
Sommige moderne uitvindings en gewoontes maak jou lewe baie makliker en geriefliker. Ongelukkig is daar ’n paar wat jou en jou gesin groot skade kan aandoen as jy nie versigtig is nie.
Sou jou oumagrootjie gedink het jou moderne gewoontes is normaal of gesond? Die antwoord is waarskynlik nee, en medici beaam dit.
Plastiek in die mikrogolfoond is beslis uit
Plastiekhouers en kleefplastiek is gerieflik, maar dit bevat ’n verskeidenheid chemikalieë, soos bisfenol A (BPA). Hierdie stof word onder andere met kanker, voortydige puberteit en hartsiektes verbind. Selfs wanneer jy water of koeldrank uit ’n plastiekbottel drink, beland hiervan in die vloeistof. Deur plastiek te verhit, versnel jy die proses en ’n groter hoeveelheid van die gifstowwe drup in alles wat jy warm maak.
Ongelukkig kan BPA-vrye produkte belaai wees met ’n ander BPA-agtige chemikalie, naamlik die ewe giftige bisfenol S (BPS). Maatskappye vervaardig produkte wat “BPA-vry” is, maar in werklikheid is dit net so giftig omdat dit ander skadelike middels bevat. Gebruik dus eerder ’n glas- of keramiekhouer wanneer jy iets in die mikrogolfoond verhit. Moet liewer ook nie kos met kleefplastiek bedek wanneer jy dit warm maak nie.
Is jou selfoon teen jou oor onveilig?
’n Selfoon is deesdae ’n verlengstuk van jou lyf. Dis gerieflik, gee jou ekstra gemoedsrus oor veiligheid en hou jou in kontak met almal.
Maar wees versigtig, sê kenners. Daar is reeds navorsing oor gebruikers wat die afgelope dekade of meer dikwels met hulle selfone teen hulle ore gepraat het. Hierdie persone is meer geneig tot breingewasse. Selfoonmaatskappye meen dat die risiko nie groot is nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie is egter bekommerd oor die verskeidenheid gesondheidsrisiko’s van hierdie klein apparaatjies.
Wees dus eerder veilig en gebruik jou handvrye toestel om te gesels – of jy nou bestuur of nie. Dit word in elk geval saam met jou foon verskaf.
Dink twee maal oor vlooi- en bosluishalsbandjies
Dis nie ’n goeie idee om iets giftigs om jou hond of kat se nek vas te maak nie. En weet jy hoe sleg dit vir jou en jou kinders is? Wanneer jy met jou troeteldier speel, word jy aan ongesond hoë hoeveelhede gifstowwe blootgestel. Dit verhoog jou risiko vir kanker en neurologiese probleme. Selfs nadat jy die giftige bandjie afgehaal het, sal die gifstowwe weke lank op die pels agterbly.
Daar is gelukkig natuurlike alternatiewe. Begin deur gereeld jou harige huismaat te bad. Gesels met jou veearts oor ’n natuurlike produk vir diere, soos sederolie. As jy met die reuk kan saamleef, gee vir jou troeteldier vars knoffel om peste weg te hou.
Om jou lugbevogtiger voortdurend aan te los
Lugbevogtigers is menige ouer se redding wanneer ’n kind met verstopte lugweë sukkel. Ongelukkig kan hierdie klein lewensreddertjie dinge net vererger.
ʼn Studie wat deur die Departement van Gesondheid in die staat New York gedoen is, het probleme met die voortdurende gebruik hiervan gevind. Dis uitgewys as een van die grootste redes waarom kinders asma ontwikkel. “Te veel vog help die groei van stofmyte en muf aan,” verduidelik dr. Morris Nejat, pediater en spesialis in allergieë van New York. Maak daarom seker dat jy jou lugbevogtiger gereeld skoonmaak sodat daar nie allerhande mikro-organismes uitbroei nie.
Is kolonhidroterapie goed vir jou dikderm?
Sterre soos Jennifer Aniston en Madonna glo aan kolonhidroterapie. Dit beteken die dikderm word met water uitgespoel om van afvalstowwe ontslae te raak. Dit kan egter nadelig wees, omdat dit ook die belangrike natuurlike bakterieë wat in die dermkanaal voorkom, verlore laat gaan.
Gastroënteroloog dr. Lisa Ganjhu sê: “Jou ingewande is selfreinigend, so, tensy jy ’n kolonoskopie moet laat doen, is daar geen rede om jou dikderm uit te spoel nie.”
Om jou spysverteringstelsel goed aan die werk te hou, moet jy ’n gebalanseerde leefstyl volg. ’n Probiotiese aanvulling, soos ProbiFlora van Nutrilida, hou die gesonde bakterieë in jou dermkanaal op hulle plek.
Soms is dit ’n goeie idee om terug te keer na die manier waarop jou oumagrootjie dinge gedoen het, veral as dit by gesondheid kom.
Bronne: www.webmd.com;www.redbookmag.co.za; healthypets.mercola.com; www.mayoclinic.com
