
Die jaarlikse Ghoema toekennings is weer om die draai. Dit is hier waar al ons gunsteling Afrikaanse kunstenaars bymekaar kom om ’n toekenning of vyf te ontvang vir hul harde werk deur die jaar.
Ons luister graag na Bobby van Jaarsveld oor die radio en sing kliphard saam met Juanita du Plessis se CD. Baie keer dink jy dalk hoe lekker dit moet wees om die land vol te toer en aand na aand gehore op hul voete te hê met jou musiek. Min besef ons dat die lewe van ’n kunstenaar nie altyd maanskyn en rose is nie en dit soms moeilik gaan net om elke maand ’n inkomste te verdien.
Juis daarom het Afrikaanse musiektoekennings opgevlam die laaste paar jaar. Media instansies en platemaatskappye wil die kunstenaars van ons land vereer en dankie sê vir hul opoffering en passie vir musiek.
Vanjaar se Ghoema toekennings vind op 13 April by Carnival City plaas en beloof om weereens ’n spoggeleentheid te wees.
Bobby van Jaarsveld wat verlede jaar met vyf Ghoema toekennings huistoe is, is vanjaar in 6 kategorieë genomineer. Juanita du Plessis is op die benoemingslys vir Album en Vroulike kunstenaar van die jaar sowel as vir beste DVD-produksie (live) en beste Pop-of Kontemprêre-album deur ’n groep of duo saam met Theuns Jordaan.
Retief Burger is saam met Juanita du Plessis, Heuwels Fantasties, Theuns Jordaan en Bobby van Jaarsveld genomineer vir Album van die jaar.
Kurt Darren, Theuns Jordaan, Adam Tas, Bobby van Jaarsveld en Dewald Wasserfal staan tou vir die Manlike kunstenaar van die jaar toekenning. Dit terwyl Juanita du Plessis, Nianel, Riana Nel, Monique en Carike Keuzenkamp die stryd aansê in die Vroulike kunstenaar van die jaar kategorie.
Ons sien baie uit na hierdie geleentheid en kan nie wag om te hoor wie die wenners is nie. Hou voelgoed.co.za, ons facebook en twitter dop vir al die Ghoema nuus soos wat dit gebeur.
Gaan na www.ghoema.co.za voor 4 April 2013 om vir jou gunsteling kunstenaars te stem. Kaartjies is ook by computicket beskikbaar.
