
As jou lewe glad verloop, is dit maklik om tevrede te voel. Sodra daar egter ’n krisis opduik, verdwyn dié gevoel gewoonlik vinnig. Dit is dalk tyd dat jy dankbaarheid reg moet benader en verstaan.
Jy gaan sit met ’n koppie koffie in ’n hoekie van die tuin. In die takke van die groot ou wildeolyfboom kwetter die voëltjies vrolik. Vandag irriteer dit jou, want jou gedagtes is sommer deurmekaar. Vandat jy uitgevind het jou ouers gaan skei, rebelleer jy heeltyd in jou hart. Hoekom nou, na al die jare van saamwees? Die vraag maal deur jou kop. Jy voel verlate en bedrieg. Is ’n Christen se lewe dan nie veronderstel om altyd reg uit te werk nie?
Jy weet jy moet meer dankbaar wees, maar daar is so baie dinge waaroor jy stres dat jy net nooit tyd kry nie. Jy is gedurig angstig en bekommer jou oor alles. Hoe is jy veronderstel om dankbaar en tevrede te wees as dít is hoe jy voel?
Om ’n dankbare mens te wees is nie altyd so eenvoudig nie. Jy sal eers jou houding moet verander en leer hoe dit nou eintlik werk.
Jy kry die voordeel deur dankbaar te wees
Het jy al mooi gaan dink oor hoe jy probleme in jou lewe hanteer? Jy fokus dalk so daarop dat dit later al is waarom jou gedagtes draai. Jy dink: Maar ek móét mos hieroor bid en vir ’n oplossing vra! Dis goed en wel, maar vra jy net aanmekaar, sonder om ook dankie te sê?
Gebed is miskien vir jou soos ’n wenslysie vir Kersfees: Jy het die een geskenk na die ander (probleem) waarvoor jy bid. Maar daar is nooit tyd om die pakkie versigtig oop te maak en dit te geniet as jy kry waarvoor jy gevra het nie. So bestaan jou hele lewe later net uit vra, vra, vra.
Miskien is jy iemand wat maklik ongeduldig raak – jy wil dadelik resultate sien. Jy word sommer kwaad as jy moet wag vir ’n antwoord. Jy het mos nóú hierdie ingryping nodig, nie later nie! Ongelukkig is daar nie altyd ’n kitsoplossing nie.
Dit gebeur ook maklik dat as jy wel ’n antwoord kry en ’n saak word opgelos, jy dit onwetend beskou as iets wat maar in elk geval sou gebeur het. Jy dink dis blote toeval dat jou probleem verdwyn het. En so skiet ondankbaarheid wortel in jou hart.
Dankbaarheid haal die angel uit bekommernisse; jy fokus nou nie meer op die probleem nie, maar glo alles sal reg uitwerk. As jy onthou hoe jy in die verlede gehelp is, sal jy vorentoe soveel makliker weer kan vertrou. Jy sal nie noodwendig oplossings en antwoorde op elke dag se gebede kry nie, maar as jy later terugkyk, sal jy baie maniere sien hoe daar in jou lewe ingegryp is; hoe gebeure en mense gestuur is om jou te help.
Namate jy leer om jou fokus te verskuif, sal jy spontaan begin dankie sê vir dingetjies soos reën, ’n goeie nagrus en ’n veilige rit huis toe. Jy sal agterkom hoe “ryk” jou lewe eintlik is. Aan die ander kant, as jy altyd fokus op wat jy nog wil hê, sal jy voel dat jy net nooit genoeg het nie.
Jy mág die probleem raaksien en noem
Jy weet nou jy moet dankbaar wees, want dis goed vir jou. Maar as die berg wasgoed net groter word en jou huis voel vir jou soos ’n projek wat nooit klaarkom nie, is dankie sê heel laaste op jou lysie. As jou dag reeds oorvol is en jy dink jy moet net altyd alles vir almal wees, voel jy nie baie lus om nog tyd te maak om jou seëninge te tel nie. Jy voel totaal oorweldig en terselfdertyd skuldig omdat jy heeltyd in jou gedagtes met alles besig is. Miskien moet jy maar net maak of hierdie gevoelens van wanhoop glad nie bestaan nie, en dit êrens in ’n hoekie van jou hart invee en aangaan.
Dis egter nie wat God verwag óf vir jou in gedagte het nie. Paulus sê nie verniet dat ons ons begeertes “met danksegging” aan Hom bekend moet maak nie. Ons hoef nie voor te gee dat ons geen bekommernisse het nie.
Ons mag al hierdie dinge met vrymoedigheid opnoem. Dis nie die bedoeling dat ek en jy emosies soos smart, woede of twyfel moet wegsteek of ignoreer nie. Jou Vader gaan stelselmatig saam met jou deur elke probleem terwyl jy dit opnoem. Hy verstaan jou beter as wat jy jouself verstaan – Hy het jou dan gemaak!
Maar jy moenie vergeet om te sê wat jy alles waardeer nie. Jy sê in die eerste plek nie dankie omdat jou gebed verhoor sal word nie, maar omdat jy weet daar word bemoeienis met jou gemaak. Jy is tevrede dat jou hemelse Pa vir jou net die beste beplan en saam met jou dra aan elke ding wat jou lewe versuur.
Daarom loop jou hart oor en kan jy nie anders as om bly te wees nie. Later sal jy agterkom dat jy nie dankbaar is omdat jy vrolik voel nie, maar vrolik is omdat jy dankbaar is!
Dis ’n goeie plan om die dinge waarvoor jy bid en die antwoorde wat jy kry, êrens neer te skryf. Dit sal jou minder gespanne laat voel oor die toekoms. Jy weet dat daar agter die skerms vir jou gewerk word en jy voel gekoester in liefde – daar is Iemand wat heeltyd na jou kyk en vir wie dit saak maak wat met jou gebeur.
Jy moet altyd dankie sê, in goeie en slegte tye
Die meeste mense voel net dankbaar as hulle duidelik kan sien hoe hulle in moeilike tye gehelp word. As alles maklik en reg verloop, sonder struikelblokke, dán sien jy kans om dankie te sê. Dan het jy elke oggend ’n wip in jou stap en is die lewe ’n lied. Die werklikheid is dat ons almal van tyd tot tyd probleme het. Beproewings kom in baie gedaantes en teiken jou gewete, jou hoop en jou drome, en jou vertroue.
Ons moet eerder op ’n nuwe manier leer dankie sê – om bly te wees oor enige situasie wat ons dwing om op God te vertrou. Ons skop gewoonlik daarteen, want niemand voel besonder gelukkig oor moeilikhede nie. Dit laat ons bang en ontevrede voel.
Maar het jy al daaraan gedink dat jy nie bly hoef te voel oor hierdie ding wat jou pla nie? Jy kan doodeenvoudig dankie sê vir hierdie spesifieke probleem, sonder om in jou hart te juig daaroor. Die één ding waaroor jy immers beheer het, is jou ingesteldheid. Jy ken seker die gesegde wat lui: “When life gives you lemons, make lemonade!” Miskien word daar vir ons suurlemoene uitgedeel sodat ons tot stilstand kan kom en weer op die regte dinge begin fokus ...
Hierdie ingesteldheid is ’n daad van geloof waar jy ten volle vertrou dat alles, ook die slegte dinge, jou nader aan jou Skepper sal bring. Moeilike omstandighede word gebruik om jou te verander en te ontwikkel sodat julle verhouding kan verdiep.
Wanneer jy af en toe terugkyk, sal jy die talle goeie dinge raaksien wat saam met die moeilike tye in jou lewe gekom het. Die uiteinde sal wees dat jy met algehele oorgawe kan leef – nie omdat jy skielik meer vertroue in die toekoms het nie, maar omdat jy vertrou op die Een wat alles in Sy Hand hou.
Wanneer jy nie die goeie dinge raaksien nie, vreet dit ’n gat in jou geloof en veroorsaak dit dat jy bang is vir die toekoms. Dit beteken dat jy eintlik nie ten volle vertrou nie. Dankbaarheid gee erkenning aan God se liefde, sorg en voorsienigheid.
Dit gee ons ’n kykie in ’n groter werklikheid, want dit erken en hou ons in voeling met Sy ware natuur – ons leer Hom dus beter ken. Dankbaarheid maak dit wat jy het, genoeg en verander dit selfs in oorvloed. Met so ’n nuwe houding teenoor die lewe sal jy ’n vrou kan wees wat met oortuiging sê: “Alles is reg, al is alles verkeerd!”
