ander mooi kleur wat by jou pas.
knooptrui.png

SKRYF IN VIR ONS KOMPETISIE:

Wen ’n nuwe klerekas ter waarde van R20 000! Kliek hier vir ons kompetisie bladsy.

Category: 
Slide Show Title: 

Jou ultimate klerekas-
gids!

Slide Show Intro: 

Wat jy nodig het, is ’n klerekas-regruk!

Deel/Stuur

Begroot, leef skuldvry en word ryk

$
0
0
Adele du Plessis

Adele du Plessis, die uitvoerende hoof van kommunikasie by Revlon, reken welvaart gaan oor meer as net finansies. Jy moet ook iets teruggee.

Ek het my eerste lewensles oor geld geleer van…

My ouma. Sy het ʼn koevertsisteem gebruik om haar maandelikse inkopies mee te beheer. Op elke koevert is daar geskryf waarvoor daardie geld bedoel was. Ek het haar selfdissipline so beny. As die koevert gemerk was vir brood was dit uitsluitlik vir brood. Sy het nooit geld van een koevert na ʼn ander een verskuif nie. Dit was vir my ʼn groot les in hoe om te begroot.

Ek het my eerste sakgeld gekry...

Op die ouderdom van 13. Die meeste daarvan is uitgegee op Jelly Babies – ek vrek tot vandag toe nog daaroor. Die res het ek gebruik as omkoopgeld! Ek het ons huishulp ekstra geld betaal om my kaste skoon en netjies te hou. Die lewensles wat ek daaruit geleer het – om te delegeer!

Die eerste salaris wat ek ontvang het…

Was ʼn somtotaal van R800! Dit was darem lank terug - in1982. Ek het egter toe reeds ʼn absolute obsessie ontwikkel om skuldvry te leef. Ek het die oomblik toe ek genoeg bates bymekaar gemaak het om my toekoms te verseker, begin om daardie doelwit na te streef. Nou koop ek net iets as ek genoeg geld het daarvoor.

Wat ek hoop my dogter by my leer oor geld is…

Dat welvaart soveel meer is as net selfverryking deur geld. Vir my beteken dit om genoeg te besit om die lewe vir ander mense ook beter te kan maak. Ek het al verskeie vriendinne aan kanker verloor en daarom is ek passievol oor die Cancer.vive Ride en die doelwitte wat die organisasie nastreef. Ons ry jaarliks bykans 2600km deur die land op motorfietse om mense oor kanker op te voed en in te lig. Vir my is die sielsverrykend.

Ek het my loopbaan begin as ʼn…

Skakelbeampte vir die Pick ’n Pay Hipermark in Bloemfontein en daarop gebou met ʼn baie eenvoudige benadering. As daar iets van jou gevra word – doen altyd meer as wat van jou verwag word . Van daar het ek na Sun International oorbeweeg en toe Revlon. Deesdae het ek my eie kommunikasie agentskap – Just Imagine, en Revlon as my grootste kliënt behou. Dit het my toegelaat om my besigheid te groei en nuwe uitdagings aan te pak

In die korporatiewe wêreld het ek gou geleer dat…

Effektiewe beplanning, vooruitsig en begroting ʼn baie suksesvolle finansiële resep kan wees. Ons eie lewens is soos ʼn miniatuur weergawe van die korporatiewe struktuur. Diversiteit is vir my van uiterste belang om myself te inspireer en te stimuleer sodat ek op alle vlakke optimaal kan funksioneer. ‘n Mens is ‘n multi-dimensionele wese en as sulks is dit noodsaaklik om dit wat goed is vir die siel toe te pas op alle vlakke, so kan jy ʼn positiewe uitwerking op jou persoonlike welvaart hê.

As ʼn enkellopende vrou het ek ...

Reeds op ʼn jong ouderdom besef dat ek nooit afhanklik van ʼn ander persoon wou wees nie. Ek het nie groot geword in ʼn omgewing waar ek gementor is oor geld of enige waardevolle ekonomiese wyshede geleer het nie. Ek het vroeg besef dat goeie ou “common sense” al is wat ek nodig het. As jy nie meer uitgee as wat jy verdien nie, sal jy oukei wees. Werk hard, maar meer belangrik, werk slim.

Category: 
Deel/Stuur

Thuli Madonsela maak haar hart oop

$
0
0
thuli_madonsela

Swart, wit, arm, ryk ... vir duisende Suid-Afrikaners het advokaat Thuli Madonsela heldestatus verkry. Maar wie is sy werklik?

Dit is maklik om in Suid-Afrika in materialisme en korrupsie te verval. Hoekom het jy ’n ander pad kies?

Dis eerder die “ander pad” wat mý gekies het. Ek glo ’n mens word in ’n groot mate gevorm deur die omstandighede waarin jy grootgeword het. In Soweto het ek as jong meisie dikwels die harde hand van die gereg beleef en hoe dit die gewone mense beïnvloed het. In daardie dae is daar veral op onwettige immigrante jag gemaak. Ek onthou die vrees op die mense se gesigte wanneer die black jacks (deel van die polisiediens) klopjagte uitgevoer het. Eers kom die harde kloppe teen mense se deure, en dan word die deure gewelddadig oopgeskop. Die huismense sou in alle rigtings vlug, in kaste en onder beddens wegkruip, net om uitgesnuffel en gearresteer te word. Ander mense is weer vasgetrek oor die oortreding van die paswette. Of hulle het probleme gehad met huurreëlings of familietwiste.

Selfs my ouers, Bafana en Nomasonto, albei informele kleinhandelaars, was al aan die verkeerde kant van die gereg weens streng handelsregulasies. Ek was vier jaar oud toe my ma in hegtenis geneem is omdat sy lekkers en vrugte by die skool verkoop het. Dit was vreesaanjaend, want ek moes vir ’n paar uur alleen na my bababoetie kyk.

My pa het meer gereeld met die gereg gebots, ook oor handelspermitte, maar die manier waarop hy dit hanteer het, het in ’n groot mate my sin vir geregtigheid beïnvloed. Ek onthou nog hoe graag hy vir ons vertel het hoe hy die magistraat in die hof ore aangesit het met sy verweer. My pa het op ’n plaas grootgeword en het nooit die binnekant van ’n klaskamer gesien nie, maar dit het hom nie gekeer om homself in die hof te verdedig nie.

Vandag wonder ek met ’n glimlag of hy regtig elke keer die held was soos hy beweer het, maar dit het die beginsel by my tuisgebring dat gewone mense ook ’n sê het en soms teen die Staat beskerm moet word.

Ek het ook grootgeword met die idee dat jy nie net vir jouself moet leef nie, jy leef ook om ander mense te help en om jou bates te deel met dié wat minder het.

My ma was bekend vir haar welsynswerk in die gemeenskap. Sy sou maklik vir vreemde mense kos en huisvesting gee, net omdat sy die vermoë gehad het om dit te doen. Ek onthou ook hoe oorvol ons huis was, want daar het altyd ekstra familielede by ons gebly, in so ’n mate dat die jongeres dikwels in die kombuis moes slaap omdat daar geen ander slaapplek oor was nie.

Albei my ouers het ook ’n sterk sin vir moraliteit gehad. Ons is geleer om eerlik te wees en met integriteit op te tree. Ons is geleer dat as jy kies om die waarheid te praat, jy nie ’n pak slae kry nie.

My ouers het ons geleer dat jy bo alles hierdie aarde in ’n beter toestand moet agterlaat as toe jy hier gekom het. Dis ’n les wat my bygebly het.

Hoekom is jou huidige werk jou passie en hoe voel dit om gedurig ander se foute bloot te lê?

thuli_madonsela_familie.jpgEk glo ek doen wat ek veronderstel is om in die lewe te doen. Van kleins af wou ek altyd weet wié het wát gedoen. My broer herinner my graag daaraan dat ek ’n regte klikbek was. Ek was altyd die eerste een wat die waarheid uitgeblaker het, waarskynlik omdat ek lafhartig was en bang vir ’n pak slae!

Voordat my ma ’n informele handelaar geword het, was sy vir baie jare ’n huiswerker. Ek dink dis hoekom dit vir haar so belangrik was dat haar kinders ’n goeie opvoeding moes kry. Toe ek besluit het om in die regte te gaan studeer, was ons pastoor (by die Sewendedag-Adventiste-kerk in Soweto) glad nie tevrede nie. In daardie jare is ’n beroep in die regte beskou as iets wat “oneerlike mense” doen. Hy het gedink al wat dit behels, was om misdadigers se onskuld te bewys. Min mense het toe besef dat daar ook ander beroepe in die regsveld was. Ekself het as menseregte-prokureur en gelykheidskundige gespesialiseer.

My ouers het my aangemoedig om ’n onderwyser te word, wat ek wel probeer het. Ek het vir ’n kort rukkie by ’n hoërskool skoolgehou, maar om toe te sien dat geregtigheid seëvier, was ’n persoonlike passie wat ek net nie kon ignoreer nie.

Die grootste beloning in my werk is om te weet ek doen iets om onreg en onregverdigheid om te keer – in ons regering en in die lewens van gewone mense, wie se pleidooie gewoonlik op dowe ore val.

Ek en my span kry dikwels te doen met “Dawid vs Goliat”-situasies: “klein” mensies wat teen groot instansies moet baklei om geregtigheid te laat seëvier, maar hulle het gewoonlik nie die geld of kennis om hulle saak te verdedig nie.

Wat ’n lekkerte is dit om die vreugde op hulle gesigte te sien en die dankbaarheid in hulle stemme te hoor as ons suksesvol is! Ek onthou ’n onlangse geval van ’n dame wat in ’n hopelose stryd met die Werkloosheidsversekeringfonds gewikkel was. Hulle het haar geld geskuld, maar haar aansoekvorm het in die proses weggeraak. Hulle het volgehou dat dit haar skuld was en dat hulle niks kon doen om haar te help nie. Wat ’n blye dag toe haar R300 000 uiteindelik aan haar uitbetaal is. “Dankie dat julle in my geglo het!” het sy oorstelp van vreugde vir ons gesê.

’n Ander vrou was ’n fluitjieblaser in die regering, maar niks is ooit gedoen om die klag wat sy gelê het, te ondersoek nie. Die beweerde oortreders het haar begin viktimiseer, in so ’n mate dat sy in die hospitaal beland het met depressie. Sy het amper haar huis verloor, maar ons kon haar saak beredder. Sy en haar familie het ons kom besoek en vertel dat ons hulle lewens aan hulle teruggegee het.

Ek is werklik geseën met ’n span mense wat soos ek oor die lewe dink en die werk met dieselfde passie doen. Ons vier elke sukses, asof hierdie mense deel van ons eie familie is.

Uit die aard van my werk moet ek ook soms mense in die regering ondersoek wat ek goed ken of wat vriende is. Met elke aanklag, en elke persoon wat ek ondersoek, wens ek in my hart dat die saak in hulle guns beklink sal word; daarom voel ek dikwels hartseer oor wat my bevindinge dan oplewer. Vir my weeg integriteit en geregtigheid egter swaarder as vriendskap en gewildheid.

In my werk poog ek nie net om wandade oop te vlek nie, maar ook om besluitnemers te oortuig dat sekere vorme van wanadministrasie en korrupsie eintlik erger is as misdaad. Ek probeer hulle leer dat hulle aksies en besluite ’n groot impak het. Mense verloor hulle huise, werk en gesinne as gevolg daarvan. Lewens spat uitmekaar.

Dís wat ek probeer hokslaan.

Category: 
Deel/Stuur

Watter tipe verhouding het jy en jou ma?

$
0
0
familie

Beantwoord hierdie vraelys saam met jou ma om te bepaal wat die sterk en swak punte van julle verhouding is.

1. DOGTERS: Jou ma nooi jou gesin uit vir ete.
A Jy sê julle het reeds fliekkaartjies selfs al is dit nie so nie.
B Jy stem in, maar vat kitsnoedels saam, want jou kinders eet nie haar kos nie.
C Jy haal diep asem en stem teësinnig in.
D Jy stem dadelik in, want jy weet hoe lekker julle gaan eet en gesels.

MA’S:Jy het jou dogter se gesin genooi vir ete. Net voor julle aansit, bring jou dogter kitsnoedels te voorskyn vir haar kinders.
A Jy vra haar watse nonsens dit is en dring daarop aan dat haar kinders jou kos eet.
B Jy besluit om volgende keer na ’n restaurant te gaan sodat elkeen kan bestel wat hulle wil.
C Jy laat haar toe om vir die kinders noedels te gee, maar sy het jou gevoelens seergemaak.
D Jy vra waarom sy die kitsnoedels gebring het en stel voor dat hulle van jou kos probeer.

2. DOGTERS: Jou ma het ’n huis in Hartenbos vir ’n maand gehuur en nooi julle om te kom kuier. Daar aangekom begin jou kinders mekaar te jaag. Jou ma vra hulle moet ophou.
A Jy sê dat julle nooit weer saam met haar vakansie sal gaan hou nie.
B Jy sê vir jou kinders hulle kan ’n rukkie rondhardloop as hulle wil.
C Jy maak dit duidelik dat hulle Ouma se reëls moet gehoorsaam as hulle by haar kuier en dat hulle buite kan gaan rondhardloop.
D Jy verduidelik vir jou ma dat jou kinders amper twaalf uur lank in ’n kar moes stilsit en vra of hulle vir ’n rukkie van hulle energie ontslae kan raak.

MA’S:Jy het ’n vakansiehuis in Hartenbos gehuur en nooi jou te kom kuier. Die oomblik toe hulle instap, begin jou kleinkinders rondhol.
A Jy sê dat jy hulle nooit weer gaan saam nooi nie.
B Jy vra jou kleinkinders om op te hou hardloop en sagter te wees.
C Jy sê niks al pla jou kleinkinders se gedrag jou.
D Jy vra jou dogter of julle op basiese reëls vir die kinders kan besluit.

3. DOGTERS: Jou ma kom kuier. Die oomblik toe sy instap, sien sy ’n hoop gekreukelde linne wat uit ’n kas hang. Sy begin om die kas reg te pak.
A Jy sê vir haar om te gaan sit en jou goed uit te los.
B Jy laat haar begaan, maar gaan vertel jou man hoe irriterend sy is.
C Jy doen niks, want jy wil haar nie seermaak nie.
D Jy stem in dat sy kan help solank julle dit saam kan doen en jy vir haar kan wys waar jy die goed wil hê.

MA’S: Jy kuier vir ’n week by jou dogter. Net toe jy inloop, sien jy die hoop skottelgoed in die wasbak en linne wat by ’n kas uitpeul.
A Jy vertel vir jou dogter in hoe ’n gemors haar huis is en dat sy ’n huishulp moet kry as sy nie by die huiswerk uitkom nie.
B Jy begin onmiddellik skoonmaak.
C Jy ignoreer die gemors. Dit is jou dogter se huis en dit is nie jou plek om kommentaar te lewer oor hoe sy haar huis moet bestuur nie.
D Jy sê vir haar jy weet hoe baie werk sy het en of sy sal omgee dat jy help om haar huis in orde te kry of om iemand te betaal om die plek skoon te maak.

DOGTERS SE UITSLAE

MEESTAL A’s
Jy sal eerder jou onderarmhare deur ’n sadistiese terapeut laat waks as om ’n middag saam met jou ma deur te bring. Julle stamp gereeld kop en jy jak haar dikwels af omdat jy haar advies as kritiek beskou.
Jou uitdaging: Probeer ’n bietjie geduldiger wees en moenie elke woord wat uit jou ma se mond kom, kritiseer nie. As jy haar net toelaat, kan sy jou met fantastiese insigte verras.

MEESTAL B’s
Dade is sterker as woorde. Alhoewel jy selde direk met jou ma baklei of haar beledig, maak jy haar wel baie seer deur jou optrede. Jy doen gewoonlik wat jy dink reg is sonder om haar gevoelens in ag te neem.
Jou uitdaging: Dink aan die gevolge van jou dade en probeer jou indink hoe jy sal voel as jou kinders presies die teenoorgestelde doen as wat jy hulle vra om te doen.

MEESTAL C’s
Selfs al irriteer jou ma se vrae en advies jou, sal jy selde iets daaroor sê omdat jy konflik wil vermy. Solank as wat jy jou gevoelens onderdruk, gaan julle verhouding vol frustrasie en oneerlikheid wees.
Jou uitdaging: Kry die moed om eerlik en reguit met jou ma te wees.

MEESTAL D’s
Baie geluk, jy is die perfekte dogter wat jou ma as ’n vriendin eerder as ’n gesagsfiguur sien. Jy waardeer haar vir die mens wat sy is. Wanneer jy van haar verskil, kan jy op ’n diplomatiese manier jou gevoelens meedeel en kommunikasie oophou.
Jou uitdaging: Deel die geheim van jou sukses met ander vroue.

MA’S SE UITSLAE

MEESTAL A’s
Jy wonder baiekeer of jou dogter regtig jou kind is, want jy kan nie verstaan hoekom sy soms so optree nie. In plaas van om haar net te aanvaar soos sy is, oorweldig jy haar met advies waarna sy in elk geval nie luister nie. Al is jou bedoelings goed, maak jou woorde haar dikwels seer en plaas haar op die verdediging.
Jou uitdaging: Wees geduldig en moenie jou dogter heeltyd kritiseer nie. Jy sal verbaas wees oor al die kennis en insig wat sy het.

MEESTAL B’s
Jy argumenteer selde met jou dogter, maar dade spreek harder as woorde. Deur jou dogter se gevoelens en menings te ignoreer en in elk geval te doen net wat jy dink reg is, stuur jy ’n boodskap uit dat jy nie dink sy is ’n volwassene wat bevoeg is om haar eie besluite te neem nie. Selfs al kies jy jou woorde versigtig en wil jy net die beste vir haar hê, maak jy haar seer deur die goed wat jy doen.
Jou uitdaging: Vra jou af hoe dit sou voel as jou ma stilletjies goed sou doen om jou gesag en geloofwaardigheid te ondermyn.

MEESTAL C’s
Jy is huiwerig om enigiets te sê omdat jy bang is om iets te sê wat jou dogter as kritiek kan beskou. Volgens jou is dit nie jou plek om jou dogter te vertel wat jy dink nie. Jy is bang om jou bekommernisse te deel.
Jou uitdaging: Skraap die moed bymekaar om oop en eerlik met jou dogter te wees op ’n manier wat haar nie sal kwaad maak of beledig nie.

MEESTAL D’s
Geluk! Jy is die model-ma. Jy deel jou bekommernisse op ’n simpatieke manier sonder om krities te wees. Jy beskou jou dogter meer as ’n vriendin as die kind wat jy grootgemaak het.
Jou uitdaging: Staan jou vriendinne en familie by om die verhouding te hê wat jy met jou dogter het.
 

 

Slide Show Title: 

Watter tipe verhouding het jy en jou ma?

Slide Show Intro: 

Beantwoord ons vraelys
en vind uit!

Deel/Stuur

Jy en jou man is ’n span

$
0
0

In ’n huwelik is dit belangrik dat man en vrou aan dieselfde kant moet wees. Hier is 3 stappe nader aan mekaar.

As twee mense in ’n verhouding heeltyd téén mekaar en nie sáám met mekaar werk nie, gaan julle verloorders teen die res van die wêreld wees.

Beantwoord die volgende vrae vir jouself:

  • As jy aan jou huwelik dink, dink jy meer aan “ek” as aan “ons”?
  • Voel dit heeltyd of julle boekhou om te sien wie doen die meeste werk?
  • Het jy nie die vrymoedigheid om jou man van ’n probleem te vertel nie, want jy voel dat hy jou nie gaan ondersteun nie?
     

Strategie 1: Wees ook in slegte tye daar vir mekaar

“Deur dik en dun” is ’n Afrikaanse ekwivalent vir die Engelse uitdrukking “for better, for worse”. Of soos ons soms grappenderwys sê: “Vir botter of vir wors.” Om altyd iemand te hê wat jou sal bystaan, maak nie saak wat gebeur nie, is een van die groot redes waarom mense trou. Om by mekaar se besluite te staan selfs al stem jy nie daarmee saam nie. En as een van julle ’n fout maak ... wie van ons is immers perfek?

“Twee koppe is beter as een,” is nog ’n wysheid wat in ’n Afrikaanse idioom vervat is. ’n Essensiële deel van ondersteuning is om gemaklik te voel daaroor om met jou maat oor jou probleme te praat. Deur jou moeilikhede te deel, wys jy vir hom dat jy vertroue het in sy vermoë om jou te help en te ondersteun.

Wanneer julle probleme saam aanpak, word die band tussen julle sterker. As jy die afgelope tyd gekies het om nie jou probleme met jou man te deel nie, het die tyd aangebreek om hom te vertrou. So gee jy hom ook die kans om daar te wees vir jou.

Strategie 2: Beskou jou maat se drome as net so belangrik soos joune

Die liefde gaan nie net daaroor om mekaar se prestasies te vier nie, maar ook om mekaar aan te moedig in die drome wat die ander een vir hom- of haarself koester. Trouens, sy doelwitte moet net so belangrik soos joune wees. Wanneer twee mense saamwerk om hulle drome te verwesenslik, gaan dit soveel vinniger bereik word.

As een van julle byvoorbeeld sukkel met gewig en oefening, moet die ander een ook bereid wees om gesonder te eet en tyd te maak om te oefen ter wille van die goeie funksionering van die span.

Dit beteken ook dat jy jou maat sal help om sy persoonlike stokperdjies en belangstellings uit te leef deur soms opofferings te maak en van sy take oor te neem. Byvoorbeeld: “Ek sal die kinders swemles toe vat, dan kan jy ’n bietjie gaan gholf speel.” Of: “Ek sal Donderdag direk na werk huis toe kom sodat jy na jou boekklub toe kan gaan.”

’n Goue reël: Met elke besluit wat jy neem, dink die volgende: Gaan hierdie aksie tot voordeel of nadeel van ons huwelik wees? Gaan dit my en my wederhelf se drome vir onsself en mekaar bevorder?

Strategie 3: Wees ook ’n span wanneer dit by geldsake kom

Geldsake is een van die groot redes waarom huwelike skipbreuk ly. Veral wanneer ons finansieel swaarkry, is ons geneig om boek te hou van mekaar se uitgawes. Om te keer dat finansies ’n wig tussen julle indryf, moet julle ook saamwerk wanneer dit by geld kom.

Maak dit regtig saak as een van julle meer as die ander een verdien? Sit julle geld saam in plaas van om verskillende bankrekenings te hê. Nie net kan julle meer drome waarmaak nie, maar dit wys ook dat daar respek is vir die ander persoon se finansiële bydrae, selfs al is dit klein. Julle moet eenders dink oor geldsake en saam ’n begroting opstel.

As jou maat nie by die begroting hou nie, kan dit natuurlik groot frustrasie veroorsaak. Indien dit die geval is, is dit nodig om hom terug te neem na die finansiële plan waarop julle saam besluit het. As dit steeds nie help nie, is dit ’n goeie idee om saam ’n finansiële adviseur te gaan raadpleeg. Hy of sy het miskien ’n oplossing, soos om ’n spaarrekening oop te maak waaruit julle slegs geld kan onttrek as julle albei daarvoor geteken het.

’n Gebalanseerde huwelik is een waarin twee unieke individue dit regkry om as ’n span te funksioneer en mekaar te ondersteun. Spring sommer vandag nog weg met hierdie wenresep.

FORUM:
Het dit al gebeur dat skoonfamilie jou en jou man tot op die rand van egskeiding gedryf het? Hoe het julle dit hanteer? Deel jou opinie.

 

Deel/Stuur

Hy kry 20 jaar tronkstraf!

$
0
0
awb

In 20 jaar verander die hele wêreld. Wat kan Oscar te wagte wees as hy tronkstraf kry? Voormalige AWB-brigadier Phil Kloppers (61) vertel.

Dis die Sondag voor my vrylating. My vrou en dogter kom kuier vir oulaas by my in die gevangenis. “Volgende Saterdagoggend gaan ék vir Pappa koffie maak vir die eerste keer!” sê my dogter, Chantélle, trots. Al is sy 24, is sy kinderlik opgewonde. Sy was drie jaar oud toe ek tronk toe is. Nou gaan haar pa uiteindelik by die huis wees. Nes sy al die jare haar vriendinne hulle saamwees met hulle pa’s beny het. Dan frons sy. “Maar ek weet nie eers hoe Pappie Pappa se koffie drink nie?”

“Swart en soet,” antwoord ek, nes ek dit oor twee dekades in die tronk leer drink het. My koffievoorkeur sal dalk nooit verander nie, maar as ek hier uitstap, wéét ek: Ek is anders. ’n Nuwe mens. Vandag kan ek getuig dat geen tronk jou kan rehabiliteer nie. Net jou eie keuses kan. Dít het ek op die harde manier geleer.

Dis 1994. Die hoofregter se stem dreun deur die hofsaal. “Philippus Cornelius Kloppers, jy word skuldig bevind aan die moord op so-en-so. Jy sal aan jou nek hang tot jy dood, dood, dood is.” Die koue sweet slaan oor my uit. My ore tuit. Twaalf keer word dieselfde woorde oor my uitgespreek, elke keer met die naam van een van die vier ANC-lede wat deur ons groepie AWB’s by die Rodora-kruising doodgeskiet is. Dit was kort voor die verkiesing en ons was vas oortuig daarvan dat die rewolusie in Suid-Afrika begin het. Ons generaal se opdrag was dat hy “lyke wou sien”. Ons het die opdrag getrou uitgevoer.

Maar dit was geen begin nie. Dit was die einde van die lewe soos ek dit geken het. Ek was ’n 40-jarige man met ’n vrou en kinders. Maar ook wild en wreed as dit by volk en vaderland kom. Nie die ‘lammetjie’ wat jy vandag voor jou sien nie.

Die harde werklikheid het my al daardie eerste dag tot my sinne geruk. Die groepie polisiemanne wat my in hegtenis geneem het, het vir my ’n keuse gegee. “Sê wat julle gedoen het of loop die harde pad.” Ek was geen verraaier nie en het die sogenaamde ‘harde pad’ gekies. Min het ek geweet wat dit sou behels: ’n marteling met elektrisiteit en later ’n binneband waarmee hulle my probeer versmoor het. Ek is vandag ’n parapleeg as gevolg daarvan.

“Wie? Wat? Hoe?” het hulle aanhoudend gevra. En tussendeur het die skoppe teen my ribbes en kop geklap. Die pyn was so erg dat ek myself natgemaak het.

Toe die elektriese skokke nie ’n bekentenis oor my lippe kon dwing nie, het iemand op my rug gaan sit, sy knie in my nek gedruk en die binneband om my gesig begin styftrek.

“Here, help my!” het ek geroep, maar daar was geen hulp nie. Duisende gedagtes het deur my kop geskiet. Wat van my vrou? My kinders? Is dit die einde?

In my ore het dit bly hamer: “Waar was jy toe Ek jou geroep het?” Ek het die stem herken. Dit was God s’n, die Een wat ek jare lank aanbid het. Maar êrens het ek die pad byster geraak en gegly tot in ’n modderpoel van sonde.

Die marteling het voortgeduur en ek het drie keer my bewussyn verloor. Ek sou dit nie ’n vierde keer maak nie. “Ek het k***s geskiet!” het ek die woorde uitgespoeg, nog vol van my ‘ou self’ se haat en bitterheid. Hulle was tevrede en het die toue om my lyf losgemaak. Dit was die einde van die marteling.

Ook van my bravade.

Daardie nag het ek op ’n sementblok met twee velle koerantpapier deurgebring. Ek kon nie slaap nie. Alles het onwerklik gevoel, amper asof dit met iemand anders gebeur. Ek was in soveel pyn dat ek kon skree. Maar toe begin ek aan Jesus dink en hoeveel Hy vir mý moes ly. My hele lyf het begin ontspan en snikke het diep uit my borskas geruk. Die trane het vrylik oor my wange gerol. Ek was besig om van binne af ‘gewas’ te word. Die skuldgevoel, mislukking en teleurstelling het uit my geborrel, tot ek uitgeroep het: “Here, vergewe my!” Ek het van die sementblok afgegly tot op my knieë en my sondes bely.

Geestelik was ek nou aan die begin van ’n nuwe pad, maar fisies het daar nog ’n lang opdraande vir my en my gesin voorgelê.

Die dag van my vonnisoplegging is ek na die selle onder die hooggeregshof geneem om my familie te groet. Toe ek en my vrou, Trudie, alleen was, het ek die woorde uitgedwing: “Maatjie, ons is skaars ses jaar getroud. Ek gaan hang, maar julle hele lewe lê nog voor. Los my en gaan aan met jou lewe.”

Trudie het my net stil aangekyk: “Is jy simpel? Die Woord sê wat God saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. Ek gaan by jou staan.”

En sy het. Twee dekades lank.

My vrylating het nou uiteindelik aangebreek. Die oomblik is gróót. Ek sit klein en doodstil in my nuwe tuiste: ons huis in Rustenburg waar Trudie en Chantélle elke dag sonder my moes klaarkom. Ek voel soos ’n foksterriër wat jare lank ’n motor gejaag het, maar noudat hy hom gevang het, weet hy nie wat om daarmee te doen nie.

Dis ’n benoude gevoel. Ek het gewoond geraak aan die tronkkultuur. Om stil te bly en ’n ‘niks’ te wees. Om met een oog oop te slaap. Nou het ek vryheid, en dis swaar.

Hier in ons sitkamer voel alles vreemd en anders. Al wat ek herken, is Kat, die weggooikat wat ek in die tronk vertroetel het; die staanhorlosie wat ek met ’n lemmetjie en handgemaakte saag gemaak het; en my BIC T-hemp – die naam van my tronkgemeente, Broeders in Christus, wat oor die jare van drie lidmate tot bykans 120 gegroei het.

Die huis is tien keer groter as die enkelsel waaraan ek gewoond was. Daar kon ek met een beweging op die bed, die toilet of voor die lessenaar wees. Nou is alles dóér ver. Selfs die mense, paaie en karre is anders. Alles en almal jaag verby. Die tegnologie maak my bang. Ek skrik nog elke keer as my selfoon lui.

Wanneer ek een keer per week winkels toe mag gaan – ek is in huisarres en op lewenslange parool – raak ek gou verbouereerd omdat dit so besig is. Toe ek Trudie vir ’n hamburger uitneem, verstik ek amper in die kos. Het alles só duur geword?

Daar is oneindig baie om aan gewoond te raak, maar daar is ook die groot lekkerte om my vrou se hand enige tyd te mag vashou. Om ure lank om die eetkamertafel te kan gesels. Om te voel hoe my dogter haar arms om my skouers gooi en styf vasdruk. Wat ’n voorreg!

Dis my eerste Saterdagoggend by die huis en my Bokkie-kind gee trots haar eerste koppie koffie vir Pa aan. Ek vat dit dankbaar uit haar hande. Sluk behaaglik. Dis swart en soet, nes in die tronk.

Maar dit smaak báie lekkerder.

Dis gemaak met onvoorwaardelike liefde.
 

Deel/Stuur

Die pou in ons kompleks

$
0
0

In ons kompleks se tuine, woon daar ’n pou. Trots stap die pragdier in metaal-blou en reënboogvere oor die gronde. Almal weet dat daar min voëls mooier as die pou is, maar het jy hom al gehoor snork?

Ons het vanoggend wakker geword met die geroep van die pou in die verte. Dit is ’n harde geluid, maar van ver af voel dit tog idillies.

Dit is algemene kennis dat die mannetjiepou ’n besondere veelkleurige en pragtige voël is. Die vroutjie daarenteen is vaal en bruin. Ek het baie om hieroor te sê, maar ek is op die oomblik nog in die bed met ’n lekker koppie koffie in die hand en skryf hierdie blog op my skootrekenaar, terwyl my vrou kort-kort oor my skouer loer. Vrede is vir my van groter waarde as geld op die oomblik, so ek byt maar op my tong.

Ek en my vrou het onlangs rusie gehad oor iets. Ek kan nie meer onthou waaroor dit presies gegaan het nie. Iets van woorde wat nie diplomaties genoeg gestel was voor die kuiergaste nie. Sy het natuurlik die argument gewen, soos gewoonlik. Ek het gesê ek is jammer, maar ek het nog steeds ’n bittersmakie in my mond oor die hele ding. Ek voel in my stilligheid dat ek eintlik reg was, maar dit was ’n klein prys om te betaal om die vrede te bewaar.

Sy het nou omgedraai om ’n bietjie verder te probeer slaap. Ek kyk na haar. Ons is al vir ’n paar jaar getroud, maar sy bly vir my die mooiste vrou wat ek nog gesien het. En toe begin sy liggies snork …

Die hele situasie is so kompleks. Die mooiste dinge in die lewe kom altyd met ’n genoegsame lot opsnork. My babaseuntjie byvoorbeeld, lê in die kamer langsaan en slaap. Hy is die mooiste, oulikste, opvreetbaarste, blondekop, bokkie-bruinoog-kind wat ek nog ooit gesien het! Maar kan daai mannetjie nou vir jou ’n stink poefie maak? Goeie genugtig! Ek moet my hande soos ’n Joodse Rabbi tot by my elmboë was nadat ek sy doek geruil het!

Wanneer ek my amper-tiener-dogtertjie in die oggende by die skool gaan aflaai – noem my maar mal – maar ek mis haar onmiddellik daarna. Die anderdag het ek my heel beste klop-klop grappie vir haar vertel. Sy het haar ogies halfmas vir my laat sak en die letters F-B-N-R-L uitgespel. “Wat beteken dit?” het ek gevra. “Funny but not really laughing, Dada,” was haar antwoord. Sy maak vir my die lekkerste koppies koffie, maar o wee! Daai kamer van haar lyk permanent of ’n orkaan dit getref het! Sy is my goedjies-dogtertjie. Ek kan nie boek hou van waar sy al die goedjies kry nie. Goedjies, die hele huis vol. Plakkertjies en magneetjies, strikkies en duifveertjies, kleurkryte en sepies, poppies en kleertjies, borrelbadjies en sambreeltjies.

Ek het amper my komplekse stukkie klaar geskryf, toe die pou reg by ons venster verbystap! Treetjie vir treetjie, soos ’n trapsuutjies. Ek sit doodstil en staar na hom. Die kompleks sou vaal gewees het sonder hom. Voorwaar ’n majestueuse mooie voël! Dit is toe dat hy begin snork … Te kompleks om te verduidelik: amper soos die gekloek van ’n hoender met ’n vreemde nasale naklank van ’n eggo. Die voël is mooi, maar dié geluid is nie mooi nie.

En so is alles wat ’n mens liefhet. Dis mooi, maar dit is ook nie mooi nie.

Wysheid op ’n pakkie suiker: “But he who dares not grasp the thorn should never crave the rose.” ― Anne Brontë

Pierre Vee

Category: 
Deel/Stuur

Manie Jackson se ma red sy lewe

$
0
0
Manie Jackson

“Luister áltyd vir jou ma,” sê Manie Jackson. Ma’s is engele, en syne het hom waarskynlik van ’n tragedie gered.

Ek is laat en daar is net een uitweg: voet in die hoek. Van Frankfort af moet ek in Parys kom vir my volgende konsert, en gou ook. My Skyline het al beter dae gesien, maar dit behoort my darem vinnig by my bestemming te kry. Net jammer die bande is so glad (én dis die dae voor ABS-remme en lugsakke).

In stilte ry ek en my eksvrou. Haar selfoon piep. Dis ’n mooi inspirasieboodskap van my ma af. Dis net weer ’n bevestiging dat Ma altyd op haar knieë bly vir haar kinders en hulle veiligheid.

Skaars vyf minute later gebeur die ondenkbare.

’n Enorme vragmotor verskyn voor ons in die pad. Geen ligte, waarskuwingsdriehoeke of mense nie. Die vragmotor versper die hele brug!

My hart mis ’n slag. Die opsies flits deur my kop: “As ek links draai, gaan ek teen die brug afjaag. As ek regs draai, gaan ek onder die vragmotor inry. Hier kom die dood,” is die laaste gedagte wat deur my gedagtes skiet.

Ek voel hoe my knieë teen die instrumentpaneel voor my vasslaan. Hoe my borsspiere skeur. Hoe fyn glasstukkies soos duisende spelde in my voorkop steek.

Ons moes eintlik dood gewees het, maar ons leef! Dit was asof Iemand die stuurwiel gevat en ons teen die vragmotor se wiele vasgestuur het. Asof die wiele as ’n buffer gedien het. Ons is nie onder deur nie. Ook nie plotseling van die brug af nie.

Die kar is afgeskryf. Ons nie.

Noodpersoneel is binne minute op die toneel en almal skud kop oor die feit dat ons oorleef het. Trouens, ek het so ‘goed’ daarvan afgekom dat ek die bloed afvee en daarop aandring dat iemand my help om by die konsert in Parys uit te kom. Daar ís nog tyd. As ons nóú ry, sal ek nie te laat wees nie.

As ’n musikant wat nog ’n sukkelbestaan voer en oor bekendheid droom, kan ek dit nie bekostig om nié op te tree nie. As ek nie opdaag nie, kry ek nie betaling vir die aand nie. Ek sal ook nie my normale kwota van vyf tot tien CD’s per vertoning kan verkoop nie. Dít beteken daar sal nie genoeg geld wees vir kos, huur, brandstof en al my ander maandelikse uitgawes nie.

Laat ek dit nou maar erken: Ek is’n mommy’s boy. Ons is vyf broers, maar ek en my ma, Ina, was nog altyd baie na aan mekaar.

Wat my egter die diepste van my ma getref het, was haar geloof. Party dae was dit maar ’n handvol met vyf seuns in die huis, maar my ma het ons op haar sagte manier geleer om haar gesag te respekteer, net soos ons God s’n moes respekteer.

manie_jackson_ma.jpgAl was ek ’n rustige, soet outjie, was dit nie altyd maklik om vir jou ma te luister nie. Sy het grootgeword in ’n streng pastoriehuis; dus was daar ’n hele paar dinge wat vir ons ook taboe was. Om na sokkies toe te gaan, te gaan fliek en na sekere musiek te luister, was in ons huis ‘onbetaamlik’. Daarom het ons seuns baie kanse gewaag.

Een keer, in graad 10, het ek en ’n vriend besluit om dam toe te gaan. Ons wou uitvind hoe dit voel om dronk te word. My vriend het met ’n bottel brandewyn in sy sak by ons huis aangekom. My ma moes op die een of ander manier die klingel van die bottel in die sak gehoor het. Toe begin sy bid dat daar iets moet gebeur sodat ons nie by die dam kon uitkom nie. En raai wat? Dit reën toe die hele naweek. Die dam, leivore, spruit ... alles het oorstroom en ons kon nooit by die dam óf ons drinksessie uitkom nie! My ma het my eers ná skool daarvan vertel.

Dit was haar manier: om te bid of ’n moeilike situasie subtiel te benader eerder as om ons trompop te loop en sommer net te baklei.

Dalk sou my motorongeluk vermy kon gewees het of minder ernstig gewees het as ek maar net na haar geluister het. “Manie, onthou om jou sitplekgordel vas te maak,” het sy tot vervelens toe gesê. Ook: “Onthou, dis beter om vroeër te ry as om laat te wees en teen tyd te jaag.” Jaaa, Maa.

Plaas dat ek my ore oopgemaak het.

Die ongeluk het my gelukkig geléér om te luister en om opnuut dankbaar te wees vir ’n wonderlike ma soos myne.

Ek glo my ma wás my engel daardie aand. Die woorde op die selfoon wat my eksvrou voorgelees het, was ’n kettingboodskap in die lyn van: “Here, ek dra my kinders aan U op en vra dat U hulle sal bewaar ... dat geen onheil oor hulle pad sal kom nie ... dat alles goed sal gaan.” En toe het sy in haar eie woorde onderaan getik: “Ek bid ook vir julle twee, dat die Here julle sal beskerm.”

Ek glo daardie laaste sinnetjie het ons lewens gered.

Vandag weet ek ook God luister na gebede, en Hy hoor veral ’n ma s’n.

Ek is nog bewerig van skok toe ek met my seer, stram lyf op die verhoog klim. My knieë is so styf en opgeswel dat hulle vir my ’n bierkassie as trappie moet gee om makliker bo te kom. My oë is ook toegeswel en my kakebeen potblou. Dit lyk of ek in ’n kroeggeveg was. Maar ek gee nie om nie. Vanaand staan ek hier met ’n dankbare hart. Teenoor ma’s wat vir hulle kinders bid ... en teenoor God wat na sulke gebede luister.

Die universele boodskap wat ek sedert die ongeluk aan mense probeer oordra, is een van dankbaarheid en genade. Aan die ouers in die gehoor sê ek gewoonlik iets soos: “Ma’s, Pa’s, bid vir julle kinders. Moet nooit jou gebed onderskat nie. God hóór jou.” Ek kan uit eie ondervinding getuig dat dit waar is. Vir kinders sê ek: “Luister na julle ouers. Wees gehoorsaam, want glo dit of nie, hulle weet waarvan hulle praat.” Ek het ook dít self beleef.

Ek voel steeds vreesbevange as ek naby ’n vragmotor op die pad kom, maar ek leef met ’n dieper bewustheid van die lewe. ’n Groter afhanklikheid van God. Ek en my vriend en vennoot, Victor (Bles Bridges se seun), ry sowat 10 000 km per maand om by al my konserte uit te kom. Elke keer vra ek dat die Here Sy hand van beskerming oor ons sal hou. Dis met opregte dankbaarheid dat ek kan sê ons was nog nie een keer in ’n ongeluk nie. Ek word ook elke oggend wakker met die wete dat vandag niks anders as blote genade is nie.

Die ongeluk het my darem ook ’n paar ander belangrike lesse geleer, soos om seker te maak dat ek my veiligheidsgordel dra – elke keer. En dat ek betyds vertrek. Sien? Niks gebeur sonder ’n rede nie. Vandag verstaan ek wat gehoorsaamheid beteken ... én het ek finaal besef: “Manie, lúister vir jou ma.” Sy weet immers die beste!
 

Slide Show Title: 

My ma se gebed red my lewe

Slide Show Intro: 

Manie Jackson vertel
sy storie

Deel/Stuur

Voel jy dood en leeg binne?

$
0
0

Jou binneste voel koud en leeg. Ander Christene het wonderlike belewenisse, maar jy voel niks. Wat is fout?

Hierdie gevoel wat jy het, is niks nuuts nie

Jy is beslis nie die eerste en enigste mens wat al hierdie donkerte ervaar het nie. Baie gelowiges in die Bybel het dit ook beleef. Job het dit “die duisternis” genoem.

Selfs Moeder Teresa het 50 jaar lank met diep geestelike pyn geleef. In hierdie tyd het sy Jesus passievol liefgehad, maar sy moes aanvaar dat sy nie daardie liefde kon voel nie. Hierdie vrou wat soveel opgeoffer het om die armes te help, het tog seker beter verdien, of hoe?

Dit beteken nie dat jy ’n groot sonde gedoen het of skielik nie meer goed genoeg is nie. God is altyd daar, al voel dit nie so nie. Hy kan egter ook jou gevoel van verlatenheid tot jou voordeel gebruik. Iemand wat pas begin glo het, word nie sommer so getoets nie, maar namate jou geloof groei, moet jy leer om nie net op jou emosies staat te maak nie.

Hou aan omgee vir ander, hou aan liefhê

Jy sal dalk een oggend opstaan en besef dat jy nie meer al daardie wonderlike geestelike gevoelens het nie – en dadelik na ’n oplossing wil begin soek, iets wat jy kan doen om dit te verander.

Uit jou eie kan jy egter niks doen nie; niks wat jy probeer, sal enige uitwerking hê nie. Jy moet dit maar net rustig in jou Pa se hande los. Hy sal jou mos nooit in die steek laat nie. Wees net geduldig: Die son sál weer skyn!

Jy weet mos dat Hy onveranderlik en lojaal is en nie skielik verander het net omdat jy niks kan voel nie. Hy is nog steeds daar, al sien jy Hom nie. Onthou die verbond wat met jou gesluit is en dat niks jou uit daardie Hande kan ruk nie. Leef jy maar net in liefde teenoor almal en doen rustig elke dag se werk.

Verdra hierdie fase, moet dit nie probeer vermy nie

Moeder Teresa het elke oggend halfvyf opgestaan om stiltetyd te hou, ten spyte van haar geestelike leegheid. Sy het ’n manier gevind om daarmee saam te leef sonder om haar bediening te versaak.

Dis wat jy ook moet doen: Bly vorentoe beweeg, in dieselfde rigting wat jy voor die tyd ingeslaan het. Dit sal verseker dat jy nie “afsluit” en stagneer nie en sal beslis jou gees sterker maak.

Daar is sekere dinge omtrent jouself en jou geloof wat jy net in hierdie “donker” tyd sal ontdek en leer. Wonderlike dinge sal in jou siel gebeur! Jy sal dan verstaan dat ’n onvoorwaardelike, toegewyde liefde vir Hom nie afhanklik is van daardie “lekker” gevoel nie.

Jou liefde sal geleidelik verdiep namate jy leer om nie meer jou seëninge die middelpunt te maak nie, maar God self. Hou moed, want ook hierdie tyd sal verbygaan.

Vertaal en verwerk uit What do you do when you find all your spiritual feelings are gone? van Shelly Esser.
 

Deel/Stuur

Tussen oorlog, tuinmaak en woestyn

$
0
0
Fox van Coppenhagen

Dit is ’n maanlandskap. Net erger. Daar is suurstof en jy moet oorleef, of jy nou wil of nie.

Fox van Coppenhagen is ’n mediese dokter in die Suid-Afrikaanse weermag en was na Soedan ontplooi. Sy storie is egter nie een van bloed, verwoesting en oorlog nie. Dit is een van bou, plant en omgee.

“Niks kan jou ooit op daardie hitte voorberei nie,” vertel hy oor sy ervaring in die woestyn. “Die sweet loop letterlik in strale teen jou lyf af.” In die tyd wat Fox daar was, het hy negentien kilogram verloor. Dis nie dat hulle sleg geëet het nie, maar alles het nie altyd op tyd by die kamp aangekom nie, is eintlik al wat hy daaroor sê. Ja, daar was soms skote, maar dit raak deel van die agtergrondgeluide. Dit hitte, dit was die ding. “Jy leer om alles stadig te doen. Stadig te beweeg, stil te sit. Daar is selde bedags enige kontak; saans, as dit koeler is en veral met volmaan, sal die partye mekaar aanval.” Water is ’n luukse, iets wat net twee keer per dag vir 45 minute lank beskikbaar is. Ook nie in krane nie, maar in emmers. Dan moet jy sorg dat jy genoeg water gaan haal vir jou wasgoed, stort en toilet.

Dis moeilik om opgewonde te raak oor die basiskamp wat sewe maande lank Fox se huis was. Daar is net klippe en sand. En êrens ’n yl boompie wat verbete vasbyt. Die plat stuk grond is hoog omhein, maar dit skep die gevoel van ’n tronk, eerder as sekuriteit. Al die geboue is vaal en vierkantig. Verbeeldingloos, soos die omgewing.

Maar wat doen jy nou as jy in die woestyn beland? Heel eerste begin jy skoonmaak. “Ek het omtrent geskrop aan die begin!” onthou Fox. Al moes hy nou in ’n boksie bly en op ’n smal bedjie slaap, dit sou skóón wees. Soos dit maar gaan, het ander gou sy voorbeeld begin volg. Stadig maar seker het die plek anders begin lyk.

“Ek het eendag na daardie verwese boompie gekyk en gedink: Dit groei. En as dít kan groei, moet ander goed ook kan.” So het die eerste tuin in die basiskamp begin lewe kry. Waar daar aanvanklik net plaveisel weerskante van ’n strook gruis was, het bietjies-bietjies groenigheid tussen die woonkwartiere begin uitloop. “’n Mens moet altyd iets hê om voor om te gee,” verduidelik Fox.

“En plante is so iets. As jy plant, glo jy in die toekoms.” Bo alles was dit vir die soldate en hulle ondersteuningspan nodig om in die toekoms te glo. “Die grootste lewensverlies daar is nie as gevolg van skietwonde nie, dis selfmoord.”

Die meedoënlose bestaan van wakker word, water gaan haal, wag, gaan slaap ... en wag, is genoeg om enige mens kop te laat verloor. As jy heel anderkant wil uitkom, moet jy iets doen wat jou aan jou menslikheid herinner. Doodmaak is nie menslik nie. Tuinmaak wel. Op een van die foto’s wat wys hoe die plante groei, is drie groot, wit syfers met klippies uitgepak: 167. “Ons het die dae afgetel. Elke dag.” Dit was ’n manier om perspektief te behou, want, verduidelik Fox, daar verloor jy heeltemal enige besef van tyd. Miskien is dit beter so, want vyf minute kan soos ’n ewigheid voel as jy wag dat dit moet verbygaan.

Die heel beste ding van die tuin was dat dit “oorgespoel” het na ander woonkwartiere ook. “Baie mense het kom vra of ek hulle nie sal help nie, hulle wil ook graag tuinmaak. Nou ja, dis nie moeilik om met ’n vurk en ’n graaf te werk nie. Maar my hulp was voorwaardelik: As hulle nie moeite doen nie, hou ek op help. Elkeen moes na sy eie tuin kyk. In die kamp was daar nie luukses soos kunsmis nie. Alles het gegroei te danke aan water, sonlig en die grond waarin dit geplant is.” Fox het uitgevind wat in die omgewing groei en dit geplant.

Later het die tuine tussen die geboue amper soos ’n kwekery begin lyk. Die bome was groot en oortrek met groen blare. En die verwese boompie se top het nou bo die dakke uitgesteek. Onderlangs was struike, blomme en groente! Daardie mense wat gesê het hulle het nog nooit tuin gemaak nie, het binne ’n klompie weke hulle eie tamaties en spinasie geëet. Fox het al hoe meer plante en bome by die Verenigde Nasies “bestel” en so letterlik ’n oase in die woestyn geskep. “Dit was ons Prozac,” sê hy.

Saans het die inwoners gebraai. Gesels. Mekaar moed ingepraat. En vir elke boom ’n naam uitgedink. Tree of Justice. Dit was Justice se boom. En Dick Tree ... “Die ou se van was Dick!” lag Fox. Nee, hulle het nie hulle humorsin verloor nie. Dis hoe hulle die woestyn oorleef het, en die Haboeb-winde ook.

“Dit is regtig soos in die fliek The Mummy ... Jy sien van ver af hierdie stofmuur aankom – teen ’n spoed! Dan hardloop jy na jou kamer toe, maak alles toe wat jy kan. En daar bly jy tot dit verby is. Die woestyn is snaaks. Dit reën ook so skielik.” Sommige buie is vinnig verby, ander kere reën dit vir ’n paar dae aaneen, iets wat enige tuinier se hart warm laat klop.

Na ’n rukkie het die tuinmaakgier van die wooneenhede na die res van die kamp uitgebrei. In die een hoek, knus tussen twee skutmure, het Fox die vierkant voltooi deur langs die ander twee sye bome te plant. ’n Lagie riviersand het die vierkant ’n welkome kuierplek gemaak. “Saans het ons daar gesit, voete in die sand ... Dan kon jy jou amper verbeel dat jy iewers op ’n strand sit. By ’n kusdorpie in jou geboorteland. Jy moet vir jou ’n oase skep, al is dit net in jou kop.”

Die tyd in Soedan is ’n bittersoet herinnering. Amper ’n onwerklikheid, al het dit beslis gebeur. Fox se groen spoor lê immers êrens in ’n woestyn waar mense oorlog maak, oor geld baklei en water in emmers aandra. Of die oase gaan oorleef is ’n vraag. “Ek hoop maar die mense kyk daarna. As alles tot niet gaan, wil ek dit eintlik nie weet nie. Dit was genoeg vir my solank ek daar was.” Iets in die manier waarop hy dit sê, verklap dat die woestyn ook vir altyd ’n spoor in hom getrap het. Asof daar iewers in hom ’n stowwerigheid is wat hy heimlik graag daar wil hê. Dit is hoe Fox is. Hy sal altyd potensiaal sien waar daar regtig bykans niks is nie.

Net voor hy groet, wys hy ’n foto van ’n klein krimpvarkie in sy hand langs ’n plassie melk wat in sy palm opgedam is. Die diertjie probeer ’n slukkie vat. “Een van die strukture by die kamp is geskuif, die ma en een van die kleintjies is in die proses dood. Niemand het geweet hulle bly daar nie. Ons het hierdie tweetjies probeer red.” Nog ’n storie wat tussen sewe maande se foto’s opgesluit lê. Van die stories sal nooit vertel word nie, maar een ding is seker: Oorlog gaan nie altyd nét oor baklei nie ...
 

Slide Show Title: 

Tussen oorlog, tuinmaak
en woestyn

Slide Show Intro: 

’n Mens moet altyd iets
hê om voor om te gee

Deel/Stuur

Greg Kinnear beleef die oorlog in Libanon

$
0
0
Greg Kinnear

As kind het Greg Kinnear, van Heaven is for Real, beleef wat dit beteken om in ’n oorloggeteisterde land te bly.

“Ek het by die sitkamer ingestap gekom,” onthou Greg van daardie tyd. “My pa-hulle het by die radio gesit en luister na ’n spesiale nuusuitsending oor die oorlog wat buite gewoed het. Waar ek gestaan het, kon ek die masjiengeweerskote hoor.”

Dis ervarings soos hierdie wat Greg Kinnear geleer het om die vrede wat hy as vanselfsprekend aanvaar het, te waardeer. Daardie dag het die realiteit en verskriklike wreedheid van oorlog miskien vir die eerste keer werklik tot hom deurgedring.

As kind het Greg ’n rustige kleindorpse bestaan gevoer waar sy pa by die departement van buitelandse sake gewerk het. Toe kry sy pa bevordering en word aangestel as die Amerikaanse ambassadeur in Libanon. Daar was groot opgewondenheid in die gesin.

Greg het die land glad nie geken nie en ook nie geweet wat vir hulle voorlê nie. Sy grootworddae in Indiana sou hom ook nooit hiervoor kon voorberei nie. “My pa-hulle was geesdriftig oor die nuwe lewe wat op ons gewag het en het uitgesien na die verhuising na Libanon. Hulle reaksie het my en my broer aangesteek.”

Ja, hulle sou hulle vriende en alles wat bekend was, moes agterlaat, maar tog was dit ’n avontuur wat gewink het. “Ons was onder die indruk dat daar heelwat pret en plesier op ons wag.”

Toe hulle daar aanland, was dit reeds vir hom vreemd om soveel mense biddend op hulle knieë te sien, gesigte na Mekka gedraai. Die avontuur het begin, het hy toe gedink. Beiroet was vir hom ’n pragtige stad, teen die kus, maar ook omring deur berge. Hulle kon soggens strand toe gaan en sommer dieselfde dag nog gaan kyk hoe mense in die berge ski. Dit het goed gegaan met die gesin. Maar nie vir lank nie ...

Dieselfde jaar nog het die oorlog uitgebreek en het Greg ’n ander sy van die lewe leer ken. Teen die einde van daardie jaar is een van sy vriende se pa ontvoer. Skielik was die oorlog bý hulle. Dit het iemand na aan hom regstreeks geraak, en die werklikheid kon nie meer geïgnoreer word nie.

Vir ’n Amerikaanse kind was dit ’n openbaring om te sien hoe alles waaraan jy gewoond was, feitlik oornag verander. Die jong Greg het ’n deel van sy onskuld en sorgvryheid verloor. Bedags was daar gereeld bomaanvalle, mense het gesterf en ’n ontnugterde Greg se oë het oopgegaan vir ’n ander Libanon as die een wat hy aanvanklik leer ken het.

Snags moes hy ure lank na die geluid van ononderbroke bomontploffings en geweerskote luister. “Dit was verskriklik,” onthou Greg. “Soms het ek te bang geraak en opgestaan, net om my ouers en broer by die draagbare radio kry, vasgenael om die nuutste BBC-nuus oor die aanvalle te hoor. Aan die begin van die oorlog was dit vir my asof ons in ’n Hollywood-film beland het. Alles was so onwerklik dat ek dit amper as fiksie ervaar het. Ek was nie werklik bewus van my eie sterflikheid nie.”

Maar vir sy ouers was dit ’n saak van erns. “Hulle het probeer positief bly en voorgegee alles was reg om my en my broer gerus te stel.” Maar die situasie het versleg en die skool waarheen hulle gegaan het, is gesluit. Niemand kon meer met hulle normale lewens aangaan nie. “Ons was gevangenes in ons huis,” vertel Greg.

Later daardie jaar is hulle na Griekeland verplaas, waar hulle veilig sou wees, maar daardie tyd in Beiroet bly hom altyd by. “Ek het voor my oë gesien hoe die stad verwoes word. Al was ek net 12 jaar oud, het ek iets besef waarvan baie mense nooit bewus word nie: hoe broos – en hoe kosbaar – vrede is.”

Hy weet dat die VSA steeds by die oorloë betrokke is, maar dit word op ’n afstand gevoer en raak nie die land en sy mense op ’n daaglikse basis nie. “Ons voel nie werklik bedreig nie, nie soos mense in lande waar die oorlog feitlik op hulle voorstoep gevoer word nie.” Vir iemand wat die ander kant van oorlog beleef het, is dit nie so eenvoudig nie. “Om vrede en ’n rustige bestaan as vanselfsprekend te aanvaar kan gevaarlik wees. Ons moet waardeer wat ons hier het en daarteen waak om dit te verloor.”

Kyk hier na die voorprent van Heaven is for Real:

 

Category: 
Slide Show Title: 

Die Hollywood-
ster ken
oorlog

Slide Show Intro: 

Greg Kinnear kan nog die geweerskote hoor

Deel/Stuur

Is dit tyd om aan te beweeg?

$
0
0

As ʼn verhouding meer pyn as vreugde bring, meer storms as sonskyn – haal diep asem, laat gaan en beweeg aan!

In die fliek Titanic sluk almal krokodiltrane af wanneer Rose haar geliefde laat gaan. Hoe kan sy Jack laat gaan?! Hy is dan die groot liefde van haar lewe! Hoe kon sy? wil jy weet. Sy moes. Dit was al manier hoe sy haar eie lewe kon red en die paadjie stap wat vir haar beplan is.

Dis dalk fiktiewe karakters in ʼn tranetrekker-fliek. Maar dit werk baie so in ons eie lewens. As Rose vir lewe of dood desperaat aan Jack bly klou het, sou haar eie storie ook daar geëindig het. Sy’t dalk nie presies die gelukkige einde gekry wat sy in gedagte gehad het nie – maar dalk het iets beters vir haar gewag.

Hoe laat jy ʼn slegte verhouding gaan?

Letting go is nie vir sissies nie! Maar soms is dit die heel beste ding wat jy vir jouself kan doen. Gewoonlik is jy ook baie sterker as wat jy dink. Jy sal heelwat verder op jou eie kom as wanneer jy vasgevang is in ʼn verhouding wat jou inperk.

Laat jou slegte verhouding op ʼn fisiese manier gaan – net om die boodskap baie duidelik vir jouself te maak. Daar is baie maniere. Kry byvoorbeeld ʼn helium ballon waarin jy alles laat wegsweef. Of vou ʼn papierbootjie wat jy in ʼn stroom sit om weg te vloei. Begrawe dit as jy wil – hoewel dit dalk té dramaties is!

Die geheim is om nie te wag dat “iets gebeur nie”. Soms moet jy ʼn besluit neem. Afsluiting is dikwels ʼn keuse, nie ʼn gebeurtenis nie. Net jy kan besluit wanneer genoeg nou genoeg is. Wanneer dit beter is om weg te stap en die deur toe te trek. Partykeer moet jy ʼn deur oopmaak om by ʼn nuwe plek uit te kom, ander kere moet jy een toemaak ... Stewig. Gesluit. Gooi sommer die sleutel weg!

Net jy kan jou eie lewe beter maak – en red!

Geen rede is ooit goed genoeg om aan ʼn verhouding vas te klou wat sleg is vir jou nie. O, ja, dis angswekkende om die beskermde “bekende” agter te laat. Dis moontlik die moeilikste ding vir enige mens om te doen ... maar wat sou gebeur as die skoenlapper geweier het om ooit haar kokon te verlaat? Sy sou nooit gegroei het nie, nooit verander het nie, nooit haar vlerke gekry het nie! En om die waarheid te sê – dis veel beter om onseker te wees oor moontlike geluk, as om seker te wees van besliste ongeluk!

Hierdie is ook nie iets wat net eenkeer in jou lewe gaan gebeur nie. Jy gaan dikwels moet kies: Klou jy aan iets wat jou gaan laat verdrink en staar ʼn besliste ramp in die oë? Of laat jy gaan, beweeg aan na ʼn toekoms sónder daardie persoon om wie jy jou lewe (verkeerdelik) gebou het? Die keuse is joune.

Dink sexy, single, nuut en gelukkig!

Die gevaar van enige ongesonde verhouding, is dat jy dit “reg” probeer dink. Maar maak hierdie waarhede deel van jou denke, en gooi die ou gemors uit – saam met wat en wie jou ook al probeer verdrink:

Sommige mense is net vir ʼn seisoen deel van jou lewe om jou iets te leer. En jy gaan nooit hierdie les leer as hulle deel van jou lewe bly nie. As iemand nie veronderstel is om in jou lewe te wees nie, gaan hulle ʼn manier kry om te verdwyn. Jy mors baie tyd en energie deur die onvermydelike uit te stel.

As iemand vir jou bedoel is, hoef jy nie te klou nie. Jy kan laat gaan, en hulle sal bly! Dink jy regtig as jy hom genoeg “oorreed” sal hy bly ... want “jy’t soveel moeite gedoen”? Nee, nee, nee!

Niemand kan vat wat regtig joune is nie ... so as iemand anders dit gevat het, was dit nie joune nie. Iemand beter is op pad! Of ... wil jy liewer tweede, derde, of vierde beste hê?
Hoekom op aarde?!

As hy in jou lewe wil wees, sal hy ʼn manier vind. Indien nie, sal hy ʼn verskoning uitdink. Wreed maar waar.

Onthou, terwyl jy aan die verkeerde persoon klou, laat jy die regte persoon dalk deur jou vingers glip! En dís dom.
 

Deel/Stuur

Hoender met kasjoeneutbotter

$
0
0
hoender resep

’n Lekker lang kuier om die etenstafel is die toppunt van geselligheid. Bederf jou kuiergaste met hierdie heerlike geregte soos hoender met kasjoeneutbotter.

Genoeg vir 4-6
Tyd: 1 uur

BESTANDDELE
250 ml ongegeurde jogurt
45 ml Butter Chicken Spice Paste
750 g hoenderdyfilette, vel en bene verwyder, grofgekap
seesout en varsgemaalde swartpeper, na smaak
1 ui, gekap
3 cm vars gemmer, gerasper
1 groen rissie, pitte verwyder en gekap
30 g ongesoute botter
3 kardemomsade, effens fyngedruk
5 ml paprika
15 ml garam masala
1 x 410g-blik gekapte tamaties
250 ml hoenderaftreksel
250 ml water
125 ml vars room
100 g ongesoute kasjoeneute
vars koljander vir opdiening
halwe klein rooi-ui, fyngekap, vir opdiening
poppadoms of gestoomde basmati-rys, vir opdiening
vars rooirissie, in skyfies gesny, vir opdiening

METODE
Stel die oond op 180°C.
1. Meng die jogurt, speserysmeer, hoenderfilette en geurmiddels in ’n groot bak. Bedek die hoender goed en plaas eenkant vir 15 minute.
2. Plaas die ui, gemmer en rissie in ’n voedselverwerker en meng totdat ’n smeer vorm.
3. Smelt die helfte van die botter in ’n braaipan oor matige hitte en voeg die kardemomsade, paprika en garam masala by. Kook vir 1 minuut en voeg dan die uiemengsel by. Roer goed en kook vir 5 minute.
4. Voeg die tamaties, hoenderaftreksel en water by. Bedek en prut liggies vir 15 minute. Verwyder van die plaat en laat effens afkoel. Plaas dan in ’n voedselverwerker en meng tot glad. Giet die sous terug in die pan.
5. Plaas die hoender op ’n bakplaat, geur goed en rooster tot gaar en effens . swart gebrand. Draai halfpad deur die gaarmaaktyd om, ongeveer 12-15 minute.
6. Voeg die hoender en enige sappe by die tamatiesous. Giet die room en oorblywende botter by en maak deurwarm.
7. Maal die kasjoeneute met 15-30 ml water in ’n voedselverwerker om ’n pasta te vorm. Roer dit by die kerrie en laat prut vir 15 minute.
8. Sit die hoenderkerrie voor saam met vars koljander, rooi-ui, poppadoms of gestoomde basmati-rys en skyfies rooirissie.

Deur Leila Saffarian, bygestaan deur Nomvuselelo Mncube. Foto’s deur Graeme Wyllie.

 

Deel/Stuur

Worsvleispastei met salsa verde

$
0
0
pastei resep

’n Lekker lang kuier om die etenstafel is die toppunt van geselligheid. Bederf jou kuiergaste met hierdie heerlike geregte soos Worsvleispastei met salsa verde.

Genoeg vir 4-6
Tyd: 50 minute

BESTANDDELE
30 ml olyf- of avokado-olie
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 klein rooi-ui, gekap
700 g worsvleis
15 ml tamatiepasta
125 ml tamatie-passata
60 ml water
30 ml vars platblaarpietersielie, fyngekap
400 g skilferkorsdeeg
1 eier, liggies geklits
salsa verde, vir opdiening

METODE
Stel die oond op 180°C.
1. Verhit die olie in ’n braaipan en soteer die knoffel en ui vir ’n paar minute.
2. Meng die worsvleis by en maak gaar. Gebruik ’n houtlepel om die vleis in die pan te verdeel en te laat verbruin.
3. Roer die tamatiepasta en -puree asook die water by. Kook vir ongeveer 10 minute en plaas dan eenkant om af te koel.
4. Skep die vleismengsel in ’n voedselverwerker, voeg die pietersielie by en pols tot net gemeng.
5. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit. Sny die deeg in die lengte middeldeur. Op ’n meelbestrooide oppervlak, rol een helfte van die deeg in ’n reghoek uit.
6. Tel die deeg versigtig op en plaas dit op die bakplaat. Skep die vleismengsel bo-op, maar laat ’n randjie van 2 cm rondom. Bestryk die randjie met ’n bietjie water.
7. Rol nou die ander stuk deeg uit sodat dit effens groter as die eerste stuk is. Sny ’n aantal kepe in daarin.
8. Plaas dit versigtig bo-op die deeg met die vleislaag en bestryk liggies met die eier. Bak tot goudbruin en gepof, ongeveer 30 minute.
9. Sit warm voor saam met salsa verde.

Deur Margie Els-Burger. Foto’s deur Graeme Wyllie.

Deel/Stuur

Is jy suksesvol of gelukkig?

$
0
0
sukses

Wat beteken dit om regtig suksesvol te wees? Is dit vir elke mens in besonder iets anders, of het mense soos “The Donald” – wat alewig aangaan oor finansiële rykdom – tog ’n punt beet?

Ek gaan deur verskillende en roterende fases deur die lewe. Soms is ek gemaklik in die hangmat wat swaai op die maat van middelmatigheid, liggies gesprinkel met ’n knippie sorgeloosheid. Ek het nie aldag ’n opinie oor alles nie. Sou jy my vra oor die verwante nuusgebeure, antwoord ek: “Leef en laat leef.” Ek wil nie baklei nie.

Dan is daar ook die dae wat ek die kaptein is van my eie skip op stormwater. Daar is nie tyd om te mors nie! As die muis in die melk val, moet hy spartel totdat dit in botter verander sodat hy kan opstaan en uitklim. Uithou, aanhou, altyd voortgaan – baie dankie Danie. Ons mag nie tevrede wees met enige iets minder as die heel beste nie, broers en susters! Ons moet aanhou veg totdat ons suksesvol is in die lewe.

En so preek ek vir almal wat wil luister.

Mense soos Donald Trump, Stephan Covey, Robert Kiyosaki en vele meer, moedig ons aan om die hoogste vorm van sukses te bereik, naamlik finansiële sekuriteit. Maar iewers in my studentejare het iets gebeur wat my siening van wat sukses presies is, totaal en al verander.

Ons was ’n handjievol mense van verskillende kulture, kleure en geure wat elke Woensdagaand bymekaar gekom het as selgroepie. (Ek noem geure, omdat die outjie wat toevallig langs my gesit het altyd na noedels geruik het. Ek gaan nie sê van watter kultuur hy was nie, maar dink in ’n oostelike rigting.)

Die enigste twee meisies in die groepie, het oorkant ons gesit. Een mooi en maer en die ander een vriendelik. Almal van ons was min of meer op dieselfde sosiale vlak. Of so het ons gedink…

Die groepleier het dié spesifieke week weereens met ’n fenomenaal vervelige onderwerp in die vorm van ’n vraag na vore gekom: “Wat beteken sukses vir jou?” Die ysbreker van die aand was egter toe hy ’n Freudiaanse glips begaan het, deur te vra wat dit beteken as ’n mens “sukseksvol” is.

Toe ons almal uiteindelik eers bedaar het was agt uit tien van die antwoorde, groot en goeie geld. Die vriendelike meisie het gesê dis om maer te wees.

Doepie se antwoord was anders as al die ander. Ons het hom nie baie goed geken nie, want sy bywoning was nie gereeld nie, maar ons het maar gereken dat hy net soos almal van ons is.

Maar wat hy daardie aand gesê het, het my vir die res van my lewe bygebly.

Voordat hy sy antwoord gegee het, het hy gevra of hy eers sy lewenstorie met almal kan deel. Doepie het vertel dat sy pa weggeloop het toe hy drie jaar oud was. Hy en sy ma het gesukkel om die pot aan die kook te hou, terwyl hy meer in die hospitaal as buite was. Later het die dokters hom met tipe twee diabetes gediagnoseer. In sy tienerjare het hy verslaaf geraak aan heroïen en vandag is dit ’n dag tot dag stryd om nie by die Nigeriese dwelmbase in Sunnyside te gaan aanklop nie.

“Jy kan vir jouself dink wat dit aan jou doen as jy aan drugs verslaaf is terwyl jy suikersiekte het, my bra,” het Doepie gesê, “Ek kan nie onthou hoe lanklaas ek gelukkig was in my lewe nie. So, vir my is sukses eenvoudig as jy gelukkig kan wees.” 

Wysheid op ’n pakkie suiker: “Sukses is wanneer jy gelukkig is” ― Doepie van die selgroepie.

Pierre Vee

Category: 
Deel/Stuur

12 apps om jou lewe te vergemaklik

$
0
0
apps

Is jou slimfoon die slimste wat dit kan wees? Met hierdie toepassings kan jy jou lewe vergemaklik. Waarvoor wag jy?

1. Reisbeplanning: Tripit

Hoekom wil jy dit hê? Of jy nou vir werk moet reis of ’n gesinsvakansie beplan, Tripit is die perfekte assistent. Jy kan al jou reisreëlings na plans@tripit.com epos, dan laai dit binne sekondes op jou foon.. Die oulike toepassing beplan ook roetes tussen jou bestemmings, net wat ’n goeie assistent moet doen.

2. Groepprojekte: Trello

Hoekom wil jy dit hê? Verby is die dae van taaklyste epos as jy ’n funksie, verjaarsdagpartytjie of vergadering reël. Met Trello, kan jy take wat deur verskillende mense uitgevoer moet word, op een kennisgewingbord saamstel. Dit bestaan uit projektaaklyste wat uiteensit wie vir watter take verantwoordelik is, met keerdatums, belangrike inligting ensovoorts.

3. Wagwoorde: LastPass

Hoekom wil jy dit hê? Gebruik van die “Forgot your password?”-knoppie is iets van die verlede met LastPass. Dis ’n appvir die bestuur van jou wagwoorde vir al jou aanlyn identiteite. Nou hoef jy net een wagwoord te onthou. As jy jou LastPass-rekening oopgemaak en jou oorspronklike data ingevoer het, stoor dit die inligting veilig. Wanneer jy dan programme oopmaak, vul dit jou wagwoord in en meld jou outomaties aan.

4. Gesinskalender: Cozi Family Organizer

Hoekom wil jy dit hê? Om gesinsaktiwiteite teen die yskasdeur te probeer organiseer werk nie. Cozi Family Organizer bied ’n kalender met ’n kleurkode vir elke lid van jou gesin, met doenlysies, inkopielysies, gesinsfotos en baie meer. Almal kan sien wat op die agenda is!

5. Foto’s: Photo Manager Pro

Hoekom wil jy dit hê? Bestuur die organisasie van jou foto’s met Photo Manager Pro. Dié toepassing beskik oor ’n magdom nuttige funksies en help om jou fotobiblioteek te vereenvoudig sodat jy foto’s maklik kan benoem, stoor, soek en vind. As jy die app op manlief se foon laai, kan jy maklik foto’s met hom deel. Dis beslis die ideale manier om foto’s te bestuur!

6. Adresboekie: Brewster

Hoekom wil jy dit hê? Sê totsiens vir jou standaard A-Z adresboekie! Met die splinternuwe Brewster-toepassing word al jou kontakbesonderhede van Facebook, Twitter, LinkedIn, Foursquare, Gmail en jou adresboek outomaties en netjies georganiseer in unieke profiele wat maklik is om te vind. Elke profiel vertoon die persoon se kontakbesonderhede, sosiale gebeurtenisse, verjaarsdae, nuwe werk, verhoudings, ensovoorts. Alles beskikbaar op een plek! Brewster maak jou selfs ’n weeskind as jy besig is om kontak met iemand te verloor. Nou toe nou.

7. Digitale liasseerkabinet: Neat

Hoekom wil jy dit hê? Neat is ’n digitale liasseerkabinet wat jou help om al jou belangrike inligting te transformeer, te organiseer en te vind regoor al die toestelle wat jy gebruik, soos jou slimfoon en skootrekenaar. Met hierdie app kan jy jou belangrike lêers enige tyd en enige plek gebruik. Jy kan selfs jou selfoonkamera gebruik om strokies, besigheidskaartjies en ander dokumente te skandeer, te verwerk, met jou toestelle te sinkroniseer en dit met ander te deel.

8. Verhoudings: Between

Hoekom wil jy dit hê? Between is die bobaastoepassing vir paartjies! Dis ’n privaat manier om julle herinneringe te stoor en te deel en skep ’n eksklusiewe kommunikasiekanaal spesiaal vir julle twee. Julle kan vinnig en veilig gesels met oulike plakkers en stempels om jou te help om jou gevoelens uit te druk. Met die privaat fotoalbum kan julle saam julle gunstelingoomblikke onthou en geniet. Dit het ook ’n kalender om belangrike datums en afsprake te onthou.

9. Klerekasorganisasie: Mix Me

Hoekom wil jy dit hê? Verbeel jou jy kan jou klerekas oral saam met jou ronddra. Verbeel jou jy kan jou klere meng en pas terwyl jy in jou kar ry. Verbeel jou jy het jou eie kasorganiseerder en jy kan jou klere virtueel aanpas! Jy kan maar ophou verbeel ... Met Mix Me is dit nou moontlik om ’n virtuele kas te skep en jou klere te organiseer en uitrustings te skep waar jy ook al is.

10. Inkopielys: Out of Milk

Hoekom wil jy dit hê?’n Inkopielys, spenslys én doenlysie in ’n klein, alles-in-een, intuïtiewe toepassing. Met Out of Milk is jou inkopielys altyd by jou en gereed wanneer jy winkel toe wil gaan. Die spenslys hou ’n ogie oor die noodsaaklike items, sodat jy altyd weet wat jy het. Die doenlysie help jou om enigiets anders op jou daaglikse lysie te onthou. Spaar tyd, beplan jou inkopies beter en onthou al die belangrike dinge in jou lewe!

11. Begrotingbeplanner: Smartpath

Hoekom wil jy dit hê? Dis die beste begrotingstoepassing. Punt. Hoekom? Dit help jou om binne jou vermoë te lewe – en wie kan nie baat daarby nie! Dit het al die eienskappe wat jy nodig het, maar dit vereis aktiewe deelname van jou kant. Dit sal help dat julle ophou baklei oor geld. En as jy dit gebruik, sal jy minder uitgee as wat jy verdien.

12. Apteker-in-jou-sak: Medisafe

Hoekom wil jy dit hê? Medisafe is die gunstelingtoepassing wat jou help om jou medisyne betyds en gereeld te drink. Dis ’n visuele app wat jou daaraan herinner om jou pille te drink en jou medisyne te bestuur. Dit sal jou ook help om jou gesin met hulle medisyne te help. Of jy nou jou eie medisyne moet onthou, of vir ’n ouer, kind of ander pasiënt moet sorg, Medisafe kan jou help om alles te onthou wanneer dit onthou moet word!

Slide Show Title: 

Is jou slimfoon op sy slimste?

Slide Show Intro: 

12 apps om jou lewe te vergemaklik

Deel/Stuur

Hoe ek my hare blond en blink hou

$
0
0
Nadia Valvekens

Nadia Valvekens van die sepie Binnelanders, vertel hoe jy, soos sy, jou blonde hare in topkondisie kan kry.

Of jy ’n natuurlike blondine is en of jou blondheid uit ’n bottel kom, ligte hare is fyner en droër en breek makliker, veral as jy jou hare gereeld laat bleik en stileer.

Die regte behandeling hou jou hare gesond

“Op die stel van Binnelanders kry my hare elke dag waks in om dit glans te gee en die styl te laat hou. Ek moet dit elke dag uitwas, anders sal dit my hare swaar en vaal maak. “Die hittestilering maak dit verder noodsaaklik om my hare goed te bevog. Requel Bouredji is die haarstilis op stel wat my hare knip, kleur en stileer. Sy gebruik elke ses weke Joico se intensief bevogtigende K-Pak behandeling op my hare. Dis nie goedkoop nie, maar ek kan regtig die verskil sien.”

Pasop dat jou blonde hare nie onnatuurlik lyk nie

“As jy rook of jy in ’n omgewing is waar daar gerook word, sal jou hare ’n gelerige skynsel kry. Kraanwater wat baie metale bevat, kan ook jou hare geel laat lyk. Die oplossing is ’n kleurneutraliserende sjampoe of opknapper. Dit bevat violetpigmente, wat geel teenwerk.
“Ek het dit al self nodig gehad. Net ’n klein bietjie het die probleem opgelos. Te veel daarvan kan jou hare grys in plaas van platinum laat uitkom. Moet dit dus nie te lank aanhou nie.”

Bly so na as moontlik aan jou natuurlike haarkleur

“Ek is ’n voorstander van die natuurlike voorkoms en hou my hare so na as moontlik aan my eie goue kleur. Sodoende weet ek dat my hare my velkleur vlei.
“As jy nie blond gebore is nie maar daaraan dink om jou hare ligter te maak, moet jy besef dat blonde hare ’n gat in jou beursie gaan maak. Om donker wortels te verbloem vereis ’n maandelikse besoek aan die haarsalon. So, in plaas van om Donatella Versace-blond te raak, kies ’n skakering wat lyk of dit songebleik is. Ligter en donkerblonde strepe is meer oortuigend en die donker haarwortels minder opvallend as jou hare begin uitgroei.
“Onthou ook dat blondines maklik uitgewas kan lyk in ligte kleure. My vel het ’n geel ondertoon, wat beteken dat dit lyk of ek geelsug het as ek geel dra. Ek moet gewoonlik blou of ’n ander kleur daarby dra sodat dit goed kan lyk. Ek hou van wit en het nou wit gedra vir Pippa se huidige storielyn, maar jy moet dan kompenseer met swaarder grimering. Maak jou oë of mond die fokus as jy nie bleek wil lyk nie.”

joico.jpg“Ek gebruik Joico-haarsorg, wat die haarstilis by Binnelanders aanbeveel het. Dit werk soos ’n droom!”

Joico K-Pak Color Therapy sjampoe (R240) en opknapper (R245), beide beskikbaar by uitgesoekte salonne.

Slide Show Title: 

Kry pragtige hare soos Pippa

Slide Show Intro: 

Nadia Valvekens deels
haar blonde
haargeheime

Deel/Stuur

Die wêreld se moeilikste werk

$
0
0

Hierdie video het onlangs die rondtes op die Internet gedoen. Dis ʼn huldeblyk aan alle mammas, want hulle het die moeilikste, en beste, werk op aarde.

 

Deel/Stuur
Viewing all 1496 articles
Browse latest View live