
Suretha Maartens het gemeen dat sy as ’n op en wakker ouma eendag saam met haar kleinkinders oor die grasperk gaan rondhardloop en baljaar. Sy was fiks en gesond, of so het sy gedink.
Nee, dit kan nie wees nie! Op 23 en met ’n rits atletiektoekennings agter my naam kan ek mos nie siek wees nie? Ek sien net so nou en dan swart kolle voor my oë, maar dit is al. Die dokter maak seker ’n fout. Hoekom lyk my ma so geskok?
“Algehele nierversaking,” het ek die dokter daardie lenteoggend meer as twee jaar gelede hoor sê. Ek het nie die omvang van sy woorde besef totdat hy verder verduidelik het nie. Net ’n nieroorplanting sal my lewe kan red. Albei my niere het hulle funksie verloor en ek moes dadelik met behandeling begin.
Gelukkig, wanneer jy daar in die dokter se spreekkamer sit en van behandeling hoor, dink jy dis maar net iets wat jou beter gaan laat voel. As ek daardie dag geweet het wat vir my voorgelê het, het ek moontlik net daar bly sit.
My lewe het skielik uit pille, pyn en depressie bestaan. Pille wat nie werk nie. Die alternatief was peritoneale dialise tuis. Ek het vir myself ’n vreemdeling geword in die spieël. My gesig het al hoe groter geswel en my lyf het al meer gekwyn. Vreemd. Ek wou altyd graag ’n bietjie gewig verloor. Nou was ek twintig kilogram ligter – en ek het vreeslik sleg gelyk! Elke dag het my lyf bietjie vir bietjie agteruitgegaan. Waar sou dit ophou?
My familie het my agteruitgang ook elke dag beleef. As die vrees so dikwels in my ma se oë geflikker het, sou ek wonder of dit nie dalk vir haar erger was nie.
Sonder my medewete het my ma haar laat toets om te bepaal sy ’n skenker kan wees. Die kans was goed dat een van my susters dalk sou wees, maar hoe kon ek ooit so iets van hulle verwag? Die prys was net te hoog. Ek het egter nie met moederliefde rekening gehou nie – ’n ouer se liefde ken geen perke nie. Sy was ’n geskikte kandidaat, het my ma my hoopvol vertel. Die emosies wat ek op daardie oomblik ervaar het, was te intens om te beleef. Ek sukkel tot vandag toe om te beskryf hoe dit gevoel het. Dalk kies ek om daardie totale oorweldiging te vergeet.
Een oomblik sou ek absolute verligting voel, gevolg deur pynlike hartseer oor die pad wat vir my ma voorlê. Maar ek was teen daardie tyd te moeg en uitgeteer om te baklei. Was die lyding van dialise regtig amper verby? Sou my lyf weer sonder pype kon wees? Ek het ’n tweede kans gekry! My ma het my lewe gered.
Ek lewe weer soos ’n kind. Opgewonde, met die wete dat wonderwerke nog gebeur. Soms beleef ek egter moeilike dae. Ek raak keelvol vir die pille, bloedtoetse, naalde, snye en al die moets en moenies wat deel van my nuwe lewe is. Dan huil ek my hart uit en gaan weer aan. Ek het vrede gemaak daarmee dat sekere dinge op my bucket list net daar gaan bly, maar daar is steeds baie om voor dankbaar te wees. Ek neem selfs professioneel aan atletiek deel – iets wat ek gedink het nooit weer moontlik sou wees nie.
My gesondheid en higiëne is selfs belangriker as vroeër. Maar so ook my geloof. Ek hou vas aan die belofte dat Hy iets groots deur alles beplan. Hierdie wete sit sommer ’n glimlag op my gesig. En die wete dat daar altyd op aarde baie engele is wat ons deur moeilike tye dra. My ma is een. Haar onbaatsugtige en onvoorwaardelike liefde het my geleer om ’n pad van dankbaarheid, volharding, passie, liefde, genade en geloof te stap. Ek het oneindig meer as net ’n nier gekry.
