
Joanita Rossouw is gewoond daaraan dat almal afvlerkvoëls vir haar aandra. Met liefde maak sy hulle dan gesond. Maar hierdie keer was dit anders. ’n Groot verrassing het op haar gewag.
Sy sien hom van ver af aangestap kom met Lizelle agterna. Haastig. Hierdie seunskind van haar met sy veldvoete. Hy is gedurig iewers op die plaas, besig om vol stof te word. Joanita kry ’n warmte om haar hart. Dis lekker om die kinders so vry en in die natuur te sien. Hulle is gelukkig, dink sy. Wanneer Hanno naderkom, sien Joanita vir die eerste keer die boks wat hy in sy hande dra.
Die Rossouws se werf is ’n gesellige plek waar mense lag, honde en katte baljaar en voëls rondfladder. “Ek is mal oor voëls,” sê Joanita en vat-vat aan die borsspeld onder haar regterskouer van ’n swael in vlug. “Eintlik alle diere, dit is maar hoe ek is. Ek kan nie iets wat seergekry het of klein is sommer net los nie. My twee kinders, Hanno en Lizelle, is ook so. Die kinders by die skool bring gereeld vir my siek en klein voëltjies wat hulle opgetel het,” vertel hierdie juffrou wat vir gestremdes skoolhou. Sy het juis dié week weer ’n duifie gekry. As sy van daardie dag vertel wat Hanno en Lizelle die vyf swart kuikens by die huis aangebring het, is daar ’n veraf verlange in haar oë.
Dit was strooptyd en bedrywig op die plaas. Moeë manne sit lank op die lande en werk. Elke krieseltjie tyd word benut – en Hanno is mal oor die bedrywigheid. Hy is heeltyd saam met die werkers op die lande. En daardie dag, toe hy een van die werkers hoor praat oor die eendjies wat hulle opgetel het, spits hy sy ore. Swart eendjies, vertel hulle. Nou die dag het hulle die kuikens voor die stroper gesien en opgetel. Hanno wou dadelik weet waar hulle is, en het saam na die werkers se huis gegaan om te gaan kyk. Eers het hy sy sussie gaan haal.
Hy het nog nooit sulke kuikens gesien nie. Stewig en pikswart. Maar hy dink nie dis eendjies nie, sy ma sal weet. Instinktief besef hy dat hy hierdie voëltjies by haar moet kry. Hulle sit in ’n draadhok sonder water met net heel mieliepitte om te eet. Kan hy hulle kry? wil hy by die werkers weet. Nie kry nie, antwoord hulle. Koop. Hy doen dit toe. Maar die transaksie sluit nie die draadhok in nie en iemand bring ’n boksie waarin hy die kuikens sit. Dan mik hulle haastig huis toe.
Joanita loer by die boks in wat Hanno soos ’n skatkis na haar uit hou. Sy is onmiddellik verlief. Dis beslis nie eendjies nie. Gansies, dalk. Maar hulle het swaargekry, kan sy sien. Gelukkig het sy altyd ʼn voorraad fyn mielies en ProNutro-pap by die huis, juis vir sulke onverwagte aankomelinge. Joanita het al baie gevlerkte lewens so gered. Tussen die ander voëls, kry sy vir hulle ’n hokkie met skoon water en kos gereed. Dan sorg sy dat elke magie genoeg pap inkry sodat hulle sterk en gesond kan word.
Die eerste aand was nie ’n sukses nie. Toe Joanita vroegoggend gaan kyk hoe dit met hulle gaan, was een kuiken dood. “Dis moeilik om te sê hoekom, dalk van die honger? Miskien het hy te laat kos gekry. Of dit kan die trauma van alles wees. Die ander viertjies was so bang. Regtig verskrik.”
Met baie geduld en deernis het die lang proses begin om die kuikens sterk te kry en gewoond te maak aan hulle nuwe omgewing. Joanita het vir hulle ’n skuiling geprakseer sodat hulle ’n veilige plekkie gehad het om heen te koes wanneer sy vir hulle kos gee. Aanvanklik het die vier swart bondeltjies weggeskarrel as sy nader kom. Dan het sy versigtig kos en skoon water in hulle hokkie gesit en ’n oomblik of twee stil by hulle bly staan. Vir hierdie kuikens was alles ’n bedreiging – selfs die hand wat hulle gevoer het. Joanita het egter geweet hulle sal op ’n stadium aan haar gewoond raak. Hulle het elke dag sterker en groter geword.
Groter en groter en groter! “Ek het begin besef hulle kan onmoontlik ganse wees!” lag Joanita. “Soos hulle gegroei het, kon ek sien dat hulle baie dik bene en groot voete het. Hulle snawels was ook heeltemal te groot om ganse te wees.” Die hokkie waarin hulle eers gebly het, was sommer gou te klein. Gelukkig was hulle toe al mak genoeg om na die groot voëlhok toe te skuif. “Hulle was verstommend groot, en ons het agtergekom dat ons gansies eintlik wilde makoue is!” Joanita beduie met haar hand dat hulle later omtrent ’n meter hoog was en met haar arms uitgestrek, wys sy hulle vlerkspan. “Dit was so mooi!” vertel sy oor hierdie vier geveerde pleegkinders van haar. “Ek wou hulle nie verwilder deur aan hulle te vat nie, maar ek het elke dag tussen hulle beweeg.”
Ongeveer vier maande later het Joanita gesien die makoue begin vlieg. Hulle het van die een kant na die ander kant van die voëlhok gevlieg, en sy het besef dit is tyd om hulle gewoond te maak aan ’n lewe buite die hok. “Die eerste dag het hulle agter my aan uitgestap en ons hele werf deur gevroetel, elke klippie, korreltjie en grassie is ondersoek! Ek het ’n lekker diep gat vir hulle gespit en vol water gemaak. En elke dag as ek hulle oopmaak, gaan hulle daar swem en sommer ook buite eet. Aanvanklik het hulle nie ver gevlieg nie. Net so ’n draai in die lug voor hulle weer in die werf kom land het.”
Die winter het nadergekom en die makoue sou hulle natuurlike instink volg en die pad na warmer dele toe vat. “Ek verstaan dit is waarheen hulle elke winter gaan.” Die dag het toe ook aangebreek dat die makoue nie hulle gewone draai oor die huis se dak gemaak het nie. Hulle het verder gevlieg. En verder. “Ek was so bekommerd oor hulle,” vertel Joanita, wat gespanne gestaan en kyk het wat hulle doen. Na ’n lang ruk het die makoue teruggekom en in die grondpad naby die huis gaan land. Joanita het hulle geroep en hulle het haar stem herken.
Joanita het gesien die makoue ken en aanvaar hulle nuwe “nes”, daarom het sy begin om hulle elke dag oop te maak as sy soggens skool toe ry. En elke middag het die viertjies vir haar gesit en wag. Dit was wonderlik om te beleef, maar daar was tog ook ’n tikkie hartseer. Joanita het baie goed geweet dat hulle nie net die omgewing bekyk nie. Elke dag se vlug het ’n doel gehad. Dit moes hulle vlerke sterk maak. Dit was die natuur se manier om hulle voor te berei op die uitmergelende reis wat voorgelê het.
Op ’n stadium het net drie makoue begin terugkom. Die vierde een, die grootste van die vier, het nie weer teruggekom nie. “Ek is nie seker hoekom nie. Hy was baie groter as die ander drie. Dalk het hy gesukkel om te vlieg. Miskien het daar iets met hom gebeur.” Joanita bly ’n oomblik stil voor sy verder praat. “Kort daarna het die ander drie ook gevlieg. Dit was ’n bittersoet oomblik ...” Maar dit was nie die laaste sien van haar geliefde makoue nie. “Een middag was daar een makou op die werf toe ek by die huis kom. Ek kon dit nie verstaan nie, totdat ek nader gegaan het.” Om die makou se bene was ’n blou tou gekoek. Dit het deur sy vlerk gegaan en om sy bek gehaak soos hy probeer het om los te kom. Maar hy het geweet waar om hulp te kry. Die vrou wat hulle met soveel moeite grootgemaak het, sou hom kon help. En sy het. Nadat sy die toue van sy bene afgesny het, kon hy weer die pad noorde toe vat.
Maar selfs die yskoue Vrystaatse winter duur nie vir altyd nie. Seisoene kom en gaan. En op ’n dag, toe dit al ’n bietjie warmer was, het drie uitgegroeide makoue ’n draai om ’n plaashuis gaan vlieg. Hulle het die son van die suide kom opsoek en reguit hulle pad gevind na die bekende stem wat hulle al meer as een keer huis toe geroep het. Die makoue was terug.
