
Dewald Louw sing reeds die wêreld aan die brand vandat hy 8 jaar oud was. Ons het by dié blondekop, blou-oog sanger van Bloemfontein gaan inloer en toe deel hy met ons ’n paar dinge ...
“Ek droom daarvan om nog eendag my PPL-vlieglisensie te kry. Verbeel jou, jy vlieg gou-gou vir ’n naweek see toe om net ’n bietjie weg te kom van alles af. En in plaas van ses of agt uur, is jy binne ’n uur of wat daar – ek praat nou van ons binnelanders! Ek droom van kleins af al van vlieg en elke jaar belowe ek myself dié jaar gaan ek dit doen. Maar daar was net nog nooit genoeg tyd nie. Ek sal moet opskud, want ek is nou 26 en wil vlieg voor ek dertig word en ook my doktorsgraad in sielkunde of mediastudies doen.”
“Ek het my al lelik vasgeloop op Twitter, ek is gewoonlik nie spyt oor dinge wat ek sê nie. My opinies is baie liberaal en ek is oop vir verskillende idees. Hoewel ek altyd eerlik is, bly ek taktvol – al is ek dalk die enigste een! Twitter kan rof raak. Ek het onlangs getwiet oor ’n spesiale konsert wat ek by ’n akwarium gedoen het. Die dolfyne het toertjies gedoen terwyl ek sing. Sjoe, diere-aktiviste het my behoorlik aangeval oor hoe sleg harde musiek vir dolfyne is en dat ek net wil geld maak ten koste van die arme diere.”
“Die ander dag het ’n baie vreemde ding met my gebeur. Ek moes iewers heen vlieg en het aan boord gegaan om my sitplek te kry. Daar was reeds ’n hele paar mense in die vliegtuig. Heel verbaas hoor ek hoe een van my eie liedjies oor die luidsprekers begin speel toe ek instap. Dit was so ’n slow motion oomblik. Ek het na my sitplek gesoek en selfbewus gedink hoe ironies dit is ... net om sekondes later tot my verleentheid te besef dit is my eie selfoon in my broeksak wat per ongeluk self musiek begin speel het!”
“Wat vir een mens werk, sal nie noodwendig vir ’n ander mens werk nie, maar ek het oefening nodig. Dit is noodsaaklik om my gemotiveerd en aan die gang te hou, daarom gaan ek tot vyf keer per week gym toe. En ek is glad nie skaam om elke maand saam met my meisie vir ’n gesigsbehandeling te gaan nie. Daar is geen rede hoekom ’n man homself nie kan versorg nie. Ek laat my glad nie deur enige stigma afsit nie, en dink vandag se mans kan almal ’n bietjie beter na hulleself kyk. Dis lekker om gesond, versorg en fiks te wees.”
“Ek is ’n regte closet nerd! Alhoewel ek baie lief is vir mense, het ek amper dubbeld soveel tyd op my eie nodig as wat ek tussen mense is. Dan lees ek graag, meestal sielkunde- of selfhelpboeke. Ek het pas The Monk Who Sold His Ferrari klaargemaak. En my gunstelingboek is Think and Grow Rich van Napolean Hill. Robin Sharma se boeke het my geleer om my droom met passie na te streef. Jy kan nie suksesvol wees as jy aan jouself twyfel of iets net vir die geld doen nie. Vind geluk in die proses, nie net in die resultaat nie.”
