
Katherine Heigl, wat ’n Emmy ingeoes het vir haar rol in Grey’s Anatomy, het haar huis, haar hart en haar arms oopgemaak vir ’n kindjie uit Korea. Maar dit het nie daar geëindig nie …
Soos enige ander ma spog Katherine Heigl graag met haar driejarige Koreaanse dogtertjie – en nou ook met ’n nuwe babatjie. Maar haar twee dogtertjies het op ’n baie spesiale manier in haar lewe gekom. “Een ding het ek by my ma geleer,” verduidelik sy, “en dit is dat ’n mens nie ’n ma word deur geboorte aan jou kinders te gee nie.”
Selfs voordat sy met haar musikant-man, Josh Kelly, getroud is, het sy al geweet dat sy ’n kind wou aanneem. “Daarom moes ek seker maak dat die man met wie ek trou, oukei sou wees daarmee.” Ook wou sy juis ’n Suid-Koreaanse baba aanneem. “Nie sonder rede nie,” verduidelik sy. “My suster is Koreaans. My ma-hulle het haar aangeneem drie jaar voor my geboorte.” Katherine wou ’n gesin hê wat sou ooreenstem met die gelukkige gesin waarin sy grootgeword het.
Sy en Josh hét dit oorweeg om biologiese kinders te hê, maar het toe saam besluit om eers aan te neem. Sy was baie gretig om ouerskap te ervaar en dit het nie vir haar saak gemaak dat sy nie self geboorte sou gee aan die baba nie. “Dis nie dieselfde DNS wat jou lief maak vir ’n kind nie,” verklaar sy. “Dit het ek by my ma gesien. Sy het hoegenaamd geen onderskeid gemaak tussen haar biologiese kinders en haar aangenome dogter nie.”
Daar was ’n besondere band tussen Katherine en haar suster. Hulle het saam grootgeword, saam swaargekry en saam getreur toe haar broer op 15-jarige ouderdom in ’n motorongeluk dood is. Daarom wou sy ook haar suster, Margaret Leigh, en haar ma, Nancy, vereer met die naam wat sy vir haar baba gee. Naleigh is ’n samevoeging van hulle name. “’n Kind word joune die oomblik wat sy in jou arms gesit word,” sê Katherine. “Die liefde vir daardie kind is oombliklik.”
Maar die lewe werk nie altyd uit soos ’n mens beplan nie. Daar was ’n probleem met die baba – sy het ’n hartdefek gehad. Katherine en Josh moes hierdie slegte nuus oor die telefoon hoor. “Daar is aan ons verduidelik presies wat verkeerd was met die baba, maar ons is ook gerusgestel dat dit deur ’n operasie herstel is.” Die dogtertjie moes ’n opehartoperasie ondergaan voordat sy uit Korea weg is. Katherine-hulle is die kans gegun om eers met dokters daaroor te gesels en dan te besluit of hulle nog die baba wou hê.
“Nee, ons het dit nie vir ’n oomblik oorweeg om kop uit te trek nie,” sê Katherine wanneer die vraag aan haar gestel word. “Ons arms, ons huis en ons harte was oop vir haar. Onvoorwaardelik.” Gelukkig is Josh se pa ’n kardioloog en kon hulle die baba se toestand met hom bespreek. Hy het haar lêers laat aanstuur sodat hy dit kon bestudeer. “Ons wou haar ten alle koste hê, maar ons wou ook weet waarvoor ons ons inlaat.” Vandag is die dogtertjie heeltemal gesond en is haar hartprobleme iets van die verlede.
Terwyl hulle gewag het dat die aanneming gefinaliseer word, het Katherine soms tot veertien keer ’n dag na die foto’tjie op haar selfoon gekyk. Sy wou vir almal vertel van die babatjie. En sy hét! Selfs vir vreemdelinge. Wanneer sy in ’n restaurant geëet het, sou sy die foto op haar selfoonskerm oproep en vir hulle wys. “Kyk!” het sy gespog. “Is dit nie ’n pragtige ou dingetjie nie? Ons is besig om haar aan te neem.”
Katherine het aan ’n film gewerk toe die baba uiteindelik huis toe gekom het. Daarna het alle ander dinge om haar vervaag. “Ek was vir die eerste keer ’n ma en ek het seker maar te hard probeer om die perfekte ma te wees. Daar was tye dat ek heel van my trollie af geraak het.” Dit was ’n rol wat sy nog nie voorheen vertolk het nie, een waarvoor jy nie regtig kan voorberei of repeteer nie. Alles is nuut, anders as enigiets wat jy nóg beleef het.
Katherine het nie besef watter harde werk die grootmaak van ’n baba kan wees nie. Om sukses te maak van moederskap én haar loopbaan het ’n nagmerrie geword. “Ek het ’n mislukking gemaak van my werk en ek was ook nie daar vir my dogter óf my man nie. Ek was gespanne, uitgeput en bekommerd. Dit het gevoel asof alles tussen my vingers deurglip, maak nie saak hoe hard ek probeer het om daaraan vas te klou nie.”
Sy kon nie die tydjies saam met Naleigh geniet nie, want sy was te bewus daarvan dat dit nie genoeg was nie. Sy kon ook nie op haar werk konsentreer nie, want haar gedagtes was by die baba wat vir haar gewag het. “Wat op aarde het ek aangevang?” het sy haar begin afvra. Om ’n werkende ma te wees het vir haar na ’n baie selfsugtige keuse begin lyk. Die skuldgevoelens wou haar oorweldig. Waarom het sy die kindjie aangeneem as sy nie genoeg tyd by haar kon deurbring nie?
Maar die oplossing was nie eenvoudig nie. Om ’n tuisbly-ma te wees, het haar ook nie bevredig nie. “Wanneer daar ’n werkie opgeduik het, het ek daarna gegryp soos ’n vis na aas.” Katherine moes leer wat soveel werkende ma’s reeds weet – dat jy dit nie alles kán hê nie, dat daar altyd iets sal wees wat verlore gaan. “Elke keer as ek te laat by die huis gekom het om my kind in die bed te sit, elke keer as ek iets gemis het of nie daar was om haar te troos nie, het my hart gebreek. Gelukkig vir Katherine het sy die hulp van ’n baie bekwame kinderoppasser.
Naleigh was ’n stewige nege maande oud toe sy deel van die gesin geword het. Vandag weet Katherine hoe nodig dit is om geduldig te wees. “Dis altyd die moeite werd,” sê sy. Aan die begin sou die dogtertjie kraai van die lag as Josh met haar op die mat speel en Katherine het uitgesluit gevoel. Al wat sy begeer het, was om ’n liefdesband met die meisietjie te smee en na aan haar te voel. Dit het vir haar in ’n innerlike stryd ontaard. So ’n gewoel en gekerjakker was nie in Katherine se aard nie en sy kon nie by Josh en die klein woelwater aansluit nie. Sy moes selfs teen ’n flentertjie jaloesie in haar hart baklei. Die baba het Josh se “geselskap” bo hare verkies! Dit was ’n bitter pil om te sluk en het haar hartseer gemaak. Eers later sou sy vrede maak daarmee dat sy eerder die vertrooster is, dat Naleigh na haar toe kom as sy seergekry het.
Gelukkig stem sy en Josh saam oor hulle opvoedingsmetodes. Integriteit en moraliteit sowel as respek vir jou ouers is ononderhandelbaar. Dis ook belangrik dat ’n kind se voete stewig op die grond moet bly. “Ons wou van die begin af hê klein Naleigh moes weet hoe geseënd en bevoorreg sy is én hoe geseënd en bevoorreg óns is om haar in ons lewens te hê.” Katherine onthou hoe uitermate opgewonde sy was toe sy die oproep gekry het dat daar vir hulle ’n baba beskikbaar was. “’n Mens raak só ongeduldig. Jy weet jou baba is iewers daar buite en jy kan nie wag om haar vas te hou nie.”
Om Naleigh aan te neem was ’n groot sukses, maar hulle gesin was nog nie voltallig nie. Verlede jaar het Katherine en Josh nog ’n baba aangeneem. Soos haar ouer sussie het klein Adalaide Marie Hope dadelik vir haar ’n plek in hulle harte verseker. Hierdie keer was die babatjie net agt dae oud. Die aanpassing was dus makliker. Die aanneming is aanvanklik geheim gehou. Om publisiteit te vermy, het hulle ’n vriendin saamgeneem toe hulle die baba gaan haal het. Op die terugvlug het sy ’n entjie van hulle af in die vliegtuig gesit met die nuwe baba op haar skoot. Aanvanklik het net ’n paar vriende na aan hulle van die baba geweet; selfs haar naam is geheim gehou.
Maar in Hollywood bly niks lank geheim nie en dit was nogal Josh self wat die aap uit die mou gelaat het. “Ek is só in my skik daarmee om nou die pa van twee dogtertjies te wees,” het hy in ’n oomblik van swakheid teenoor ’n vriend gespog – en die geheim was nie meer ’n geheim nie.
Die enigste probleem is dat Naleigh nogal jaloers is op die nuwe baba. “Toe ons haar van die baba vertel het, was sy aanvanklik baie gretig om haar sussie te ontmoet,” vertel Katherine. Maar, soos met alle ander kinders, is Naleigh nou nie meer so seker dat dit ’n goeie idee is om Pa en Ma se aandag te deel nie!
